
Pak vir my ‘n tas vol Lente
Pak vir my ‘n tas vol Lente
Pak vir my ‘n tas vol lente
met swaargevulde parfuumboeket
malse geure wat nuwe kleure oop palet
in groen geel oranje wit en rooi getooi
Pak vir my ‘n tas vol lente
van haar waterval se wasem-asem
haar kronkelende riviere en fonteine
en soet kabbelende waterstrome
Pak vir my ‘n tas vol lente
van haar koringlande en canolavelde
lappies-geel en groen-puzzle stukke
wat uitgenooi my Monet skildery voltooi
Pak vir my ‘n tas vol lente
van Kammieskroon tot Kommagas
waar klawer dans in blommeprag
die San by Kwatu kadriel in lewenslag
Pak vir my ‘n tas vol lente
vol sporrie, bitterbos en botterblom
hotnosvy, kelkiewyn en bergkambroo
en vygies wat vrolik rieldans in die son
Pak vir my ‘n tas vol lente
met gousblom perdebos en madelief
met die uitgesterkte Tankwa velde
en Namakwaland se songeeltafereel
Pak vir my ‘n tas vol lente
wat vertel van ambriosale wonderwerke
en botterblom juweeltjies wat hang
soos musieknote aan elke tak en steel
Pak vir my ‘n tas vol lente
van ‘n stergevulde Bosveldnag
die geblaf van die rooibokram
en die skuifeldraf as die hiëna lag
Pak vir my ‘n tas vol lente
want ek wag vir karmosyn getooide môres
tot winterkou ‘n nuwe lente-embrio soog
wyl die kaggelvuur die kou’ uit my lende hou
alles is ysig, en Morbied sit styf in my lyf gevou
ek wil vergeet … ja vergeet van winter se vriesende ysterklou
… pak vir my ‘n tas vol lente asseblíef!!
©️Riana Crafford
1/8/23
2 Kommentare
-
Anze
onbeskryflik mooi geskryf en voorgedra Riana
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Amazon
Puik gedig Riana....