Sending Verlangekraal 2229 Woorde Goud
Die klein Volkswagen kewer spoeg ‘n paar keer voor hy sluk-sluk tot stilstand ruk. Rookwolke borrel by die uitlaatpyp uit en laat ‘n paar keffertjies vinnig terugduik onder die rooi palisades. Karlien ruk die handrem op toe die motor vanself agteruitbeweeg. Sy skrik toe ‘n skaduwee geruisloos oor haar gly.
Die opdrag was duidelik. Duistere dinge gebeur op Verlangekraal. Karlien moes haar koffertjie pak en haar rooi sportsmotor verruil vir die geel kewertjie wat Noag self aan haar besorg het. Haar pragtige goed versorgde naels moes af, kort en sonder politoer. Denim broeke, los hempies en moddertrappers maak nou die grootste deel uit van haar klerekas. Sy het dae lank in die stadsbiblioteek spandeer. Tot laataand toe tamatie kultivars bestudeer. Pynigend begin droom van blatjang en koeksisters wat haar jaag. Die ergste van alles was; sy moes ophou rook. Die stokkies vertroosting was al wat haar van Tara gered het. Sy het dit verruil vir smaaklose blokkiesgom wat soos ou rubber, haar tande vanself laat herkou het. Sy moes plaas toe.
Karlien voel hoe haar nekhare onwillekeurig op aandag staan. Sy swets liggies toe sy die enjinkap van die kewertjie met ‘n harde kraakgeluid oplig en weer toeklap. Tamaties ken sy, bak kan sy, maar kewerbinnegoed… nee hel, dis so Grieks soos ‘n Latynse woordeboek. Sy loer versigtig oor die dak van die kewer. Behalwe vir ‘n paar hondjies is daar geen ander teken van lewe nie. Karlien maak seker die kewer is gesluit voordat sy in die rigting van die flitsende neon bord begin stap. “Forest Haven”. Karlien skud haar kop. Wie sou so naam kies? Een van Amerika se dodelikste inrigtings vir geestes versteurdes. Die plek is in 1991 gesluit as gevolg van die wreedhede wat daar plaasgevind het. Sy skud haar skouers. ‘n Klein maltesie volg haar op ‘n veilige afstand. Sy vries in haar spore toe die hondjie skielik begin grom.
Karlien giggel toe sy die rede vir die grom geluide sien. ‘n Wit pappegaai sit vermakerig op sy stok voor die deur van Forest Haven. Sy koppie is vooroor gebuig en hy knip sy oë in die rigting van die poedel. Sy steek haar hand uit.
“Ek sal dit nie doen as ek jy is nie”
Karlien se hand ruk terug. Voor haar in die deur staan ‘n potsierlike ou mannetjie. Sy swart hare klou yl en olierig op sy voorhoof vas. Fronsplooitjies kompeteer vir spasie tussen sy ruie wenkbroue. Hy vryf sy pofferige hande terwyl hy haar van bo na onder beskou. Onbewustelik trek Karlien haar dun hempie stywer om haar bo-arms. Die mannetjie beduie na binne.
“Ek neem aan dis jou kewer wat voor Herman se huis staan.”
Karlien knik. Sy weet nou nie wie Herman is nie, maar dis die enigste Kewer in die straat; die enigste motor in die straat. Sy is die enigste lewende mens, behalwe nou Oliekop, in die straat.
“Dis siesta tyd, indien jy wonder oor die inwoners. Niemand hier waag dit buite die tyd van die middag nie. Jy kan hier wag vir Herman. Gelukkig het jou motor voor sy huis gebreek. Hy diens almal se motors, of bygesê die paar wat wel hier is. Ons loop maar waar ons wil wees.”
Uit die hoek van haar oog sien Karlien weer die skaduwee oor die grondpad beweeg. Sy loer deur die venster maar merk geen beweging in die lug nie. Sy wonder hoe oliekop geweet het haar kewer het gebreek. Daar is geen vensters wat uitkyk op daardie deel van die pad nie. Die oorhoofse waaier swiep-swiep ritmies in die rondte. Die vertrek is koel teenoor die drukkende hitte van buite. Oliekop plaas ‘n yskoue botteltjie water voor haar neer. “Dewdream” lees Karien. Was dit nou per toeval of… Karien ril toe sy die grynslag op oliekop se gesig raaklees. Haar gunsteling fontein water.
Buite kondig ‘n kerkklok aan dat siesta tyd verby is. Karlien plaas die leë botteltjie versigtig op die toonbank neer. Oliekop is nêrens te sien nie. Sy los ‘n tienrand noot onder die klokkie op die toonbank en stap na buite. Die pappegaai is nie op sy stok nie. Die maltesie spring vinnig op toe Karlien verskyn. Die dorp is besig om te ontwaak. Karlien volg die hondjie wat nou opgewonde vooruit draf. Hy verdwyn onder die palisade deur na die agterkant van die huis. Dan merk Karlien ‘n flenter papier onder haar rëenveer. Die nota is netjies opgevou en onder die staalarm ingesteek. “Hoop die water was koud genoeg.” Karlien voel hoe ‘n rilling teen haar rug afkruip toe sy die tienrand noot saam met die briefie in haar sak steek.
Daar is geen manier wat daardie briefie so vinnig daar kon verskyn nie. Sy skud haar skouers. Die tuinhek skreeu toe sy dit in die glybaan stoot. Sy hoop dat Herman haar sal kan help. Sy moet voor donker op Verlange Kraal wees. Sy stap met die tuinpaadjie af na die voordeur. Die plantegroei is welig en Karlien kyk met verbasing na die vreemde kleure wat tussen die lowergroen blare deurbreek. Sy loop tromp op in ‘n stewige borskas vas. Herman.
“Middag Karlien”.
Herman se sterk stem trek hoenderspoor teen haar ruggraat af. Sy heldergroen oë dwing hare tot oorgawe. Hy is ‘n goeie ses voet sewe en kan maklik vir die Springbokke veld uit draf.
“Jy moet leer om jou petrolnaald dop te hou. Ek het klaar volgemaak. Dit is ‘n stywe entjie na Verlangekraal, jy wil nie in die donker vasgevang word nie.”
Herman wys die paar note van die hand. Karlien stry nie. Sy wil so gou moontlik van hierdie dorp af wegkom. Jy kan die onheil met ‘n stok aanvoel. Daar was niks fout met haar petrolvoorraad nie. Die dekselse enjin het vuil rookwolke gespoeg toe sy hom probeer aansluit het. Nou is daar nie eens ‘n teken van ‘n rokie nie. Die petrolnaald lig bo die volmerk verby. Sy trek met ‘n vaart weg. Die klein maltees keffend agterna. Hoe het Herman geweet wie sy is en waarheen sy oppad is? Haar kewer was gesluit. Tog kon Herman haar tenk volmaak. Karlien trap die petrol pedaal dieper in.
Verlangekraal. Die naambord hang trots aan die groot ou plaashek. Die hek swaai stadig oop net toe Karlien die klein kameralens aan die punt van die bord raaksien. Die opstal lê reg voor haar. Aan haar regterkant staan rye op rye tonnels. Links van die plaaspad is daar ‘n sekuriteitsdraad gespan. Deur die bosse en bome kan Karlien die buitelyne van ‘n groterige skuur uitmaak. Skielik bars daar ‘n wit maltesie blaffend om die hoek van die opstal. Die man wat uit die opstal te voorskyn kom is groot en sterk gebou. Karlien vries. Dis Herman.
“En nou Karlien? Dit lyk of jy ‘n spook gesien het? Jy is mos hier om ons te kom ondersoek of nie?”
Herman se lag laat Karlien lam terugsak in die kewer se sitplek. Sy ruk die motor in trurat en trap die vergasser. Swart roetwolke borrel by die uilaatpyp uit voordat die kewertjie proesend die stryd gewonne gee. Herman hou die motordeur vir haar oop.
“Kom, ontspan, hou op baklei, jy het nie juis ‘n keuse nie, Phoenix hou elke beweging van jou dop.”
Karlien koes toe ʼn donker skaduwee oor haar swiep. Die wit pappegaai kom behendig op Herman se skouer te lande. Sy oë gloei rooi in Karlien se rigting. Sy tree versigtig terug met haar rug teen die kewer. Herman vou sy hand om Karlien se bo-arm. Hy stoot haar in die rigting van die tonnels.
“Jy weet Karlien, voor Phoenix se aankoms het ons gemeenskap maar gesukkel om ‘n bestaan te voer. Kom, ek gaan wys jou hoe goed dit met ons gaan. Ons eerste besending is gereed om mark toe te gaan. Daarna, wel wie weet…?”
Herman stoot die plastiek tonnel se deur oop. Karlien voel die sagte misrëen oor haar vel kriewel. Dan steek sy vas. Duisende rooi vrugte hang vanaf stellasies in bondels tot byna op die grond. Daar is Roma tamaties, Fanny, Volcanic, Rock Star en ook Santa, ‘n klein soet langwerpige kersietamatie wat soos trosse druiwe volrond tot op die grond hang. Almal kultivars wat spesifiek gekweek is vir hulle weerstand teen stamkanker, grysblaarvlek en aalwurm. Ook die rede waarom Karlien moes ophou rook. Rokers dra die tabakmosaЇekvirus aan die tamatieplante oor. Dit affekteer die blare, blomme en vrugte van die plant en belemmer ook die groei daarvan. Dit is die kleur van die tamaties wat Karlien tot stilstand dwing.
Die kleur laat haar aan laatoes rooiwyn dink. Die burgondiese kleur word afgewissel met kersierooi wange wat byna deursigtig is. Karlien se mond water. Die vruggies blink onder die sagte sproeireën wat vanuit die oorhoofse sproeistelsel neersif. Daar hang ‘n onmiskenbare soet reuk in die lug. Cannabis! Voor Karlien iets kan sê, begin Herman lag.
“Ja, Karlien. Ons het die vermenging van die twee vervolmaak. So paar ekstra byvoegings en siedaar, ons kon ‘n plant produseer waarmee ons die wêreld aan ons voete gaan hê. Die hele dorpie behoort al aan ons. Die wat nie wil saamwerk nie, word gou tot ander insigte gebring. Forest Haven doen sy naam gestand.”
Karlien ril. Sy het geweet daardie plek voorspel niks goeds nie. Sy koes toe daar uit die niet ‘n swart skaduwee oor haar val. Die wit pappegaai land behendig voor haar voete. Karlien knip haar oë. Die voël skud al sy vere in een swaaibeweging af. Oliekop strek hom uit en kom grinnikend voor Karlien staan.
“Weet jy wat is ‘n vormverwisselaar Karlien? Ek en Herman het per ongeluk ons gawe ontdek terwyl ons met die nuwe kultivars gespeel het. Niemand wou ons borg nie. Nou gaan ons maar ons eie klein paradys stig en jy Karlien, jy gaan ons help. Die nuwe kultivars moet bemark word. Jy is mos hier om te kom snuffel.”
Karlien tree vinnig agteruit. Sulke goed gebeur net in stories. In een beweging draai sy om en hardloop vir die deur. Dan sak sy in ‘n hopie op die grond neer terwyl ‘n groenerige walm vanuit ‘n tamatierank haar omvou. Herman se skel lag vul die tonnel.
“Karlien, Karlien” Oliekop se stem dwing Karlien uit haar slaap. Haar arms is nat en klou klewerig vas aan die plastiek kleed op die tafel. Langs haar staan ‘n lëe botteltjie water.
“Waar is ek?”
“ Forest Haven, jy het op jou arms aan die slaap geraak vanmiddag. Ek wou jou nie steur nie. Herman was nounet hier. Jou kewer het blykbaar voor sy huis die gees gegee. Herman het gou na die engin gekyk. Ek het sommer jou motorsleutels vir hom gegee. Jy kan vanmiddag saam met hom deurry Verlangekraal toe. Dit is sy plaas, hy moet parte gaan haal vir jou motor.”
Karlien voel soos ‘n slaapwandelaar. ‘n Dowwe hoofpyn klop agter haar oë en haar mond voel droog en bitter. Sy kan nie onthou dat sy hier aan die slaap geraak het nie. Sy knik en prop ‘n tienrand noot in Oliekop se hand. Dan drentel sy straataf na waar haar motor staan. Oral staan mense en gesels terwyl die kinders die strate vol hardloop. Die klein maltesie bly kort op haar hakke.
Herman waai al van ver af vir haar. Sy skud haar kop om van die spinnerakke onstslae te raak. Hoekom lyk alles so bekend? Sy steek haar hand uit om Herman te groet. ‘n Vae onrus speel teen haar nek af.
“ Hello Karlien. Jy het so lekker gelê en slaap, ek wou jou nie wakker maak nie. Klim in dan ry ons deur Verlangekraal toe. Ek het al die nodige parte vir jou motortjie daar. Dan wys ek jou sommer al die tamatie tonnels en ons vordering met die kultivar-inentingsprogram.”
Herman sit Karlien se tasse op die agtersitplek van sy motor. Hulle ry in stilte verder. Karlien verkyk haar aan al die welige plantegroei rondom haar. Die helder kleure verstom haar. Dan swaai Verlangekraal se hek voor hulle oop. Aan haar regterkant staan rye op rye tonnels tot teenaan die plaasopstal. Links van Karlien is ‘n groot skuur. Herman maak vir haar die motordeur oop toe hulle voor die opstal stop.
“Ek sal vir Petrus vra om jou tasse na jou woonstelletjie toe te dra. Kom ek gaan wys jou gou die laboratorium.”
Die glasdeure skuif gemaklik oop en Karlien verstom haar aan al die rye botteltjies teen die mure. Tamatie blatjang, konfyt en ingelegde tamaties. Elke botteltjie afsonderlik gemerk. Herman hou ‘n lepeltjie na haar toe uit.
“Proe hier.”
Sonder teenstribbeling neem Karlien die lepeltjie by Herman. Die soet smaak rol op haar tong. Karlien glimlag. Simpel van haar om so onrustig te voel. Die blatjang proe soos hemel. Sy kyk nou reguit in Herman se oë.
“En behalwe vir die instandhouding van die plante in die tonnels, wat is daar nog wat ek moet doen?”
Herman lag oorwinnend.
“Jy kan more oggend vir ons ‘n vrag tamatie produkte Johannesburg toe neem. Ek gaan aan die kewer moet werk. Jy gaan ongelukkig ‘n passasier hê, hy ry maar altyd saam mark toe.”
Die klein maltesie spring teen Karlien op. Sy hou haar hande en hy spring gemaklik in haar arms.
“Hy is oulik, solank hy sy gordel dra het ek nie ‘n probleem nie, wat is sy naam?”
Herman se oë blink.
“Phoenix” sê hy met ‘n glimlag om sy mondhoeke.
Amanda DM
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Maart 2024 - OOP projek