Resensie: ‘n DORP SIEN SWART, die film
‘n DORP SIEN SWART, die film
Weereens twee inleidings:
I. Europa word oombliklik deur vlugtelinge só oorloop, oorvloed dat sommige mense reeds sedert geruime tyd roep, „Die boot is vol, die boot is vol! Soek ‘n ander strooihalm voordat ons ook kenter!” Lidstate wat weier om die Europese riglyne in ag te neem, word voor die Europese Geregshof aangekla. Veral die arm state wat onlangs nog tot die Oosblok behoort het. Buitendien is daar mense wat al dekades lank in Europa woon. Toe ons in Italië vakansie gehou het, is ons bus by elke plek waar ons stilgehou het deur „Senegalese” bestorm, en ons moes toe van hulle iets koop: klerehangers, sonbrille, seep, nekdoeke, bofbalpette (weetmos) — net nie swart sakke nie! Senegalese? Senegalese? Wat soek die Senegalese hier? Dit was etlike jare gelede. Nouja!
Ek het al ‘n paar films geresenseer oor wettige en onwettige immigrante, ook asielante, wat met uiters lang tande „verwelkom” word. . .
☆
II. Die films, aai, die films! Dan is daar ook nog films wat reëlreg propageer – ja, pledeer – dat vreemde mense in die geselskap opgeneem en integreer word. „Hulle is mos ook net mense soos ek en jy!” Daar’s bittermin tonele waar die inheemse (die Europeërs) beleef dat hierdie mense dóg anders is. Dit is meestens in die wintertonele wanneer hulle onder die koue ly. Kyk gerus in my ander resensies oor immigrasie en integrasie.
☆
[Bienvenue à Marly-Gomont (Fr. Oorspr.) / Ein Dorf sieht schwarz (Dt.); 2016, F; regie Julien Rambaldi en Kamini Zantoko; 96 min.]
☆
Die dorp Marly-Gomont het geen mediese dokter nie en die burgemeester gaan jaar-vir-jaar na die gradverlening en soek onder die pasuitgebroeide jongartse iemand om in die bres te spring. Ofskoon die dorp nie alte ver van Parys is nie, geld dit as „diepste provinsie”, aldus „daar doer op die platteland”, en jaar-vir-jaar wil geen vis byt nie. Tot Seyolo Zantoko aus Zaïre hom vrywillig aanmeld. Hy wil nie terug na sy tuisland en die korrupte Mobuto-regering nie, maar wil hê dat sy twee kinders ‘n sekere toekoms het. Hy laat vrou en kinders kom, en hulle trek in die huis in wat die munisipalitieit vir die nuwe dokter voorsien.
Aanskynend weet die dorpenaars niks van swartmense nie (Dit moet ons glo – dis reeds die jaar 1975, maar ons moet dit glo). Hy gaan reëlmatig saans na die kroeg om die dorpenaars te leer ken (en leer in sy leegstaande praktyk pyltjies gooi tot hy dit perfek bemeester). Dis herfs en word al hoe winterliker, maar die pasiënte kom en kom nie. Die krag is af want hulle kan nie betaal nie, en dit word koud en kouer. Gelukkig is daar éen vriendelike boertjie daarnaby wat Seyolo as stalkneg aanstel; maar die kinders word op skool „gemob” en die vrou is bitter teleurgestel want dis glad nie Parys nie maar. . . platteland. Haar eerste telefoonrekening beloop 4 000 Franc – want sy „het nie geweet dat dit so-o duur is om na Zaïre aan te roep nie”. En die siekes ry liewer kilometers ver as om deur hom behandel te word.
Tot sy seun eendag ‘n klasmaatjie huistoe bring wat ‘n slegte uitslag het, wat hy suksesvol behandel. Daarna word hy dringend na ‘n geboort uitgeroep. Die ouers van die meisie en die trots vader loof hom oral waar hulle kom en gaan . . .
Seyolo se dogter kan beter sokker speel as al die seuns op die dorp en die dorpspan wen ononderbroke. . .
En so word die weg voorberei vir die slottonele waar almal vriendelik-stralend op ‘n integreerde toekoms kyk.
☆
Nee, ek weet nie of dit ‘n reëlregte propaganda-film is nie, maar dit werk so, dit gee die indruk dat dit „’n boodskap dra”. Die filmmakers het die voordeel, miskien ‘n troefkaart in die hand, want hulle kan sê dat dit op ‘n ware begewenheid berus: Hierdie dokter hét op hierdie plek gepraktiseer, het gesterf en lê daar begrawe. Sy seun het aan die draaiboek saamgewerk en was mederegisseur van die film.
Dit is ‘n goeie storie, goed vertel, goed gespeel, maar dit verdien geen handvol sterre nie.
Twee of drie vir ‘n normale familie-drama – hierdie kant van die Limpopo. Maar in die res van die wêreld (dis nou by julle) swakke twee liggies ás dit ooit gemeet kán word.
©.2017………………………..c]:o(☆☆(o;Þ…………………………………..tje
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.