Die skaal lieg nie (Brons)
Die skaal lieg nie
103. Dit is mos nou wat die badkamerskaal my gisteroggend wou kom vertel. En al wat ek wou weet is hoeveel ek weeg. En dit sonder ‘n draad klere. Dit is mos nou glad nie moontlik nie. Daarom het ek maar vanoggend die ou skaal weggegooi en gou dorp toe gery om ‘n ander, meer betroubare een te gaan koop. Ek moet sê die skaal wat ek nou al soveel jare gebruik, is al baie oud en seker lankal nie meer gekalibreer nie. En my oë kon ook dalk ‘n bietjie verkeerd gekyk het. Ek meen, die ding het net getalle van 1 tot 120 en so ‘n klomp strepies tussenin. As my akademiese kennis my nou nie in die steek laat nie, dink ek hulle het ons geleer as jy skeef kyk, kan jy ‘n paralaksfout maak, of so iets. Ek is seker dit is wat gebeur het.
Wel, toe ek by die winkel instap, op soek na die regte skaal, het ek beslis ‘n paar kilogramme weggeskrik, want nooit in my wildste drome kon ek voorsien dat ‘n skaal my byna die helfte van my salaris uit die sak sou jaag nie. Gelukkig was daar ‘n hele groot verskeidenheid. My oog val toe op so ‘n groot platte, glasblad en digitaal maar steeds met ‘n driesyferprys. Die skerm was groot en duidelik, soos die verkoopsman aan my verduidelik het. My kredietkaart het handig te pas gekom en ek moes die skaal maar op budget neem.
Ek kon nie gou genoeg by die huis kom nie. Ek sou aan almal kon bewys die ou skaal was oor die muur. Ek het die peperduur skaal uit sy verpakking geneem en baie saggies en versigtig langs die bad neergesit. Ek was so trots op hierdie nuwe skaal. Versigtig het ek van al my klere ontslae geraak, want die lesing moes die ware jakob wees. Ontnugter klim ek toe op die skaal, want daar verskyn geen lesing van ‘n dag oud nie. So ontdek ek toe die blerrie ding het ‘n battery nodig, een van daardie driehoekiges en ek besit nie so iets nie. So, dit was maar weer aantrek en weer dorp toe. Die battery kos my toe ‘n allemintige R30. Ek het iets gemompel van daylight robbery, maar darem nou nie so hard dat iemand my kon hoor nie. Op pad terug tref nog ‘n ramp my. Die spietkop by die Mall se hek. Vra die knapie my mos my lisensie. Wie ry nou ooit ‘n lisensie saam om ‘n batterytjie te gaan koop. Ek ry daar weg, rooiwarm en swetsende met ‘n papierjie wat sê ek skuld die verkeersdepartement R500. Verbeel jou. Dit oor ‘n sjmpel battery.
Terug by die huis stroop ek weer my klere en bestyg stadig die mooi skaal.109. Ek kon my oë nie glo nie. Ek wis nie of ek moes lag of huil nie. Al die moeite, tyd en geld en dit net om nog meer te weeg. Hoe mis ek nou my ou skaal.
Gelukkig is daar darem ook ‘n pluspunt. Met al die geld wat ek spandeer het aan brandstof, die skaal, battery en boete, is daar nie veel meer oor om kos mee aan te koop nie. Hopelik sal die verpligte vas my darem weer die einde van die maand op ‘n tweesyfergewig laat staan.
©️HENN
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Julie 2023 – OOP projek