Jongste aktiwiteit:

Bosveld kaskenades 364 Woorde Goud

Wanneer jy op ‘n plaas in die boendoes bly is jy op jou wakkerste as die honde begin skel en raas.

Dit was ‘n lekker warm somersdag. Die myn het al die grond rondom ons begin uitkoop en meeste plase was al omgedolwe. Marikana, stof strate en bos. Verlate en woes. Al wat reptiel is vlug voor die stootskrapers en boskappers wat heeldag kap en skraap uit. Net ons klou nog verbete aan die dak oor ons kop want geld vir deposito en hoër huurgeld is daar nou nie juis nie.

Ek gooi my skottelgoedlappie neer en roep die kinders bymekaar. Die honde kerm en kla op die voorstoep. Gelukkig het die huis groot vensters en kan ek dadelik sien wanneer iemand rondebeweeg.  Ek sien dadelik dat hulle iets vaskeer dan terugdeins om ‘n tjank-blaf te los.

Slange is hier mos nou in oorvloed. Ek jaag die kinders na die voorhuis en gryp die naaste slaanding wat ek in die hande kon kry. Met rinkhals en pofadder speel jy nie. Ruk die voordeur oop en sluip op die lawaai af.  Ek is nie bang nie, nee ek het net groot respek vir moeder natuur se sleepdiere. Groot is my verbasing toe ek ‘n klein Nonnie uil grootoog in die hoek opmerk.  Ek skreeu die honde tot bedaring en kry hulle van die stoep af. Vir ‘n Nonnie uil sien ek darm nog kans sonder stok of staf.

Stupid! Kyk nie! Gryp net beskermend na die ou uiltjie wat dan nou so bang na my loer. Manne… vlieg die klein hel op, en in die vlieg laat val hy mos die klein rinkhals wat hy in sy kloue beetgehad het. Die einste rinkhals wat die honde histeries gehad het. Ek vries eers… toe gil ek… toe slaan ek… slaan amper my eie wind uit. Toe lag ek! Uiltjie vlieg in die naaste boom in en kyk my verwytend aan. Rinkhals verdwyn onder die roosbos in. Die honde is heeltemal verward en die kinders dink dis die snaakste ding sedert mister Bean. Hule rol soos hulle lag. Kyk ma se honne, volgende keer sê tog net seblief vir my daar is ‘n derde party betrokke…

 

©Amanda dm




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed