Jongste aktiwiteit:

Rosie in die supermark

Rosie in die supermark
Toe ons in Tanzanië aankom het, het ons ’n huishulp gehad met die naam Rosie. Rosie was ’n aangename persoon, maar kon nie ‘n woord Engels praat nie, sy kon net Swahili praat. Ons kon Engels praat, maar natuurlik geen woord Swahili nie.
So gebeur dit dan dat elke ding na gekyk word en die Engelse naam sowel as die Swahili-naam genoem word en so leer ons basiese Swahili en Rosie leer basiese Engels. Dit gebeur dan ook alles tussen tuisskoling vir drie besige knape, almal in verskillende grade, en ons is Afrikaanssprekend, so dit was, van ‘n taalkundige oogpunt gesien, ‘n bedrywige tog leersame tydperk in ons huis.
Dit het nie lank geduur nie of ons was almal so ‘n basiese Swahili magtig en kon darem uitvra oor pryse of ordentlik groet en selfs onderhandel met verkopers. Rosie het gou die Engels baasgeraak en dit was nie lank nie of sy kon die seuns en die honde in vlot Afrikaans uitjaag terwyl sy vloere skoonmaak en in Swahili en Engels brom oor die modderspore op die kombuisvloer.
Kort na ons aankoms in Dar es Salaam het ’n groot ketting-winkelgroep van Suid Afrika besluit om ‘n paar winkels in Dar es Salaam oop te maak, en ek kry toe die kontrak om al hul advertensiewerk en ontwerpwerk te doen. Dit was goeie geld vir die firma, en natuurlik harde werk, maar ek het die werk geniet en almal was gaande oor die ontwerpe waarmee ek vorendag gekom het vir die koerantbylaes.
Elke drie weke is items teen afslagpryse verkoop, dan moes ek die items fotografeer, die blaaie ontwerp, die finale goedkeuring kry, dit laat druk en sorg dat dit betyds by die koerante afgelewer word en gevou en ingesit word, betyds vir die vroegoggend-oplaag. Dit het gekos dat ek partymaal baie laat in die nag nog in fabrieke rondstaan of baie vroeg in die oggende by drukkers opdaag, maar dit was lekker en ek het ‘n reputasie opgebou met tyd en was bekend as ‘n bekwame ontwerper en ook iemand wat seker maak dinge reg en betyds gebeur, elke keer.
Dit klink miskien bietjie na spog, maar gesien in die lig van die konsep van “Afrika-tyd”, is dit nogal ‘n prestasie. Afrika-tyd beteken daar is altyd môre tyd om klaar te maak wat jy nie vandag kon klaarkry nie. In Swahili is daar ‘n gesegde: “Haraka, haraka, haeina baraka” en dit beteken: “Met haas is daar geen seëning”, en dit is hoe meeste Tanzaniërs werk. Dus gebeur ding selde op tyd, en in die koerant-, druk- en advertensie-wêreld is tyd en tydsberekening van uiterste belang. Dus moes ek maar self in die fabrieke kyk en seker maak dinge word betyds klaargemaak.
As gevolg hiervan het selfs Rosie begin uitvra na my werksomstandighede, want volgens haar is ‘n man wat gedurig laat werk óf met ‘n buite-egtelike verhouding of ‘n drinkery besig, en sy wou nie vir so iemand werk nie. Ek moes haar toe neersit en verduidelik presies wat ek doen en hoe dit werk. Sy was baie beïndruk, maar het nie verstaan hoe ‘n selfhelp-winkel werk nie. In Tanzanië was daar in daardie stadium net een klein winkeltjie wat soos ‘n supermark gewerk het, en net buitelanders het daar gekoop. Die ander winkels, bekend as “dukas”, was almal van die tipe waar mens gaan redeneer oor die prys van elke item, jy sê dan jy wil dit koop en die winkelier sit dit in ‘n sakkie vir jou en slaan sy optelmasjien dat die springe spring om dan met ‘n finale prys vorendag te kom, en selfs dan redekawel jy nog so ‘n bietjie voordat jy betaal, maar altyd afgerond tot die naaste duisend, want dit is hoe dit nog al die jare gedoen word. So, in die lig hiervan, kan mens seker verstaan dat ‘n supermark ‘n baie vreemde ding was.
Rosie was natuurlik baie opgewonde oor die feit dat haar werkgewer juis die een is wat al die mooi pamflette maak, want sy het al die pamflette op straat gesien en almal was bewus van die nuwe winkels wat in die stad gaan oopmaak.
Op ‘n dag kom dit toe nou so dat ek juis die middag na een van die nuwe supermarkte moes gaan om bietjie te gaan kyk hoe dinge vaar en ook die grootbaas van die hele besigheid te gaan sien vir nuwe werksopdragte. Ek besluit toe om vir Rosie en ook vir Sarah, die bediende by die kantoor, saam te neem vir die uitstappie en hulle dan mooi te wys hoe dinge werk. Ek het gedink dit sal nou ‘n aangename ondervinding wees, en net daar besluit die hele gesin om ook saam te kom en toe word dit ‘n hele swerm van ons wat op die spesifieke winkel toesak.
Die winkel was die eerste een van die spesifieke groep wat opgemaak het en ook die eerste supermark in die eerste winkelsentrum in Dar es Salaam. Daar was selfs n parkeergarage in die gebou en ook ‘n hysbak met ‘n glas-voorkant. Ek verduidelik toe in Afrikaans aan my gesin wat die plan dan nou is, en ons stem toe almal saam om die twee dames sommer lekker touwys te maak en ook natuurlik ‘n poets of twee te bak.
Eers pak ons almal in die viertrek-stasiewa en vertrek stad toe. Daar aangekom, ry ek in die gebou in en ry al in die rondte tot op die tweede verdieping waar ek toe parkeer. Toe is Rosie en Sarah al twee al vaalgrys van vrees, want nog nooit het hul in ‘n voertuig binne-in ‘n gebou teen ‘n so ʼn helling opgery nie. Ons is natuurlik gewoond aan sulke manewales, want ons doen dit al van kindsbeen af, maar vir hulle was dit ‘n heel nuwe belewenis.
Daarna stap ons die entjie na die ingang en skielik bevind hul hulself binne ‘n winkelsentrum, een gebou met verskei winkels aan die binnekant, ‘n baie hoë dak en ‘n groot wandel-area in die middel. My oudste trek toe hul aandag so bietjie af en hulle stap blindelings saam met ons in die hysbak in. Toe die deur toegaan, raak Rosie so effens verbouereerd, maar toe sy omkyk en sien daar is “niks” tussen haar en twee verdiepings nie, gee sy net een gil en gryp my jongste om die nek. Sarah wat onbewus was van alles kyk toe ook op hierdie stadium deur die glas en raak asvaal van die skrik. Intussen begin die hysbak daal en ek sien duidelik die verligting op hul gesigte toe die deur oopgaan en ons almal op die grondverdieping uitklim. Die drie seuns is natuurlik buite hulself soos hulle lag en elkeen gee vir Rosie en Sarah ‘n lekker stewige druk net om hulle te laat ontspan. Die dames het op die stadium ook al vir hulself begin lag, want hulle kon toe opkyk en sien hoe die hysbak nog mense van bo na onder karwei.
Ek verduidelik toe vinnig, met behulp van my seun se tolkvermoë, dat al die pryse vir al die items op die items self is, en dat hulle nie kan stry oor die pryse nie, maar moet betaal wat die totaal is, en dat die items wat hulle koop vir hulle in ‘n pakkie gesit sal word. Die seuns word toe ook afgevaardig om te help waar hulle kan en my vrou bied ook toe aan om raad te gee want ek moes natuurlik die kliënt gaan spreek terwyl hulle nou besig is met hul aankope.
Dinge verloop toe heel goed en ek is in die kantoor terwyl al die items op al die rakke versigtig bestudeer word en lang gesprekke oor die pryse en die kwaliteit gevoer word. Die dames was aangesê om al die pryse van items wat hulle in hul mandjies sit, op te tel voordat hulle by die betaalpunt kom, sodat hulle nie ‘n tekort aan geld sal hê as hul moet betaal nie. Die mense doen dit in die dukas, en dan stry hulle oor die finale bedrag, want dit is waaraan hulle gewoond is, maar in hierdie supermarkte werk dinge mos nou nie so nie.
Nadat my samesprekinge afgehandel is en ek my notas opgevou het en die kliënt gegroet het, is ek ook maar die winkel in om my gesin en die huishulpe te soek en te sien hoe dinge vorder. Ek vind toe dat my vrou en die twee jongstes klaar is met hul aankope en gou na ‘n naburige materiaalwinkel gegaan het om te kyk na materiaal daar beskikbaar is. Sarah en my oudste seun was besig om met die bakker te gesels oor marmelade in ‘n koek wat veronderstel was om appelkooskonfyt in te hê. Sarah wou weet wat dit is, my seun het probeer uitvind of die bakker weet wat hy doen en die bakker wou weet wat die probleem is. Dit was ‘n ingewikkelde storie en my Swahili was nie opgewasse vir die gesprek nie, toe gaan soek ek maar vir Rosie om seker te maak sy het nie ook ‘n probleem nie.
Soos ek om die laaste winkelrak kom sien ek die onderonsie by die betaalpunt en ek sien Rosie se oë wat wyd soos twee pierings gerek is, vinger in die lug, hand op die heup en die mond werk soos ‘n windmeul in ‘n Kaapse suidooster. Ek gaan soek toe maar die res van die gesin en ons kom toe almal weer by die voertuig uit en vertrek huiswaarts.
Op pad huis toe het Rosie ons toe, met handgebare en tongklik en groot oë, met die vertolking deur die seuns, presies verduidelik wat daar gebeur het.
Toe sy by die betaalpunt opdaag en haar goed neersit sien sy hoe die dame wat die inpakwerk moet doen, bo-op die toonbank sit. Die dame weier toe om Rosie se goed in ‘n pakkie te sit, want sy sê toe sy pak nie goed in pakkies vir mede-Tanzaniërs nie, net vir buitelanders. Rosie, nie een wat maklik geïntimideer word deur sulke gedrag nie vertel toe vir die dame presies wat sy van haar lui houding dink.
Sy vertel toe ook sommer vir haar ook dat dit mense soos sy is wat Tanzaniërs ‘n slegte naam gee. Met die merk sy toe een van die pamflette wat ek ontwerp het op die toonbank. Net daar skep sy toe nuwe asem en verduidelik net mooi vir die dame dat dit haar baas, wat hierdie einste pamflette ontwerp. Sy wat luiaard is moet ook verstaan dat hierdie pamflette die rede is hoekom meer en meer mense in die supermarkte kom koop en dus genoeg geld in die besigheid indruk sodat sy, luiaard wat sy is, ‘n salaris kan verdien wat meer is as wat baie ander van haar landsgenote ooit sal verdien. Daarom moet sy dankbaar wees vir die werk wat sy het, en haar werk sommer reg en vinnig doen, want sy wat Rosie is, sal haar baas vra om die grootbaas van die winkelgroep, wat terloops ook ‘n baie goeie vriend van Rosie se baas ook is, om te sorg dat sy wat so verdeksels lui is en nie haar werk wil doen nie, afgedank word. Verder moet sy dan ook sommer weet dat hierdie oppervlakte vir kos en kruideniersware is en nie vir haar wye, vet boude nie. En hiermee word die vertelling toe afgesluit met ‘n tongklik en en diep frons.
Sarah is sommer diep ontstoke oor die lui vroumens en stem met Rosie saam, en ons ander kraai van die lag vir die hele episode, alhoewel dit baie waarhede bevat. Ek het Rosie vreeslik geprys oor haar wysheid en ook oor haar lojaliteit, en dan ook maar liewer versuim om die verhouding van adverteerder en kliënt te probeer verduidelik, want ons was nog ver van daardie sensitiewe tipe verduidelikings.
Daardie aand, gedurende ete het ons weer lekker gesels en gelag oor Rosie se tirade teenoor die lui verpakker, maar ek kon nie help om stilletjies dankie te sê dat die konsep van goeie dienslewering by een huishulp posgevat het nie. Ek kon nie help om my seuns, op grond van die episode, te verduidelik wat dienslewering is en die belangrikheid daarvan nie, want hulle het my vlak van dienslewering ervaar en nooit bevraagteken nie, maar dit was vir hul verwyderd uit hul eie werklikheid, dit was my werk en het min impak op hulle gehad, of so het hulle gedink tot in daardie stadium.
Vandag is ek terug in my tuisland, Suid Afrika, en ek beleef die uiters swak dienslewering van sekere mense en mensegroepe, van staatsdepartemente en van groot en klein sakeondernemings, en ek wens ek kan ‘n paar duisend Rosies op hulle vrylaat om vir hulle presier te verduidelik, vinger in die lig en hand op die heup, hoe en wat en waar dinge vinnig moet gebeur, en waar hulle mag en nie mag sit nie.

© Grootvissie
Julie 2017




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed