Liefde is … St. Francis van Assisi
Al lees mens net die woorde van die lied van St. Francis van Assisi, kom mens gou agter dat dit iemand was wat groot deernis en empatie vir sy medemens gehad het, iemand wat bereid was om die ekstra myl te stap om die lewe vir ‘n ander effens makliker te maak. Mense wat goed ingeburger in selfsugtigheid en ego is, kán nie sulke woorde op papier laat val nie.
“Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
waar haat is, laat ek daar u liefde bring.
Laat ek in pyn en smart vertroostend wees en krag gee deur geloof in U, o Heer.
O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.
Laat, Heer u vrede deur my vloei…
en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal.
O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.
Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
leer my om ook soos U te kan vergeef.
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien.”
Dit is aangrypend om te dink dat hierdie man byna ‘n duisend jaar gelede geleef het en so ‘n impak op sy medemens en omgewing gehad het dat hy op 16 Julie 1228 as heilige verklaar was. Dit is ‘n verhaal van lank-lank gelede, en sy toewyding aan God word uitgedruk deur sy liefde vir alles en almal wat op die aarde beweeg het – mens en dier.
Nou en dan neem ek kennis van ‘n geleentheid in nagedagtenis van St. Francis waarheen diere gebring en geseën kan word. As Protestant vind ek hierdie gebruik effens vreemd, nietemin stroom die mense in groot getalle daarheen. Of dit enigsins ‘n verskil aan die troeteldier maak, is seker vir elkeen om te besluit. Maar ek stem egter saam dat wanneer ‘n persoon homself as instrument van God sien en hom daarin uitleef om die hande en voete van Christus te wees, verlig jy die pyn en hartseer van die wêreld ‘n klein bietjie.
2 Kommentare
-

Kiekies
Baie goeie skryfsel om te lees!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2018 projek