Jongste aktiwiteit:

SHEIK NASSER AL BYAN

Jong sheikh Nasser al Byan se kop ruk op. Hy kyk sy moeder aan asof sy skielik in ‘n ruimtewese verander het. Hy het gehoop sy het al vergeet van die troustorie. Aarde, hy is ‘n man van agt en twintig. Hoe kan hy haar toelaat om vir hom ‘n vrou te soek?
“Begin Ma alweer? As ek ‘n vrou soek, sal ek self een gaan soek. Ek is nie meer ‘n kind nie,”
“Jy moet verstaan, Nasser! Jy is ons enigste kind. Ons seun! Jy moet vir ‘n erfgenaam sorg!”
Hy wil uitstorm maar sy neem hom ferm aan die arm. Nie weer gaan sy hierdie saak uitstel nie. Nie weer nie. Hy moet trou en vinnig ook. Haar man raak ongeduldig met haar.
“Ek sal trou, Ma! Dis net dat ek nie gereed is om die ernstige stap te neem nie. ‘n Huwelik is ‘n ernstige saak! Gee my nog ‘n rukkie tyd. Ek gaan nou Suid Afrika toe om ‘n rukkie daar na my besighede om te sien. Sodra ek terug is, gesels ons weer. Dan kan ons na al die hubare meisies kyk en besluit!”
Hy spring die trappe drie drie op en klap sy kamerdeur agter hom toe. Soos ‘n ou man gaan sit hy op sy bed met sy kop in sy hande. Waarom moes sy moeder nou weer begin met die troustorie? Hy wil nie trou nie. Nie nou al nie. Hy wil beslis nie soos sy vader en baie van die ander sheiks uitdraai nie. Nee, ‘n huwelik is ‘n ernstige saak.
Ongeduldig pluk hy sy reissak uit die kas. Dit was nie sy plan om so gou na Suid Afrika te reis nie, maar sowaar, hy sien nie kans om in ‘n huwelik gedwing te word nie. As hy trou moet dit vir alltyd wees. Hy wil nie skelmpies agter sy vrou se rug met ‘n klomp minnaresse sukkel nie. O, nee!
Dit neem net ‘n paar minute om sy tas te pak voordat hy besef hy het nie plek op die vliegtuig bespreek nie. Met ‘n diep frons tussen sy wenkbroue skakel hy sy bestuurder om sonder versuim vir hom ‘n sitplek op die eerste beste vlug te bespreek.

Hy sug en ontspan in sy sitplek. Sy oë dwaal oor die res van die passasiers. Die vliegtuig is vol, kom hy agter. Langs hom skuif ‘n persoon in en om nie nuuskierig te lyk nie, hou hy hom besig met sy veiligheids gordel.
Hy loer so onderlangs na sy reisgenoot en merk op dat dit ‘n vroulike passasier is. Sy het sulke klein, fyn hande wat mooi opgepas is. Nou is hy behoorlik nuuskierig. Ongeerg kyk hy na haar en sy hart ruk in sy borskas.
Watter pragtige, sielvolle oë het sy nie. Alles omtrent haar prikkel sy nuuskierigheid. Dan onthou hy sy ma se woorde dat hy tot trou moet kom.
“Goeie middag. Waarheen is u oppad?”
Nasser se kop ruk. Het sy met hom gepraat met daardie musikale stem? Hy kyk vlugtig na haar en weer vinnig weg.
“Ek is oppad Suid Afrika toe.”
Sy antwoord is bot en hy kan homself skop oor sy onbeskoftheid. Weer kyk hy vlugtig in haar rigting. Hy sien die seerkry in haar oë. Hy probeer dit van hom afskud, maar die uitdrukking in haar oe wil hom nie los nie.
Hoog in die lug, tussen die wolke, kom hy tot sy sinne.
“Waarheen is jy oppad, Dame?” vra hy versigtig?
“Ek is ook oppad Suid Afrika toe en ek kom nie weer terug Saudi Arabië toe nie.”
Verbaas kyk hy na haar.
“Ek gaan by my tante woon.”
Na haar woorde skuif sy gemaklik in haar sitplek, haar lippe styf op mekaar. Hy kan sien die gesels het nou beslis opgedroog.
Dis lang ure in die lug. Die lugwaardin bedien hulle met drankies en daarna met iets te ete. Nasser kyk by die venster uit en sien hoe die skemer oor die aarde skuif. Noudat hy verder en verder van sy vaderland en ouers is, hoe meer ontspan hy.
Hy vergeet van die pragtige meisie wat langs hom sit. Hy weet in elke geval nie eers wat haar naam is nie. So wil hy dit ook hou. Met sy gesig weggedraai sodat hy by die venster kan uitkyk, bly hy sit. Sy gedagtes by sy ouers wat daarop aandring dat hy moet trou.
Hy dink aan al die meisies waaraan sy ma hom al voorgestel het. Die een mooier en ryker as die ander. Elke meisie was so gretig om hom te behaag. Dit het hom siek tot in sy kleintoontjie laat voel. Hy soek ‘n vrou wat vir haarself kan dink. Wie se lewe nie net om hom draai nie.
En sy moet hom liefhê. Baie liefhê vir homself en nie vir sy titel of sy geld nie. Hy sal haar nog ontmoet, hy weet. Met al die gedagtes wat in sy kop rondwarrel, raak hy aan die slaap.

Soraja kyk na haar reisgenoot en glimlag. Die arme man kon nie wag dat die vliegtuig opstyg nie. Miskien is hulle in dieselfde situasie. Haar ouers het ‘n huwelik gereel met ‘n man wat baie ouers is as sy. Oor haar dooie liggaam sal sy met hom trou. Sy is nou eers twee en twintig, glad nie oud nie.
Donkerte verdryf die laaste lig in die vliegtuig. Hier en daar word ‘n liggie aangeskakel maar sy verkies om so in die donker te sit. ‘n Rilling hardloop teen haar ruggraat af as sy aan haar aanstaande bruidegom dink. Stinkryk is hy wel.
Die hele nag sit sy en wroeg oor haar situasie. Voor sonop is sy reeds in die piepklein badkamertjie om haarself te verfris. Nog ‘n paar uur voordat hulle in Johannesburg land. Stil stil gaan sit sy op haar sitplek en raak aan die slaap.
Nasser word wakker en skuif by haar verby. Tyd vir hom om gereed te maak. Sy hart klop vinnig want oor ‘n uur land hulle. Hy kan nie wag om sy nuwe lewe in Suid Afrika te begin nie. Gelukkig het hy ‘n woonstel waar hy kan woon. Hy is lief vir hierdie land.
‘n Halfuur voor hulle land skrik Soraja wakker en kyk op haar horlosie. Sal haar tante daar wees soos sy belowe het? Sy kyk nie een keer weer na Nasser nie. Styf klem sy haar handsak vas. Die klein reissak met haar besittings is bo haar kop in die stoorplek.
Nasser haal die sak uit en oorhandig dit aan haar nadat die vliegtuig geland het.
“Baie dankie en totsiens.”
Haastig draai sy om en stap vinng die gangejie af. Sy is moeg vir die vliegtuig na die lang vlug. Nou wil sy by haar tante kom en dadelik gaan slaap. Dit was ‘n lang, lang nag.
Nasser kyk haar verslae agterna. Dan maak hy sy bagasie bymekaar en stap heel laaste die trappies af. Hy adem die vars lug in. Met ‘n bree glimlag ontmoet hy die man wat hom kom afhaal het. Hy word na sy woonstel geneem.

Die warm son wat op sy gesig skyn, maak hom wakker. Stadig maak hy sy oë oop en kyk om hom heen. Vir ‘n splitsekonde weet hy nie waar hy is nie. Die onthou verhelder sy oë en met ‘n energieke sprong spring hy uit die bed.
Die spanning het hom verlaat en hy is gereed om sy besighede te besoek. ‘n Vinnige stort en ‘n beker sterk swart koffie voltooi sy oggend ritueel. Hy vermy die hysbak en draf die trappe af. Vier verdiepings se trappe.
Dit gaan goed met sy besighede. Die personeel groet vriendelik. Dadelik is die sekretaresse by om hom in te lig wat in sy afwesigheid gebeur het. Sy is deeglik en hy vertrou haar oordeel. Hy hou ook vergaderings met die leiers om belangrike sake te bespreek.
Dit is waar hy ingelig word oor die personeel tekorte.
“Het julle al in die koerante adverteer? Ons kan nie nou met ‘n tekort aan personeel sukkel nie.”
Hy is sommer geirriteerd met die nuus.
“Hier is ‘n paar dames wat uitstekende ondervinding het. Ons kan dadelik met die onderhoude begin.”
Die sekretaresse kry opdrag om die dames te kontak sodat die onderhoude nog dieselfde dag gedoen kan word. Soraja se hart klop in haar keel. Haar tante het haar cv orals ingehandig die oomblik wat sy op die vliegtuig geklim het.
Nog dames sluit by haar aan in die wagkamer en sy bekyk hulle onderlangs. Die een wil mooier wees as die ander. In hul hande hou hulle koeverte met hul kwalifikasies. Haar moed wil haar begewe en sy moet op haar tande byt om nie op te vlieg en uit die vertrek te hardloop nie.
Sy is die laaste een om ingeroep te word. Haar hande is in twee vuisies gebal. Met bewende kniee stap sy die kantoor in waar die onderhoude gevoer word. Vier persone vra haar vrae wat sy gelukkig maklik kan beantwoord.

Nasser se oë kyk fyn na die laaste meisie en sy binnegoed ruk. Dit is die meisie wat saam met hom op die vliegtuig was. Sy oë sien raak wat hy nie op die vliegtuig gesien het nie. Hy neem die aansoekvorm en sien haar naam is “Soraja”.
Die meisie wat hom die hele nag in sy drome ontwyk het. Die mooi musikale stem wat hom bekoor het. Sy oë gaan vlugtig oor haar. Met die westerse klere aan lyk sy alte fraai. Hy neem ‘n besluit sonder om eers met die mans by hom te vergader.
“Wanneer kan jy begin, Juffrou Soraja?”
Hy steur hom nie aan die mans se verbaasde gesigte nie. Hy weet net hy kan haar nie weer verloor nie.
Intens hou hy haar dop en wag inspanning vir haar antwoord.
“Ek kan vandag al begin as julle my nodig het.”
Soraja se oë sluit in die van Nasser en haar hart ruk. Nou herken sy hom ook.
“My sekretaresse sal jou na jou omsien. Welkom by ons.”
Die fyn glimlag om Nasser se mond is skaars waarneembaar maar Soraja wonder daaroor. Gelukkig sien niemand hoe sy hart soos ‘n spul wilde perde gallop nie. Hy staan saam met die ander mans op en verlaat die vertrek, maar nie voordat hy nog een maal na haar gekyk het nie.
Soraja bly sit en laat haar oë oor haar onmiddellike omgewing dwaal. Alles is baie luuks en oral staan plante rond. Vir haar wat in die woestyn gebore en groot geword het, lyk dit pragtig. Na ‘n paar minute staan ‘n vriendelike meisie in die deur.
“Kom asseblief saam met my. Al begin jy eers môre werk, wil ek jou graag wys waar jou kantoor is en jou pligte vir jou uiteen sit.”
Soraja staan vinnig op en stap saam met die meisie in die gang af. Die tweede deur regs is haar nuwe kantoor en sy glimlag bly. Daar staan ‘n lessenaar in die een hoek met ‘n rekenaar wat byna die hele lessenaar volmaak.
“Laat ek my eers voorstel. Martie Vermaas. Ons twee gaan die baas se sekretaresses wees. “
Soraja se mond hang oop. Hoe klink dit dan nou of sy ‘n belangrike betrekking losgeslaan het. Haar reisgenoot is nou haar baas.
“My naam is Soraja. Aangename kennis.”
Die twee meisies gesels land en sand en kom nie agter dat Nasser in die deur na hulle staan en luister nie. Hy is verstom oor Soraja se kennis van Engels. Sy gaan ‘n aanwins wees wanneer hy sake in Saudi Arabie wil doen. Hy maak keel skoon sodat hulle van sy teenwoordigheid bewus kan wees.
“Ek wil hê jy moet saam met my kom. Ons moet ‘n paar sakies bespreek voordat jy hier begin.”
Soraja volg hom na sy kantoor en op sy uitnodiging gaan sit sy in een van die gemaklike leerstoele.
“Is jy bereid om na my sakebelange in ons vaderland om te sien?”
Verslae kyk sy na hom en kom stadig orent.
“Nee, ek sal dit nie kan doen nie. Nee, ek is jammer.”
Nasser kyk na haar besliste gesig en hy glimlag innerlik. Sy was dus ernstig op die vliegtuig. Daar moet ‘n rede wees waarom sy so voel.
“Mag ek weet waarom nie? “ hou hy vol.
Vinnig draai sy haar rug op hom en kyk by die venster uit.
“Ek is jammer, ek moet weet. Ek het jou dadelik aangestel omdat jy ‘n Arabiese meisie is. Lyk my ek het ‘n fout gemaak.”
Soraja swaai om en kyk hom met vlammende oë aan.
“Ek het van my ouers gevlug omdat hulle my in ‘n huwelik met ‘n ou sheik wil dwing. Ek is nou maar eers twee en twintig en hy al sestig. As ek terug keer Arabie toe, sal ek met hom moet trou.”
Trane van magteloosheid spoel oor haar wange en hy kan die smekende uitdrukking in haar oë nie miskyk nie. Sy hart trek pynlik saam. Sy is in dieselfde bootjie as hy.”
“Nou goed, ek sal dit nie aan jou doen nie. Ek is self nie lus om terug te keer na my land nie. Hier is ons vry mense wat ons eie besluite kan maak.’
Hulle staan ‘n rukkie na mekaar en kyk. Hy glimlag stadig vir haar en wys haar om te sit. Die keer gaan sit sy op die punt van die stoel. Hulle bespreek haar salaris en na al die formaliteite afgehandel is, keer sy terug na haar tante se woning.
Daar is vreugde in haar hart omdat sy werk gekry het en nou haar eie salaris gaan verdien. Haar salaris is so goed, sy sal later haar eie woonstel kan bekostig. Dit is ‘n vrolike groepie mense wat daardie aand om die etenstafel gesels.
Soraja is eerste by haar werk. Martie Vermaas kom ‘n paar minute later by haar kantoor ingewaai. Hulle het net ‘n paar minute vir ‘n hartlike verwelkoming en ‘n drukkie. Dan is dit tyd om te werk.
Nasser bring self haar werk en kyk haar waarderend aan. Hy het die vorige nag weer van haar gedroom. Sy het so pragtig gelyk in haar huweliksgewaad. Hulle het hand aan hand oor die sand duine gehardloop en agter hulle het ‘n aaklige ou man gestaan met ‘n swaard in sy hand.
Hy lag byna hardop en kyk met nuwe oë na haar. Sy prettige oë laat haar ongemaklik voel.
“Kan ek vanaand vir jou gaan wys hoe jou nuwe land lyk?’
Soraja glimlag skaam.
“Dit sal baie vriendelik wees van jou.”

Laat die aand neem hy haar hand en druk ‘n soentjie op haar palm. Die ete was heerlik en daarna het hulle by ‘n nagklub gaan dans. So tussen die kuier vertel sy hom van haar ouers en hy bieg oor waarom hy weg is uit Saudi Arabie.
“Jy dink nie ons het van ons ouers gevlug om mekaar te ontmoet nie? Sal ons ‘n verhouding begin met die doel op ‘n lewe saam?” vra hy sag.
Soraja lag gelukkig en knik haar kop.

EINDE

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed