Stefan
Stefan
Brons
Toe Stefan by die hospitaalsaal ingestoot word, praat hy met niemand nie. Hy is kwaad en ontevrede. Drie weke gelede het hy nog sy en Hannetjie se verlof beplan. Vir die eerste maal in 27 jaar sou hulle vir ‘n slag alleen gaan vakansie hou het. See toe. Amper ‘n tweede wittebrood noudat Stella ook uit die huis uit is. Nou boek hy in by Onkologie waar chemo moet begin. Keelkanker. En fondse raak beperk. Nooit weer sal hy ‘n vakansie saam met Hannetjie kan wegbreek nie.
Stefan het die dokter se prognose gehoor. Na chemo en bestralings 70% kans op ‘n normale lewe, maar tog twyfel hy. Hoe kan die dokter so seker wees? In sy oë is kanker ‘n doodsvonnis en hy wil nie doodgaan nie, nie nou al nie. Stefan is maar 51 en daar is nog so baie wat hy wil doen, moet doen en doodgaan is beslis nie een daarvan nie. Hy wonder hoe lank sy finansies nog sal hou, want kankerbehandeling is duur. En wie gaan vir Hannetjie sorg as hy die dag nie meer daar is nie? Waar gaan sy bly, want die huis sal sy nie meer kan bekostig nie.
Nadat hy opgeneem is, lê hy in sy hospitaalbed onder die wit hospitaallaken en is somaar kortaf met almal. Skuins oorkant hom lê ‘n jong seun, seker nie veel ouer as ses of sewe nie. Stefan kan sien hy moet baie siek wees. Hy het geen haar op sy kop meer oor nie en sy oë is half ingesink in sy swart oogkaste. Hy praat sleeptong met sy ma daar langs sy bed, maar Stefan kan dit nie verhelp om die glimlag op sy gesig te sien nie. Hy lyk so gelukkig en tevrede. Hoe kan hy onder sulke omstandighede nog glimlag?
Dan hoor Stefan sy gesprek wat hy met moeite voltooi.
“Mamma moet asseblief onthou om my blokkies in te pak.*
“Dis reg so, my seun.”
“Dink Mamma Jesus sal saam met my met die blokkies speel?”
“Ja, seun, ek dink Jesus sal saam met jou speel.”
“En die ander maatjies ook?”
“Ja, my seun, daar is baie maatjies wat sal saamspeel.”
“Dan is ek bly Mamma. Dan is ek nou reg om na hulle toe te gaan. Dit gaan baie lekker wees, Mamma.”
Die seun maak sy oë toe en steeds is daar die glimlag op sy gesig. Dan maak die hartmonitor skielik een lang monotoniese skree en almal in die saal weet… die seun is huis toe.
Sy moeder huil langs sy bed, maar dis nie net sy wat huil nie. Stefan ook. Maar hy huil nie omdat hy hartseer is nie. Hy huil omdat hy dankbaar is. En hy voel skuldig. Deur die oë van ‘n kind, het hy geleer om anders na die dood te kyk.
©️HENN
470 woorde
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.