Jongste aktiwiteit:

Kuifie en die Zanzibar spinnekop

Kuifie en die Zanzibar-spinnekop

As mens in die strate van Stone Town, Zanzibar, loop is die argitektuur asook die plavei-straat en die historiese eenvoud baie interessant. So loop ons dié snikhete dag in Stone Town, op soek na lafenis en eetgoed. Dis elke dag snikwarm met temperature in die hoë twintigs en die lae dertigs en humiditeit tussen tagtig en negentig persent. Plakkies en kort broeke met t-hemde is die drag, en ‘n ligte sonhoed as dit dan nou nodig is. My seuns en ek is nie een hoeddraers nie, maar die manne en ek is almal t-hemp draers en dus is ons altyd op die uitkyk vir interessante t-hemde, selfs hier. Ek stuur hulle al van kleintyd af weg van die moderne handelsmerke, want sulke geld betaal ek nie vir ‘n stukkie lap nie, dus moet die hemde uniek en interessant wees om hul te oortuig.
Die strate is baie smal en op party plekke kan ons met uitgestrekte arms weerskante van die straat aan die geboue raak. Die geboue is oud, baie oud en krummelrig, en party lyk of hul nou-nou gaan intuimel. Die boustyl is nog van so aard dat die tweede verdieping effe wyer as die grondverdieping gebou is om die druk op die vloer te verlig, dus word die gebou effens wyer boontoe, wat dan die bou van baie hoë geboue belemmer. Dit skep ook die gevoel dat die strukture gaan omtuimel, veral as mens na die smal blou lugstrepie kyk en sien hoe al’s wyer word boontoe.
En dit stink, want die rioolstelsel is baie oud en afgeleef, maar die mangate in die baksteenpaadjies is met metaaldeksels bedek wat nog die embleem van die sultan van Zanzibar dra. Zanzibar het in die sestigerjare deel van Tanganjika geword om die nuwe Republiek van Tanzanië te vorm. Voor dit was die eilandgroep onder die beheer van die sultan, ‘n familie wat tot vandag baie aansien op die eilande sowel as die vasteland geniet.
So stap ons volgens die toeristekaartjie se aanwysings, maar ons is nie toeriste nie. Ek werk in Tanzanië en dus is ons daar op werk- en verblyfpermitte, wat dinge bietjie makliker en goedkoper maak, as jy weet hoe en jy kan so bietjie Swahili, die voertaal, praat.
Net toe ek voel ons gaan nou vir die sesde keer dieselfde draai maak en weer ‘n keer by die steenkoolverkoper verbyloop, kom ons op ‘n klein plein in die middel van die stad. Ongeveer so honderd by honderd meter met palmbome en winkeltjies en, dankie tog, ‘n eetplekkie wat die nodige koue gaskoeldrankies in glasbotteltjies verkoop. Dadelik word rugsakke neergesit en ‘n tafel geannekseer, geld word vinnig vir my oudste seun gegee, want hy praat die taal die vlotste van ons almal, met instruksies om die vyf koudste koeldranke aan te skaf, sowel as om uit te vind wat te ete bekombaar kan wees en sommer ook om die winkelier instruksies te gee om nog vyf botteltjies dadelik diep in die ys te begrawe vir latere gebruik. En daar sit ons. Die eerste bottels arriveer en ons drink hard en lank voordat die twee jongstes al twee gelyk massiewe winde opbreek en skaterlag van die lekkerkry. Soos enige goeie pa vermaan ek hulle, maar lag tog so by myself, want ek was mos ook kind gewees. Die dreuning van die gelag sit ‘n paar jong dametjies wat eenkant sit en probeer kikoi’s en ander lapgoed verkoop, ook aan die giggel. My vrou, wat altyd na ‘n lap van soorte soek en ook bietjie Swahili magtig is, staan op en gaan doen die nodige inspeksie met die nodige gegroet en glimlag en gesels, soos haar taalkennis dit sal toelaat natuurlik. Ek suig rustig aan die laaste van my koeldrank, dankbaar om net bietjie te kan sit.
My oudste het meegedeel dat ons gebraaide hoenderporsies met skyfies kan aankoop teen ‘n billike prys. Hy vertel die plek lyk skoon, die hoender lyk vars en die skyfies moet nog gemaak word, dus is hulle ook vars. Dis maar altyd iets waarna mens moet omsien, want die maag en gister se halfgaar hoender werk nie mooi saam nie. Ons het vyf porsies bestel, tesame met die tweede groep koeldrankies wat hopelik teen daardie tyd yskoud sal wees.
Soos dit jong seuns betaam. kan my drie nie lank sit nie en ‘n verkenningstog na die winkeltjies en ander stalletjies word geloods. Ek vermaan hulle om nie uit die pleintjie te gaan nie, maar ek is ook rustig, want die norm in Tanzanië en Zanzibar is dat kinders almal se kinders is en niemand sal ooit ‘n kind molesteer nie. Daar trek hulle toe en ek hou maar ‘n ogie oor hulle asook oor die laptransaksie wat deur my vrou beklink word. Ek word glimlaggend ingelig dat die lappe wat nou in my rugsak gestop word, vir gordyne gebruik gaan word. Daar is ook ‘n nuwe kikoi (omdraaidoek wat mans om die lyf draai in die privaatheid van hul huis) vir my is, want dis kwansuis baie goedkoper as op die vasteland. Die gegiggel vanuit die rigting van die verkoopsdames met hul Arabiese gelaatstrekke laat my anders oor die prys dink, maar ek bewaar die vrede, glimlag en geniet die oomblik.
Met ‘n groot lawaai en baie armgeswaai en opgewondenheid kom die twee jongste seuns by ons aangestorm. Daar is blykbaar ‘n winkel, net daar op die hoek, wat t-hemde verkoop met afdrukke van Kuifie voorop, en ons moet nou dadelik, sonder versuim alles net hier los en soontoe om ondersoek in te stel. Nadat ons die mannetjies gekalmeer het gaan ons vier manne toe maar na die winkel en los my vrou met ons rugsakke en die nuut aangekoopte lappe, om die nuwe skatkis van t-hemde te gaan ondersoek. Op pad begin ek weereens die voor- en nadele van duur hemde bespreek, maar voor ek by die verduideliking oor koste teenoor prys kan uitkom, is ons reeds daar.
Die Indiese dame is, soos hul almal is, oorlopend van vriendelikheid, soveel so dat ek wonder of ons dalk familie kan wees. Die manne tel hemde op en wys en kies en lag, terwyl ek in gebroke Swahili probeer uitvind hoeveel elk van die hempies my nou uit die sak gaan jaag. Die Indiese dame hoor ek sukkel, slaan oor in Engels en met ligte kopskud en groot glimlag verduidelik dat sy net die beste prys en beste kwaliteit het, en as ek miskien twee of meer sal koop sal ek ook ‘n aansienlike afslag kry. Ek het dit al alles vantevore gehoor, ek werk dan selfs vir ‘n Indiër en ek verstaan die hele proses al te goed, daarom glimlag ek tevrede en besluit self hoe die onderhandelinge sal geskied.
Ek laat die drie seuns toe maar elkeen twee hemde kies, want nuwe klere is peperduur in Oos-Afrika en die hempies is darem ook iets uniek. Ons vriendelike winkeldame lig my toe met meer kopgeskud en glimlag in dat sy ook hemde in my grootte het, indien ek sou belang stel. Wel, hier slaan sy toe ‘n groot kishou, want hemde in dubbel X met ‘n L is haas onverkrygbaar, ek is mal oor t-hemde met strokiesprente voorop, en die prys is eintlik spotgoedkoop gemeet aan al die ander oorwegings, soos inkomste, huidige beskikbare geld, nodigheid van hemde en dies meer. Ek koop toe sommer drie vir myself en twee vir elkeen van die seuns. Met hierdie aankoop neutraliseer ek dan ook die lapaankope van vroeër en dus sal enige kommentaar of kritiek maklik die nek ingeslaan word en die vrede sal seëvier, want sy verstaan sulke dinge.
Met ons nuwe aankope, waarvan die twee jong manne reeds elkeen een aangetrek het in ruil vir hul redelik vuil hempies van ons langnaweek se uitrustings, gaan ons toe weer in die namiddagson in om by ons tafel te ontspan, net om te vind die tafel is leeg, die rugsakke is weg en my vrou, die ma van my kinders is skoonveld. Ek skrik my boeglam en die manne raak skielik baie stil. Ek, die langste van ons vier, gewaar skielik ‘n waaiende arm en ‘n bekende sonhoed agter n palmboom by ‘n ander tafel, en ek stuur die manne soontoe terwyl ek die nuwe sitplek en die omgewing vinnig beloer vir ongewensde vreemdelinge.
Nadat die opgewondenheid van ons hemp-aankope bedaar het en toe die gebraaide hoender en skyfies al halfpad op is, vra ons toe maar uit na die skielike verskuiwing na hierdie posisie. Sonder ‘n woord, maar net met groot oë en ‘n uitgetrekte arm, beduie my vrou na die boom bo ons vorige tafel, wel, eintlik na die area tussen die twee bome weerskante van ons vorige tafel, en daar sien ek dit.
Die grootste geel en swart spinnekop wat ek in my lewe nog gesien het. Sy web is tussen die bome gespan en ta sit daar in die middel van die web met uitgestrekte pote en wag, seker om ‘n voël of ‘n vlermuis te vang, want ‘n spinnekop van sulke dimensies leef nie van insekte nie. Ek is self nie bang vir spinnekoppe nie, wel vir rotte, maar nie vir spinnekoppe nie, maar ek sal dié ene as Meneer aanspreek, met hoofletter M. Hy, sy, dit is enorm en ek is seker die ding is die resultaat van piesangs en warm sonskyn, gepaardgaande met vars lug en geheime gasse wat net op die eksotiese eiland van Zanzibar voorkom.
Nietemin wil die seuns almal inspeksie doen en die moontlikheid om dit te vang en huis toe te neem as ‘n troetelspinnekop word ernstig tussen die drie bespreek. Ek moet hul daarop wys dat die vervoer van lewende goed tussen die eiland en die vasteland aan invoerkostes en ander wette onderhewig is, terwyl my vrou hulle daarop wys dat sy ons as gesin gaan verlaat indien ons daai gedierte naby aan ons huis bring. Ek weet nou nie wie se argument die meer oortuigende een was nie, maar die monster-spinnekop is darem toe in vrede gelaat.

Nadat ons nog verwyl het en die laaste hoender en skyfies met die laaste koeldrankie afgewas het, is ons toe voort na die hawe om daar die veerboot terug na die vasteland en ons huis te kry. Die hoender en skyfies het ook toe maar in die Indiese Oseaan agtergebly en ek het weer by die huis ‘n broodjie met koffie geniet, tevrede, gesonbrand en gefassineer deur Zanzibar, en ‘n nuwe kikoi en drie t-hemde met Kuifie-afdrukke voorop ryker.

© Grootvissie
Augustus 2017




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed