SNEEU OP MY AKKER
SNEEU OP MY AKKER
Dis natuurlik nie my akker nie; dis die akker op die grond van ons buurdorp, agter die grens tussen ons en die buurdorpie („Dorf” = gehuggie). Daar boer een van die grootste varkboere in Noord-Duitsland. Al sy trekkers en ander landboumasjiene word deur elektroniese rekenaars van ‘n satelliet uit bestuur. Ja, ja, daar is ‘n man aan boord, maar geen mens kan sulke reguit vore trek soos sy „slaaf” nie. Of is hy nie miskien die slaaf van die masjien nie?
Van my balkon af sien ek sy spore deur die sneeu agt-honderd meters pylreguit na die oorlandpad trek. Eerstens ‘n fyn poeiertjie wat die winterkoring se smal blaartjie soos ‘n sluier toedek. Na ‘n paar dae en nagte se ryp, as dit weer in die nag gesneeu het, word die landskap eers wit. By ons hou dit nie alte lank aan nie voor dit weer smelt, Miskien ‘n week later lê dan ‘n rêrige dik kombers sodat die rye nie meer te sien is nie. Maar in die tussentyd moet die ryp kom lê het.
Daartusen, as die sneeu ‘n paar dae kan bly lê wanneer die temperatuur om en by nul is, sien ek hoe hy verskeie graansoorte gedril het: Enkele strepe waar die blaartjies meer of weiniger sneeu dra, asof die een soort meer gewig kan dra en die ander die gewig van sy rug afskud. Of ek kan sien waar hy in die middel van ‘n voor afgebreek het en dit lyk asof iets anders gebeur het. Miskien het die ploegman elfuur saans opgehou en eers ‘n paar dae later voortgesaai, weens reën en dik modder byvoorbeeld. Dan het die nuwe deel korter geleef as die oue; of sy kunsmis het net sover gereik en hy het nie die ry tot die einde toe behandel nie. Dis alles honderd meter en meer van my balkon af en ek kan slegs spekuleer.
Die rand van die akker is die gemeentegrens en op ons kant is die agterkant van ses of agt persele wat almal bome op het. Ons is die laaste in die ry, en ons het ‘n paar yslike kersiebome – waarskynlik van kersiepitte wat die skoolkinders oor honderd jare uitgespoek het – dan ‘n paar dennebome en’n mengsel van plante wat op die ou komposhoop geland en wortel geskiet het. Daarna ‘n robinië (skoenlapperboom) wat ek êrens „gesteel” het toe hulle woekerende straatbome opgeruim het, ‘n bos manshoë buksbome, nog ‘n bos wit serings en geel forsythias, ‘n dertien, veertienmeter hoë eikeboom wat nie eers half so hoog was nie toe ons veertig jare gelede hier ingetrek het. ‘n Buurvrou het ons ‘n esboom („Ygdrasil, die Weltenesche” uit die germaanse mitologie) geskenk, daarnaas ‘n ahorn wat ek ook êrens gekry het, en lappielaaste ‘n denneboom, ‘n ware „Weihnactsbaum”, wat op die grens staan van die volgende plot. Daar’s dan weer ‘n eik en heelwat sierbome en -boompies: Serings in verskillende kleure, ‘n oranjekleurige „Pfaffenhut” (met ‘n eienaardige reghoekige blom soos die uitgaanhoed van ‘n roomse dorppredikant), rhododendrons en thuia. Alteveel verder kan ek nie sien nie, maar ek weet dat die meeste bure heinings teen die noordwind aangelê het, denne, lourel, ligusta, thuia – enigiets om die koue terug te hou.
In die jongste tyd probeer ons om ons en ons tuine teen akkergifte te beskerm. Die boer met die reusagtige aartappelveld ry elke Dinsdag met sy sproeivaartuig oor die veld. Wat hy weekliks sproei, kan ek nie sê nie, oftewel hy vertel het dat die agent hom gesê het dat hy momenteel niks beter as glyphosat / glysophat(?) kan aanbied nie. Ons boere word vasgehou in die ystergreep van die chemie-konserne. Om die newe-werkings van die een gif teen te werk, moet ‘n nog sterkere gif aangewend word, wat weer sy newe-werkings het wat teëgewerk moet word. En so voort en voort en voort.
‘n Paar dae later: Nou het dit weer gesneeu, rêrige sneeu. Twaalf sentimeters lê op akker, tuin en dak. Op die hele wêreld. Die meeste bome is kaal en die sneeu lê strepiesgeys op die takke, veral in die hoek waar die tak uit die stam uitgroei. ‘n Mooi prent. ‘n Swart-wit tekening met die eienaardigste vorme en lyne. Die donkergroen dennebome het natuurlik hulle afbeeldings soos ons dit van die Kersfeesskaarte ken. Net een loofboom, nie op die akkerrand nie, maar hier skuins voor my balkon waar die trap ondertoe loop, is ‘n meidoring waaraan die huisie met sonneblompitte vir die oorwintervoëltjies. Hy het oënskynlik oorblyfsels van sy ou blaartjies of saadpeule waarop sneeuvlokkies saamkleef. Dit lyk soos die bloeisels wat hy in somer dra. ‘n Bloeiende boom in winter? So lyk dit ja. ‘m Ongewoonlike aanblik!
Nog ‘n dag later en die yskaswêreld staan vol met sjinese bruide na die nagryp, besonders die berkebome langs die straat en doer ver aan die rand van die „woud” (plantasie) staam. Die berkebome het ‘n normale gesonde leeftyd van ses-en-dertig jare; ek hoop die bruide hou langer uit. En die parallelstrepe wat die skilopers maak lê al wit-in-wit op die glinsterende oppervlakte.
Terug na my akker: Ons en ons bure plant al hoe meer afgrensende bosse en struike langs die grens, nie net teen die koue nie: In ons tuine sing al hoe minder voëls, vlieg al hoe minder skoenlappers en bye. Die insekte word vergif en die voëls vreet die giftige insekte. Ek het in die loop van ‘n week se tuinwerk in somer nie ‘n enkele reënwurm gesien nie – aan die anderkant van die huis nogal!
Met my eie kinders het ek, dertig, veertig jaar gelede, massas reënwurms op die straatjie na ons huis na sterk reën „gered”. Altwee hande vol glibberige krioeldinge het ons in die bure se tuine gegooi, waarby niemand kon sê in watter rigting hulle eintlik op pad was nie. Ons, die ouers, moes die kinders besighou toe ons self daaroor ry, sodat hulle nie sien hoe ons die arme tiertjies vermoor nie. Om dieselfde tyd het ‘n japaanse fabrikant die kinders in die woonbuurt naby sy fabtiek ‘n paar sent vir ‘n handvol reënwurms betaal want hy kon die wurms gebruik om sy fabriek se afval in kompos te verwandel. Die kinders was ryk! Vandag sou hulle (en hy) arm bly, selfs as hy ‘n Euro per wurm wou betaal. Hier by ons.
Tja, soveel stories het my akker om te vertel. Ek wou eintlik die skeiding soek weens die gif, maar ek dink ek bly liewer by my akker wat eintlik nie my akker is nie, nog ‘n stuk pad kan ons tog saamwandel.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.