Jongste aktiwiteit:

TOE VAL LIG

TOE VAL LIG

Geskryf deur Fanus Strydom

3372 woorde

Die grysblou volmaan soek onseker na deurkomplek iewers tussen die donderwolke bo die kuslyn  deur. Dit gly onvas tussen vlae reën en digte miswalms bo ons koppe verby. Tussen die berge aan weerskante van die stilswart hawe hang die naghemel laag en swanger met stormbelofte.

Ek beur met moeite strandlangs teen die wind in en sukkel om bo die water se spoellyn te bly. Elke nou en dan vang die deining my onkant en spoel die onverwagse ysigheid krampagtig om my bene vas tot amper by my knieë. Dan moet ek eers vierkantig in my spore stop en myself wydsbeen staanmaak in die sagte dryfsand onder my, terwyl die bewegende sandvloer vraatagtig suig en torring aan my druipnat stewels en broekspype en ek stelselmatig al hoe dieper wegsak tot bo by my enkels in die sponsige onvastigheid. Sodra die onrustigheid om my vir eers weer saam met ontelbare, haastige krappe by hul oopbekgate in die sand in verdwyn kan ek weer my arms laat sak langs my sye en die oopgeflansde pante van my reënjas weer toevou voor my bors. Die reën sif meedoënloos neer van voor af en vlaag na vlaag waterbelaaide windwalms dwing my op my knieë neer om my vasgesuigde enkels uit die sand uit te bevry. Eers na ek altwee uit die suigsand losgewikkel het kan ek dit waag om weer regop te kom en verder voort te stoei teen die woedende wind in. Om voort te soek na ʼn onbekende plek van vrede en rus iewers langs hierdie ontstoke kus van my gemoed.

Shadow bly onrustig om my ronddraai en hy druk homself elke nou en dan tussen my en die onstuimige branders in. Elke keer as ek struikel is hy dadelik langs my en lek hy my naarstigtelik deur die gesig om my op te help met sagte tjankgeluide en ʼn waai van sy witgekalkte stert. Die res van sy pikswart Skaaphondlyf smelt onsigbaar weg in die donker nagmis om ons. Elke nou en dan voel ek egter die dringende aandruk van sy sopnat flank teen my kuite. Asof hy my probeer opdruk duin se kant toe, weg van die aanhoudende en hipnotiese gelokroep van die malende golwe af. Asof hy weet my kop en my hart staan alweer diepsee se kant toe vanaand…

Langs ons dawer die branders onophoudelik en onkeerbaar strand-op in die maanlig met witskuim-maanhaarkuiwe hoog oopgesproei bo hulle rûe. Onder hulle maal en kolk die donker water onheilspellend op en af soos die oseaan se ontstelde polsslag iewers diep vanuit die donker dieptes hulle oproer en opstook tot aksie. Asof hulle instinktiewelik weet hulle is amper op land, beur die witrug branders dan een laaste maal dawerend en vasberade vorentoe met opgeligte koppe en kromgebuigde rûe. Voor, aan die voet van die hawe se breekwatermuur en tussen die oopgegooide bekke van die skerptandrotse, lê hulle beloofde vastrapplek reeds sigbaar ongeduldig en wag op hulle aankoms. Ek stop vir ʼn oomblik en verwonder my aan die gewelddadige gewilligheid waarmee die golwe hulleself daar teen die ondeurdringbare muurskans te pletter loop. Vir ʼn oomblik dink ek ek verstaan die wanhoopkreet waarmee hulle blindelings en onafwendbaar-oopgeflans skuimend die lug in tuimel. Vir ʼn oomblik hang die gebreekte branders so in tyd en tye tussen die hemel en die aarde, voordat hulle dan noodlottig gewond neersak tot stilte tussen die onrustig-vasgemeerde bote in die hawe aan die ander kant van die keermuur in.

“Shadow, kom weg daar!”

Ek moet hard skree teen die wind se geraas in om sy aandag te kry.  Eers toe ek teen my been klap, sien hy my en kry dadelik die boodskap. Hy draai gehoorsaam weg van die glibberige kant van die hawemuur se selfmoordrant af en kom skeef-skeef teen die wind op aangedraf om weer langs my enkels in te val.

Aan die bopunt van die keermuur, langs die ligtoring, draai ek weg van die water af en mik duine se kant toe. Nou druk die vlymskerp seewind ongeduldig en ysig van agter af teen ons rûe op. Voor ons lê die duin bleekwit en steil oop teen die berg op en ek is meteens dankbaar vir die ysnat vlae van agter af. Dit help my om teen die steilte uitgeklouter te kry, ten spyte van die koue. Langs my sak Shadow tot teen sy borskas weg in die sagte sand en ek kan sien hoe sukkel hy om by te bly. Halfpad teen die duin op brand die dors en koue ysig in my keel en ek stop eers om asem te skep langs ʼn omgevalle boomstomp in die sneeusagte sand. Ek val dankbaar op my sitvlak neer en sak laag teen die stomp af om skuiling te vind teen die huilende wind. Toe ek my knieë teen my bors optrek kom hyg Shadow teen my aan met sy deurnat lyf en val langs my neer in die nat sand. Ek gooi een arm oor sy bewende rug en trek hom stywer vas teen my. Hy steun sag en probeer geïrriteerd die krappende sand uit sy oë uitvryf met sy kop teen my sy. Ek help hom en vee versigtig die saamgeklonte sandkorrels by die hoeke van sy oë uit, terwyl my tande onkeerbaar opmekaar klapper  van die koue.

“Ai, Shadow,” bibber ek teen sy oor in, “ek weet nie meer nie. Wat gaan van ons word, my seun?”

Ek kyk op en sien hoe die inkswart water nou ver onder ons in die baai rondmaal in onstuimige tregterkolke tussen die vlymskerp rotse deur. Asof hulle daar eers moet planne beraam en strategie bespreek, voordat hulle weer terugtrek diepsee toe. Om daar in die donker dieptes  te moet gaan delf vir die volgende tonnemaat stormrede vir die nimmereindigende en alewige aanslag teen die land.

“Nes die lewe…” dink ek hardop by myself en sug swaar by die gedagte van die afgelope paar dae se dinge.

Ek voel hoe Shadow se kop skuins draai onder my hande soos hy begryp en ek wens opnuut weer ek kon verstaan wat in sy gedagtes aangaan. Wens ek kon hoor watse raad daar opgesluit lê agter daai paar sagte, okkerneutbruin kykers van hom. Al is hulle nou onsigbaar in die donkerte voor my, weet ek hulle bly onvoorwaardelik en onophoudelik soek na myne. Is ek seker hoe hulle nou op hierdie oomblik klop en krap teen die toegewasemde ruite van my gekneusde, moedelose siel om in te kom in die donker binnekamers van my menswees in. So asof hy weet dat net hy daar toegelaat word. En Angelo…

“Why the long face?!”

Ek skrik so van die skielike stem agter my ek stamp my kop hard teen die stomp toe ek omkyk.

“Eina bliksem!” probeer ek ontsteld die brandpyn teen die kant van my gesig wegvryf. Maar ek is meteens opreg dankbaar by die besef dat hy uiteindelik weer hier is. By my. Ek het al begin twyfel in sy bestaan en sy betroubaarheid. By die aanhoor van die bekende stem, ruk Shadow sy kop opgewonde van my skoot af op en spring stertswaaiend oor die stomp na die stem toe. Ek kry ʼn pootvol sand in die mond en proes vies aan die gevolge daarvan.

“Moet jy mens altyd so bleddie staan en bekruip?” spoeg ek vies in die sand voor my voete in. My manier van se: “Halo Angelo, lanklaas van jou gehoor. So bly jy is weer hier…”

“Ouch, ouch, ouch!” hoor ek hom kerm van agter die stomp uit, “linkervlerk…penveer…’n grote.”

Ek besef onmiddellik wat aangaan toe ek die ontsteltenis in sy stem hoor. Ek weet mos hoe werk die ding met die vloekery en al die ander insidente van rebelse ongehoorsaamheid van my kant af. Elke keer as dit gebeur verloor hy ʼn veer, tesame met ʼn kritiese, swaarverdiende vaardigheid. Nie net gooi dit hom van balans af nie, maar dit is ook ʼn bron van skande en skaamte vir hom tussen die ander engele. Om te moet herken hy faal in sy taak om my op die regte pad te hou. Meteens kry ek hom regtig jammer, want dit kan nie maklik wees met iemand soos ek nie.

Shadow kom teruggedraf van agter die stomp uit en kom staan voor my met iets in sy bek. Ek weet wat dit is sonder dat ek hoef te kyk. Ek voel dadelik spyt oor my agterlosigheid.

Die spierwit veer in sy bek blink bleekwit teen die maan en hy trap-trap na my met sy voorpoot  om die ding te vat by hom. Ek haal dit versigtig by sy bek uit en stryk ontsteld oor die perlemoenwit flank daarvan met die agterkant van my hand. Dit ruik vaagweg na Jasmyn, of Mirre. Die skaf voel nog warm tussen my vingers en toe ek dit teen die maanlig ophou sien ek dat dit amper netso lank is soos my uitgestrekte voorarm. Ek weet uit ondervinding dat dit ʼn belangrike veer is. ʼn Prinsipaalveer van die punt van sy vlerk af. Ek kan net dink hoe seer dit moes wees toe ek die ding sommer so sonder denke uitgepluk het. En watse ongelooflike effek dit nou op sy vlugvermoë gaan hê. Totdat hy namens my gaan moet boete doen daarvoor en die vaardigheid weer van vooraf terug sal moet verdien. En dit alles net om my beskermengel te wees…

“Van wanneer af praat jy Engels?” vra ek kop-onderstebo in die rigting van die stomp agter my. Ek hoop hy sal hoor ek is regtig jammer oor die veer. Ek sien nie meer kans om omverskoning te vra nie, want ek dink nie eers hy glo my meer nie.

“Van wanneer af vloek jy alweer so?” antwoord hy vinnig.

Ek kan hoor hy wil so graag kwaad wees vir my oor die veer, maar hy mag nie. Engele mag nie kwaad word nie. Dit is teen die reëls. Indien hulle hulself in ʼn oomblik van swakheid daaraan skuldig maak,  val hulle onmiddellik in rang, status en voorreg. Die feit dat my vloekery veroorsaak het dat hy een van sy hoof-penvere verloor het, maak die uitdaging aan hom ekstra moeilik. Ek kan letterlik hoor hoe hy op sy tong moet byt om sy irritasie te onderdruk, maar hy kan nie die teleurstelling in sy stem kamoefleer nie:

“Vir wat sit jy so hier in die reën in die middel van die nag?”

“Ek het net bietjie kom stap langs die strand,” probeer ek my antwoord so vaag as moontlik hou. Ek weet dit help ook nie om vir hom te probeer lieg nie, want hy sal onmiddellik weet,  maar ek probeer nietemin ʼn bietjie aansien terugwen.  “Om my kop skoon te kry.”

“In die middel van ʼn storm?”

“Ek hou van storms.”

“Fanus…”

As my uitverkose beskermengel sedert my geboorte, bykans vier dekades gelede al, ken hy my uiteraard deur en deur. Hy kan my gedagtes so akkuraat en moeiteloos lees soos die eindelose boekrolle en arkadiese kontrakte wat hy foutloos moes instudeer en integreer,  voordat hulle hom op hierdie sending kon stuur. Hy weet alles van my af.

“Wat is fout?”

Ek hoor die erns in sy stem, maar ook genadiglik die omgee en ek is bly om te weet dieselfde ou Angelo is weer terug. Al is dit sans ʼn penveer in sy linkervlerk. Sy stem is weer sag en liefdevol soos altyd en ek het skielik geen verweer daarteen nie:

“Ek is moeg, Angelo. Ek sien nie meer kans om so aan te gaan nie…”

Soos altyd verstaan hy onmiddellik wat aangaan:

“Het jy gebid daaroor?”

“Nee.”

“Nou maar vir wat nie?”

“Ek wil nie meer nie. Dit help tog nie.”

Toe die warrelwind warm oor my kop dartel en voor my gesig verbywaai, weet ek dit is hy wat voor my kom staan. Ek ruik weer die sagte Jasmynreuk van sy vlerke. Shadow draai sy kop half-skeef na bo en kyk nou ook na iets in die lug voor my. Sy spierwit stertpunt swiep stadig heen en weer, terwyl hy sagte tjankgeluide maak in sy keel. Ek wens ek kon vir Angelo sien soos hy…

“Nonsens man,” hoor ek hom sê. “Het hy alweer ʼn klomp twak in jou kop ingepraat?”

Ek weet presies van wie hy praat en ek voel dadelik skuldig oor my kleingelowigheid. En my ongehoorsaamheid.

“Jy weet as jy nie bid nie, kan ek niks vir jou doen nie,” gaan hy voort “…mag ek niks doen om jou te help nie!”

“Ek weet, ek is jammer. “ breek ek my voorneme om op te hou jammer sê. Maar die idee dat ek myself alweer laat vang het in die vyand se vangstrik laat my bloos van skaamte en teleurstelling. Ek kan net dink hoe die ander engele hom moet spot oor my onbeholpenheid. Om nie eers te praat van die nimmereindigende regsargumente en pleidooie vir genade voor HOM aangaande my nie…

“Moenie jammer wees nie, bid. Nou dadelik!” val hy my gedagtes in die rede. “Ek gaan daar anderkant staan. Jy weet ek mag nie by wees wanneer jy bid nie.”

Ek voel weer die warm warrelwind voor my gesig opwaai en Shadow spring op en jaag speel-speel iets teen die duin se wal af tot so twintig meter verder vorentoe. Dan sak hy stil op sy agterpote neer en kyk stertswaaiend en stip na iets in die sand voor hom.

Ek buig my kop vooroor en bid: “Here, ek is jammer. Ek weet nie meer wat om te sê nie. Gee my net ʼn teken asseblief. Iets om te wys U weet van my…”

Die volgende oomblik spring Shadow op en hardloop blaffend en halsoorkop duin-af see se kant toe. Ek spring regop en roep hom terug, maar hy kyk nie eers om na my nie. Hy boender net blindelings voort oor die sand en by die water boogspring kop-omhoog by die branders in. Die laaste wat ek van hom sien is sy wit stert waar dit agter die donker golwe in verdwyn soos hy spring en spartel agter iets aan oppad diepsee toe.

Ek gil verbouereerd en storm agter hom aan teen die steil duin af.

“Shadow, kom terug!”

Halfpad verloor ek my balans en struikel val-val vooroor, totdat ek uiteindelik kop-eerste in die sand naby die vlakwater te lande kom. Toe ek opkyk is hy weg. Al wat ek sien deur die dowwe maanlig is die onophoudelike gebreek van die golwe met hulle witperd-skuimwalms.

“Angelo!” roep ek desperaat, maar daar is geen antwoord nie, net die aanhoudende geraas van die wind bo die water.

“Die Here weet, as my hond vanaand verdrink maak ek jou vrek!” blaf ek sonder om te dink die onmoontlike dreigement teenoor die onsigbare engel iewers in die onstuimige water voor my in. Dan weer anderkant toe : “Shadow!”

Maar daar is geen teken van hom, of die engel nie.

Ek strompel hygend op en af langs die strand en roep myself hees teen die huilende wind in. Elke nou en dan val ek oor ʼn versteekte rots, maar spring weer regop so gou as wat ek kan om verder te soek na hom. Ek voel nie eers meer die koue en die seer op my hande en knieë waar die rotse my stukkend sny nie. Al wat ek voel is die ondraaglike pyn en vrees in my hart oor my hond wat weg is.

“Here, asseblief, my hond…ek kan nie sonder hom nie!” bid ek weer desperaat. Díe keer bedoel ek dit opreg. Ek weet mens durf nie die Here dreig nie, maar ek is nou radeloos en lankreeds verby die punt van rede of sin. ʼn Verstikkende vloedgolf van woede en vrees oorweldig my en klem aan my keelgat vas. Ek skud gebelgd my vinger na die donderwolke bo my kop:

“Here, as hy nie nou dadelik terugkom na my toe nie, dan swem ek vanaand in hierdie pikswart  golwe in om nooit weer uit te kom nie, verstaan U my mooi?!”

Ek snik tussen die trane deur agter die maan aan waar dit weereens agter ʼn donker wolkbank in verdwyn.  Almal se Hy’s iewers daarbo, maar hoekom hoor of sien ek Hom nie? En vir wat hoor of sien Hy my nie?!

“Here, wys my tog net U wéét van my…”

Ver oorkant die hawe skiet ʼn roospienk ligbal meteens helder opwaarts en klief deur die lug soos ʼn verskietende ster. Dit hang vir ʼn oomblik amper bewegingloos teen die onderkant van die lae wolke en begin dan stadig na benede tuimel in ʼn sierlike, ligpienk boog. Die flikkerende lig hang moeiteloos in die lug en word stelselmatig al hoe groter soos die wind dit stadig al hoe nader aandryf strand se kant toe. Toe dit uiteindelik laag bo die diepste golf se deining kom hang, streep ʼn roospienk  ligstreep dansend daarvan af oor die golwe tot teen die strand. Dit breek sowat vyf tree voor my saam met die branders in die sand in op en spoel glasagtig oor my verby tot agter teen die duin.

Toe ek omkyk sien ek iets anders in die liglyn op die sand le ʼn entjie voor my; die engelveer van vroeër. Ek strompel hande viervoet vorentoe om dit op te tel. Die oomblik toe ek dit optel uit die sand uit begin die lig in die hemel onseker aan-en-af flikker bo die water. Dan tuimel dit terstond na benede tot niks agter die laaste brander in en is alles weer pikswart om my.

Ek val vooroor met my gesig in die nat sand in. Ek voel die deurdrenkte veer grof en nat onder my wang en bly netso in die vlakwater lê. Ek het eenvoudig nie meer die wil om op te staan en aan te gaan nie.

Shadow trap-trap met sy voorpoot teen my skouer en blaf proesend deur sy soutnat neus. Toe ek my kop oplig tel hy die engelveer versigtig in sy bek op en sit dit weer voor neer op die sand. Dan draai hy om en draf weer haastig terug vlakwater toe. Ek sien iets le in die sand net waar die laaste brander sy breeklyn oor die sand trek. Shadow tel dit versigtig in sy bek op en kom kopskuddend daarmee aangedraf terug na my toe. Dit hang spierwit en verlep uit sy kake. Toe hy voor my kom, laat sak hy die deurdrenkte valskermpie versigtig op die sand neer langs die veer. Reg voor my gesig. Dan sak hy stadig op sy maag neer en laat sak sy kop op sy voorpote. Net toe breek die maan helder deur ʼn wolkvenster bo ons koppe en ek sien vir ʼn oomblik hoe sy okkerneutbruin-oë uiteindelik weer die opening na my gehawende, gebreekte siel vind. Hy waai sy stert stadig heen en weer.

Die volgende dag gons die storie van die wonderwerk deur die vissersdorpie se windverwaaide strate. Die vissermanne het geen idee wie die noodfakkel gisteraand oor die diepsee afgevuur het toe hulle skuit in die moeilikheid beland het nie. Dit was nie hulle nie, want al hulle noodtoerusting was sopnat en deurdrenk deur die stormsee. Daar was ook geen ander bote meer op die water nie, daarvan kon die kuswag vanoggend getuig. Maar, danksy die fakkel, kon die kuswag die manne se beskadigde boot opspoor in die diepsee net buite die hawe en hulle red van ʼn sekere waterdood laasnag.

Op die mat van my tuinwoonstel teen die hange van die berg bo die hawe, tel ek weer die klein, spierwit valskermpie op en kyk aandagtig daarna. Dit is gemaak van ragfyn sy en dien as boei vir die noodfakkel om aan te hang wanneer dit afgevuur word oor die oop see in geval van reddingsnood en lewensgevaar.

Ek bevoel dit saggies tussen my vingers en toe ek dit omdop op die mat voor my, sien ek vir die eerste keer die klein, rooi lettertjies al op die soom daarvan ingeborduur:

“Manufactured by hand by: De Angelo Emergency Rescue Equipment (PTY) Ltd. Palermo, Italy.”

En presies daarteenoor aan die ander kant:

“The Lord will hide you always in the shadow of His wings. Psalm 17:8”

Toe die trane op Shadow se blinknat neus land waar hy in die sonnetjie langs my lê en slaap, kyk hy na my met sy okkerneutbruin-oe en weet ek: hy verstaan.

© Fanus Strydom

Julie 2023




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed