AMETIS (dis in die klip)
“Ametis” het jy gesê
toe rinkel klank
soos klippieklokkies
deur my lyf
en kleur my wêreld pers en violet
en op daardie oomblik
breek die dag se grou
en word ‘n vonkeluur
vol lank gelede se onthou.
*
Pa leun teen die deurkosyn
in sy hand, ‘n bruin kardoes.
Ek laat die steentjies tuimel
in ‘n hopie op my bed
en stryk dit met my palm plat.
Die jaspis, wat so dieprooi roes
maak amber vuur in die agaat
die tieroog lê – vol strepies –
neffens rooskwartspienk
en smeulendbruin granaat
maansteen wit langs groen smarag
maar ek was só bewus
dat lig skakeer en sluimer
in die hart van ametis.
*
“Ametis” het jy gesê
toe rinkel klank
soos klippieklokkies deur my lyf
en breek die dag
in pers en violet
vir ‘n wyle’t ek weer kind geraak.
En verstom het ek bly wonder
hoedat die klank en kleur van klip
. . . ‘n vrou soos ek
so bróós kan laat.
© C. Shaw
7 April 2016
7 Kommentare
-
Arnold
Dit laat nie net die vrou weerloos nie maar elke mens verwonder hom aan daardie suiwer kleur van die edel gesteentes.
-
Anria
Pragtige, perfekte gedig!! Dis puik puik puik en laat my binne vol emosie.
-
Zymrly
Hierdie is waarlik 'n besondere gedig. Ek maak dit my eerste gunsteling gedig op Ink. Jy het 'n gawe om te skryf.
-
Meermin
Stem saam al die Inkers hier bo. Goed gedig.
-
borrels
Pragtig Viooltjie ... mal oor jou laaste strofe!
-
Kiekies
Een van my geliefde stene, my geliefde kleur en woorde deur my geliefde digter om 'n puik gedig te bou!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Carma hierdie een kry tien goue sterre