
Plakkers in koudwees
Plakkers in koudwees
Wintervingers knel koud en styf
om ‘n bibberend tandknetterend lyf
sopas uit sy plakkershuis verdryf
Houe reen, versplinter glas
dit wat is, is nou was
waarheen nou ‘n bittere las
Sinke wieg, kantel, val stofslag neer
meer en meer en meer
handwringend staan hul daar, sonder hoop, sonder keer
Die vriesende nag vou sy arms om
liggame, siele dom
van waar sal enige genade kom
Moeders gooi hul laaste verflenterde kleed
oor hul koue rukkende leed
terwyl koue yskoue vingers hul pad verbreed
Vaders kniel sonder hoop biddend neer
offer hul harte aan hul Heer
om tog die koue van hul af te weer
Slegs ‘n koue ingetrekte stywe hoop
totaal van menswees afgestroop
lê ‘n yskoue bondeltjie kleinwees waar mensevoete loop
want gister se koue neerslag is vandag die dood
en die geweenklaagnoot
verstil by die yskoue graf sonder ‘n woord
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.