Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Oom (Hoofstuk 1)

Deur Christo
Datum gepubliseer: 7 April 2016 Aantal woorde: 970 911 Kere gelees 11

Dis donker in die kamer, maar Klein-Gert Venter is bewus van elke beweging wat die man op die ander bed maak. Hy kan dit egter nie sien nie – hy span sy ander sintuie in om waar te neem.

Klein-Gert wens hulle was ook so ryk soos James de Witt-hulle in die bo-dorp. Dan het hy nie nodig gehad om sy kamer met die loseerder te deel nie en hy sou met ‘n bloedrooi fiets skool toe ry. Sy broekspyp, aan die ketting se kant, sou hy met ‘n wasgoedpennetjie vasknyp, sodat dit nie met die olie vuil smeer nie. Hy sou sulke blink, swart, skoene gehad het en dit so gevryf het dat hy homself daarin kon sien. Net soos sy pa se oorlogstewels.

Hy verlang party dae na sy pa. Maar hy sê dit vir niemand nie, want ‘n man huil nie as jy na iemand verlang wat dood is nie. Hy hoor soms sy ma huil. Veral as dit baie donker is. Soos wanneer die maan nie skyn nie.
Hy wonder hoekom die maan partykeer skyn en ander kere wegraak? As sy pa nog gelewe het, kon hy hom vra.

Hy het eenkeer amper vir die Oom wat sy kamer deel, gevra, maar die Oom lyk te kwaai. Sy ma het gesê hy mag nie die Oom met allerhande bog pla nie. Want netnou vererg hy hom en gaan weg. Sy sê die Oom betaal baie goed vir die kamer.
Sy gedagtes keer terug na die kamer toe hy die rook ruik. Die Oom rook baie. Veral in die nag. Die eerste rook van die sigaret ruik altyd vir Klein Gert lekker. Sy ma sê dis omdat dit ‘n baie sterk sigaret is. Die Oom rook Gold Dollar filter. Klein Gert het gesien dis ‘n blou pakkie met twee goue kolle op wat lyk soos geldstukkies. Wanneer die Oom die rook intrek, kan hy die suig-geluide hoor.

Elke aand bring die Oom ‘n groot bottel koffie kamer toe. Klein-Gert mag nie in die kamer ingaan voordat die Oom nie klaar sy nagklere aanhet en in die bed lê nie. Die bottel koffie staan dan al op die tafel langs die enkelbed. Hy sê elke aand vir die Oom nag. Maar die Oom antwoord nie. Noudat hy daaroor dink, hy het nog nooit die Oom hoor praat nie. Miskien praat die Oom met sy ma as hy, wat Klein-Gert is, by die skool is.

Aand vir aand luister die seun hoe die man eers aan die sigaret suig en dan die koffie sluk. Suig, sluk, suig, sluk. Dit klink vir hom só lekker. Hy wonder hoe groot ‘n mens moet wees voordat jy Gold Dollar filter mag rook en so baie koffie kan drink? As hy vir koffie vra sê sy ma altyd hy gaan vlooie in sy maag kry en hy moet gaan speel.

Toe Klein Gert die volgende aand die huis binnestap hoor hy uiteindelik die man praat. Vanaand is anders. Sy ma en die Oom sit in die voorhuis en gesels. Sy ma lag. Maar nie soos wanneer sy bly is as Klein Gert iets sê of doen nie. Sy lag soos die Tannies in die kafee as Martin de Witt, James se grootbroer, met hulle hare speel en in hulle ore fluister.

Toe hy instap sien hy die Oom langs sy ma op die bank sit. Sy ma laat haar kop skamerig sak en sê: “Nie voor die kind nie. Later.”
Klein Gert wonder wat later gaan gebeur. Hy gaan sit op die stoel in die hoek en hou die grootmense dop. Sy ma en die Oom is vir hom vreemd vanaand. Hulle praat, maar gebruik groot woorde wat hy nog nie gehoor het nie.

Toe hy vir die soveelste keer gaap, stuur sy ma hom bed toe.
“Jy kan maar kamer toe gaan Boeta. Jy sal in elk geval al slaap as ek en die Oom klaar gesels het.”
“Ja, ek sal sommer in die badkamer aantrek vanaand,” sê die man agter sy ma aan.

Klein-Gert rol rond. Hy is vaak maar die slaap wil nie kom nie. Hy mis die suig- en slukgeluide waaraan hy nou al gewoond geraak het. Hy hoor vaagweg gesels-stemme. Sy ma het lanklaas so baie gesels. Dit maak hom bly.

Hy moes ingesluimer het, want hy word wakker van ‘n uitroep. Was dit sy ma? Hy lê doodstil. Hy trek sy asem amper bang in en laat dit baie stadig uit. Só stadig dit laat sy longe en kop pyn. Die geluide kom uit sy ma se kamer. Dit klink vir hom soos stemme. Maar nie soos gesels-stemme nie. Dit klink eerder soos harde asems. Sy ma se stem kom partykeer bo die van die Oom uit. Maar dis nie haar praat-stem nie, ook nie haar stem as sy hom roep nie. Hy kan nie woorde uitmaak nie. Die geluide word harder en meer dringend.
As sy pa nog gelewe het kon hy vir hom gevra het wat gebeur. Miskien moet hy dit vanaand waag om vir die Oom te vra as hy kom slaap.

Klein Gert raak baie later van die eerste reuk van die Gold Dollar filter bewus. Dan hoor hy die eerste sluk. Hy maak sy mond oop om vir die Oom te vra wat gebeur het. Sy asem skok terug in sy keel nog voor hy ‘n woord kan uitkry, as die Oom vir hom sê: “Jy word nou te groot om Klein-Gert te wees. ‘n Man word nie Klein-Gert genoem nie. Van môre af slaap jy weer alleen in jou kamer. Nag Gert.”

En Klein-Gert, wat met vreemde naggeluide “Gert” geword het, se hart klop soos ‘n resiesperd wat hardloop in sy ore.
Hy kan nie hoor of hy hard genoeg praat toe hy vir die Oom nag sê nie.

© Zymrly April 2016




TEMAS
2 Kommentaar
  1. neels

    7 April 2016

    ek onthou hierdie storie Zym maar gaan hom weer volg

  2. Desiréé

    8 April 2016

    Goeie werk Zymrly. Jy hou die leser se aandag en sluit die hoofstuk so af dat mens in spanning wag vir die volgende hoofstuk.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 19
Kommentaar telling: 36

Deur woorde raak mense mekaar aan. Lees hou my gedagtes soepel om te kan skryf.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 489 gaste aanlyn

Bydraes – Argief