
Stemme
Was dit Carroll of Hubbard wat gesê het “‘n ware vriend weet alles van jou af, maar bly steeds lief vir jou”? Ek’s seker dit was Hubbard. Carroll was meeste van die tyd te hoog op boom om sulke insiggewende wyshede te skryf. Wie dit ook al was, was reg. Dít is wat Bessie vir my is. ‘n Ware vriendin. Sy wéét. Sy weet álles. Tog verwerp sy my nie omdat ek kammakastig ‘mal’ is nie.
Ek dink nie ek is mal nie.
Weet mal mense dat hulle mal is?
Ek is seker ek sal weet as ek mal is.
En as ek nie weet nie, sal Bessie my sê. Dis wat sy doen. Sy is soos ‘n spieël wat my wys wie en wat ek regtig is.
Ek het Bessie ontmoet in ‘n koffiewinkel. Een van daai bekende kettingwinkels waar mense toustaan vir té duur koffie, wat nie regtig lekkerder is as enige koffie wat jy uit ‘n blik uit kry nie. Ek het verveeld gewag terwyl hulle my koffie voorberei het. Emmakoelêma het langs my gestaan en kliphard kommentaar gelewer oor die ander mense in die winkel. In haar stoute Kaapse dialek wat my altyd laat glimlag het. Ek het maar net my oë gerol en my kop met ‘n glimlag geskud. Niemand anders in die raserige winkel het haar gehoor nie. Niemand anders kón haar nie.
Dis asof sy uit die bloute uit verskyn het. Bessie. Bruin hare. Groen oë. ‘n Paar sproete op haar neus en wange. So al asof iemand besluit het om haar sproete te gee, maar halfpad verveeld geraak het en opgehou het om die kolletjies te verf. Sy het my hand gevat en met ‘n pen daarop op begin skryf. My eerste reaksie was om my hand weg te ruk, maar die kalmte in haar gesig en die warm van haar aanraking het my laat ontspan en ek het haar laat begaan.
Emmakoelêma het egter dadelik hier langs my stof opgeskop. “Hei! Wat ma’ djy? Djy los vi’ hom nóú of ek blissem vi’ djou!” Ek het vir Emmakoelêma geglimlag en oog geknip. Maar sy was nie geamuseerd nie. Sy het haar opgeruk, uitgeloop en by die kar gaan wag.
Toe Bessie klaar geskryf is kyk ek nuuskierig na wat sy op my hand geskryf het. “Bessie.” En ‘n telefoonnommer. Die pragtige bruin-haar meisie het elegant omgedraai en begin uitstap. Sy het vir ‘n oomblik weer na my gekyk. Sy het haar hand na haar oor en mond toe gebring – uitgestrekte duim en pinkie – asof sy ‘n denkbeeldige telefoon vasgehou het. Sy het die woorde ‘bel my’ gevorm met haar lippe sonder om die woorde hardop te sê. Ek het my naam elders in die winkel gehoor en toe ek omkyk sien ek die barista my koffie op die toonbank neersit. Ek het weer teruggekyk na waar Bessie gestaan het, maar sy het reeds tussen die skare mense in verdwyn.
Dit het my ‘n week gevat om genoeg moed bymekaar te skraap om Bessie te bel. Sy het vriendelik geantwoord en ek het hakkelrig aan haar verduidelik wie ek was. Sy was in ekstase dat ek haar uiteindelik gebel het. Ons het dadelik gekliek. Asof ons ‘n leeftyd al vriende was. Toe ons oproep tot ‘n einde kom was ek stomgeslaan dat ons byna twee ure gepraat het. So het dit vir nog ‘n week gegaan. Ek het haar elke dag gebel en ons het ure aaneen gepraat. Oor alles. En alles. Ek het haar oplaas genooi vir ete by my huis. ‘n Veilige spasie vir my én boonop is ek ‘n goeie kok.
Sy het op die kop seweuur voor my deur gestaan. Uitgevat in ‘n vloeiende groen rok wat net die regte plekke van haar lyf geaksentueer het. Ons het langs die tafel gaan sit en begin wyn drink. Soos ou vriende wat mekaar jare laas gesien het, en ‘n leeftyd se stories gehad het om te deel. Dit het egter nie baie lank gevat voordat sy ‘dit’ agtergekom het nie. Of eerder hulle? Ek het my bes probeer om hulle te ignoreer, maar hulle maak dit onmoontlik.
Eers het Dawie van die een bank na die ander een in die sitkamer gespring. Dit was egter nie lank of Gomgat was ook in die sitkamer nie. Hy het natuurlik vir Dawie gewaar en het hom heen en weer in die sitkamer rondgejaag. Elke keer as hulle naby ‘n lamp of die TV gekom het, het my gesig onwillekeurig skeef getrek omdat ek verwag het hulle gaan iets breek. Gomgat het vinnig ongeïnteresseerd geraak met die speletjie en Bessie opgemerk wat oorkant my gesit en gesels het. Hy het nader gewaggel met sy logge trollyf en oor haar skouer getuur. Ek het weer my mond skeef getrek toe dit lyk asof die borrel snot wat uit Gomgat se neus gehang het, op Bessie se skouer gaan drup. Ek het op my tande gekners en met kwaai oë na Gomgat getuur. Sy blik het my gluur gesien, en hy het dadelik die gang af verdwyn. Bessie het egter ook my gluur raakgesien.
“En nou…?” het sy onseker gevra.
“Ek… Daar… Nee… Daar is iets in my oog. Jammer. Jy het gepraat van julle vakansies op Jeffreys?” het ek dit probeer wegpraat.
Nie dat dit veel gehelp het nie. Minute later was Mindie daar.
“Wie is sy? Wat doen sy hier? Wat drink sy? Hoekom het sy ‘n groen rok aan? Wat is die kolletjies op haar gesig? Gaan sy my nuwe mamma wees?” ‘n Oneindige string vrae uit die blondekop meisie se mond, terwyl sy nuuskierig heen en weer om Bessie geloop het. Die irritasie moes so duidelik soos daglig op my gesig gewees het. Ek kon sien Bessie raak ongemaklik, maar ek het deurgedruk met my storie oor my matriek vakansie op Jeffreys.
Emmakoelêma het weer háár verskyning gemaak en ‘n rits vloekwoorde in Bessie se oor geskreeu. Basies het Emmakoelêma gevoel Bessie is niks beter as ‘n goedkoop prostituut nie.
Die woede het gekook en geborrel in my. Kon hulle my nie net vir één aand in rus en vrede laat nie?
Bessie het haar glas wyn neergesit en haar arms voor haar gevou.
“Toe! Uit daarmee! Vir wat lyk jy soos wat jy lyk?” het Bessie met ‘n frons gevra.
“Wat bedoel jy? Dis maar my gesig. Dis hoe ek maar lyk.” Ek het heuning oor die woorde gedrup. Hopeloos te veel soetheid want die woorde het onnatuurlik stroperig, amper singerig uitgekom.
“Asseblief tog. Jy flous niemand nie. Dit lyk asof jy enige oomblik jou moer gaan pluk, die tafel gaan omgooi en my aan my strottehoof gaan gryp en die lewe uit my druk. Is jy ‘n reeksmoordenaar?” Bessie se stemtoon het nie heeltemal ooreengestem met haar woorde nie. Sy was geamuseerd. “Dit lyk al die hele aand asof jou aandag op iets anders is hier rond is. Wat is dit? Muise? ‘n Ander meisie? Spoke? Wat pla jou so?”
Ek het my kop moedeloos laat sak. Die tyd het aangebreek. Ek sou haar vertel, en sy sou haarself verskoon en vir die res van haar lewe vir al haar vriendinne vertel van die mal ou by wie sy gaan eet het. Ek was al gewoond daaraan. Dit het al meer keer gebeur as wat ek wil of kan erken. Dit is juis hoekom ek my hart agter slot en grendel gebêre het.
“Ek… ek het…denkbeeldige vriende.” het ek dit uitgeblaker en my gereed gemaak vir die bespotting.
Bessie het doodstil bly sit, sonder om enige emosie op haar gesig te wys. So het ons vir ‘n oomblik in stilte gesit terwyl die olifant geduldig in die middel van die vertrek gesit en wag het.
Uiteindelik het sy haar skouers opgetrek en gevra, “En?”
“Wat bedoel jy ‘en’?” Ek was oorbluf.
“Is dit die einde van jou storie? Wat daarvan dat jy denkbeeldige vriende het?” het sy met opgetrekte skouers gevra.
“Ek… Maar…” Woorde het my totaal ontgaan. “Ek bedoel ek het denkbeeldige vriende. Soos ‘n kind. Ek is dertig jaar oud, en ek is omring met allerhande fiktiewe mense, diere en ander vreemde wesens. Hoe is jy vergenoegd daarmee?”
“Weet jy dat hulle denkbeeldig is; dat hulle nie bestaan nie?” Sy het haar glas wyn opgetel en, klaarblyklik, baie ontspanne agteroor gesit.
“Natuurlik.” My stem het met die enkele woord dit baie duidelik gemaak. Ek is nie mal nie. Ek weet hulle is nie werklik nie.
“Nou wat is dan nou eintlik die probleem?” Sy het geglimlag en ‘n groot sluk wyn gevat voor sy aangegaan het. “Denkbeeldige vriende is deel van ‘n kind se grootword proses. Alles sielkundiges stem ooreen dat daar niks fout daarmee is nie. Sommige studies toon selfs dat kinders met verbeelding-vriende beter af is as die wat nie het nie. ‘n Kind oefen om met ander mense te kommunikeer, om duidelik te leer praat, idees uit te druk, beurte te maak, speletjies uit te vind en konflik te oorkom deur saam met die fiktiewe maat te speel. Dit stimuleer en oefen die verbeelding en kreatiwiteit van kinders, help hulle om onderskeid te tref tussen fantasie en werklikheid, stimuleer privaat spraak, vergemaklik geselskap en leer hulle om nuwe lewensgebeurtenisse die hoof te bied. En ek kan so aangaan. Een voordeel na die ander. So hoekom dan nou nié ‘n denkbeeldige vriend hê nie?”
Ek was stomgeslaan. Dit was asof Bessie ‘n kenner op die gebied van denkbeeldige vriende was. “Net een probleem. Die woord ‘kind’ is orals in jou verskonings. Ek is dertig… Dertigjariges het nie denkbeeldige vriende nie.”
“Wie het besluit jy mag nie meer denkbeeldige vriende hê nie? Op watter ouderdom moet jy ontslae raak van daai vriende?” Bessie se houding was uitdagend. Asof sy wou hê ek moet met haar redeneer.
“My ma. Toe ek veertien was het sy in geen onduidelike terme laat verstaan dat ek te oud was vir – verskoon die Frans – ‘sulke soort kinderkak’. En die samelewing oor die algemeen stem saam. Insluitende dosyne vriende en meisies wat die verte ingevlug het my geheim uitkom of as ek oor die saak wil praat. In kort meen almal ek is mal.” Die uitgeputte verslaenheid in my stem was duidelik.
Bessie het haar glas volgemaak en weer agteroor gesit. “Vertel my. Praat daaroor.”
Dit was die begin van ons vriendskap. Onvoorwaardelik. Vriendskap is ‘n vreemde, wisselvallige, teenstrydige en soms uitdagende verskynsel. Vriendskappe word gemaak, gevorm, geskaaf en geskep deur gefokusde inspanning en moeite. En tog is ware vriendskap, sodra jy dit erken, in sy wese moeiteloos. Party vriendskappe word deur tyd gevorm. Ervaringe wat jy saam met iemand beleef. Maar nie ek en Bessie nie. Dit was onmiddellik ‘n vriendskap wat selfs lewensmaats sou jaloers maak.
Daar was egter niks seksueel omtrent ons vriendskap nie. Ons was sielsgenote maar vriende, en ons altwee het dit geweet sonder om dit te sê.
Onvoorwaardelik.
Ek kon Bessie alles vertel. Of eerder van almal vertel. Emmakoelêma, die plat-op-die-aarde Kaapse antie wat altyd sosiale kommentaar lewer. Mindie, die kleuter wat altyd alles bevraagteken. Dawie en Gomgat. Die kabouter en trol wat jare gelede karakters in ‘n TV-storie was, wat my vriende geword het. Ek weet nie eintlik wat hulle gedoen het, anders as om op my senuwees te werk nie. Dan was daar Klipklop, ‘n perd wat my heel eerste denkbeeldige vriend as kind was. Hy wou altyd rond hol en speletjies speel. Maar siende dat ek dertig jaar oud was en nie te vinde was vir kinderspeletjies nie, het ek hom afgeskeep. Bliksem, die swart hond wat opgedaag het as ek net begin goed voel het oor my lewe. Bliksem kon nie praat nie. Hy het net hartseer, depressie en selfveragting oor my kom strooi en dan in die hoek gaan sit en wag. En daar was DOOD. ‘n Geraamte geklee in ‘n swart kleed en ‘n seis in sy linkerhand. DOOD het altyd gekom as Bliksem lank genoeg langs my bed geslaap het. Wanneer ek die slaappille en bottel Vodka voor my by die tafel gesit het of met die pistool in my hand gesit het, het DOOD gekom. Met sy hand op my skouer het hy altyd gevra of ek seker is. Ek was nie bang vir DOOD nie. DOOD was vriendelik. Hy was altyd ernstig, maar sag. DOOD wou my nie saam met hom vat nie, al was ek gereed om saam te gaan.
“Asseblief moenie. Nog nie.”, het hy altyd in sy droë stem gesê. En elke keer het hy my oorreed om net nog ‘n dag aan te gaan. Dan het hy geknipoog en geglimlag – alhoewel hy nie oë of lippe gehad het nie, tipies vir ‘n geraamte – voordat hy verdwyn het.
Bessie het na my geluister en my gehelp maniere kry hoe om my span “vriende” te hanteer wanneer ek in die publiek of tussen ander mense was. Haar voorstelle het gewerk soos ‘n bom. My spulletjie kamerade was naderhand net agtergrond geraas, soos ‘n radio wat iewers speel, maar nie hard genoeg is dat jy die deuntjie kan herken nie. Na Bessie in my lewe gekom het, het Bliksem baie selde sy verskyning gemaak. Dit het beteken dat ek DOOD nooit meer gesien het nie. Ek kon uiteindelik leef sonder om konstant te vrees dat mense gaan dink ek is mal.
Dit was ‘n Saterdagoggend. Ek het op en af tussen rye hemde en broeke gedwaal opsoek na nuwe uitrustings vir die nuwe ek. Bessie het my nou en dan nader geroep as sy ‘n hemp of baadjie vir my wou wys wat sy gedink het sal by my pas.
Ek was besig om twee hemde voor my uitgehou om mooi te kyk watter kleur ek die meeste van hou, toe iemand my op die skouer tik.
“Vir wat tik jy aan my?” het ek gemaak kwaai gevra en omgedraai om te sien wat Bessie vir my wil wys.
“Sjoe, maar jy is kwaai!” Die skraal man, met die groot neus en seeblou oë was nie Bessie nie. Dit was Dennis.
Dennis. Dennis wat ‘n paar jaar gelede ‘n baie goeie vriend was, maar op ‘n stadium al hoe minder en minder met my begin praat het. Naderhand het hy glad nie meer my oproepe of boodskappe geantwoord het nie. Omdat ek in sy opinie mal was, het ek aangeneem.
Dennis het met ‘n breë glimlag sy hand voor hom uitgesteek en ek het sy hand gevat en blad geskud asof sy hand ‘n slang was.
“Hoe gaan dit met jou? Wat maak jy in die lewe?” Dennis het met my gepraat asof hy my nie verloën het nie.
“Ag. Dieselfde. Jy weet mos ek is die oninteressantste persoon op aarde.” Ek het die pot heuning uitgehaal om die woorde soet te maak, maar daarteen besluit. Vir wat moes ek maak asof ons vriende of iets is?
“Ja, ja. Ek glo dit nie vir ‘n oomblik nie. En het jy al vrou gevat?” Blykbaar het hy nie die venyn in my stem opgetel nie, want hy was steeds té vriendelik.
Ek wou eers sê ‘nee’, toe ek Bessie so ent weg gewaar waar sy met ‘n frons aan ‘n baadjie se mou gepluk het.
“Ek het ja.”, het ek geantwoord met ‘n selfvoldane glimlag. Ek het ‘n kort fluit gegee en toe Bessie omkyk na my toe, beduie ek dat sy moet kom.
“Bessie, dis Dennis. Dennis, dis Bessie my verloofde.” Het ek met ‘n stout glimlag gesê en vir Bessie geknipoog.
Dennis het gefrons en sy oë het soekend gekyk na waar ek gewys het.
“Ek… Waar…?” Dennis was vir een of ander rede onseker oor iets. Ongeskik.
Daar was mos niks vreemd omtrent die situasie nie. Jy groet mos net iemand aan wie jy voorgestel word.
“Ek moet gaan. Maar dit was goed om jou weer te sien.” het Dennis uiteindelik kortaf gesê, ‘n tree agteruit gegee omgedraai en begin wegloop. ‘n Paar tree verder het hy egter weer omgedraai en met ‘n hartseer in sy oë gesê, “Gaan sien iemand. Groot asseblief.” Sonder om te wag vir ‘n antwoord het hy weer omgedraai en uit die winkel verdwyn.
“Wat de…” Ek was geskok. Dit was glad nie hoe ek Dennis geken het nie. Hy was ‘n mense-mens en altyd vriendelik met almal.
Ek het vir Bessie gekyk, en my mond oopgemaak om om verskoning te vra vir Dennis se ongeskikte gedrag. Maar geen woorde het uitgekom nie. ‘n Oomblik van helderheid. Bessie het my blik vermy en na die vloer gestaar sonder om na iets te kyk.
Die wêreld het begin draai. Krake het in my gevorm en my wêreld het begin verbrokkel.
Bessie. Was. Een. Van. Hulle.
Die trane het onbeheerst oor my wange gerol. Bessie het opgekyk en haar hand uitgesteek om die trane af te vee, maar ek het weggetrek dat sy my nie kon bykom nie.
“Ek dog jy het geweet?” het sy gesê met trane vlak in haar oë.
Ek dink nie ek is mal nie.
Weet mal mense dat hulle mal is?
Ek is seker ek sal weet as ek mal is.
En as ek nie weet nie, sal Bessie my sê.
***
“Skisofrenie.” het Dokter Verster weer gesê. “Maar dis glad nie ‘n doodsvonnis of iets nie. Ons neem jou vir ‘n paar dae op, kyk watter medikasie werk vir jou en ons monitor jou vordering noukeurig. Voor jy jou oë uitvee is alles onder beheer en normaal.”
Ek het nie geantwoord nie. Moes sy met my praat asof ek ‘n kind was?
Sy het nog ‘n rukkie gebabbel oor wat ‘skisofrenie’ was en wat dit nou eintlik beteken het vir my en die toekoms. Toe sy vir ‘n oomblik stilbly staan ek op en verduidelik baie duidelik aan haar dat ek in geen malhuis opgeneem gaan word nie. Sy het gesug en in die onleesbare doktershandskrif op ‘n voorskrifpapier geskryf en dit aan my oorhandig. Sonder om verder iets te sê of te vra het ek haastig uit die kloustrofobiese spreekkamer ontsnap.
‘n Rukkie later, in die veiligheid van my huis, het ek by die kombuistafel gesit. Voor my het ‘n ry botteltjies met pille wat die Dokter aan my voorgeskryf het, gestaan. Om die tafel het my span vriende gestaan. Mindie. Dawie. Gomgat. Emmakoelêma. Klipklop. Bliskem. DOOD.
Bessie.
Ek het van die een na die ander gekyk. Hulle het in doodse stilte na die botteltjies pille op die tafel gekyk.
Hoekom? Hoekom moes ek nou eintlik pille drink? Net omdat een of ander dokter besluit het ek is ‘siek’ – soos wat sy dit gestel het. Skisofrenie is ‘n siekte. Sy’t eintlik bedoel ‘mal’. My vriende hier om my het my géén skade aangerig nie. Ek na Bliksem gekyk. Bliksem het net na my gestaar.
Denkbeeldige vriende is goed vir jou. Ek het weer deur die lys voordele van denkbeeldige vriende opgenoem, wat Bessie destyds gelys het. Bessie was die beste ding wat nog ooit met my gebeur het. Sonder twyfel. So…
“Vriende. Beste vriende. ‘n Lewe sonder vriende is soos om sonder sonskyn, suurstof of water te probeer oorleef.”
Ek het weer van die een karakter na die ander een gekyk.
“Nee. Ek is lief vir julle.” Ek het opgestaan, die botteltjies pille opgeraap en in die asblik gegooi. Ek het weer gaan sit en met elkeen van my vriende begin praat, uitgevra oor hulle dag of wat hulle vanaand wil doen. Soos wat vriende maar gesels na ‘n lang dag.
Ek was gelukkig.
***
Dokter Verster kyk hartseer deur die waarnemingsvenster na die man by die tafel. Die man praat joviaal en geanimeerd met onsigbare mense om hom. Dit is altyd vir haar hartseer wanneer geestesversteurings so lank vat voor dit gediagnoseer word. Sy ma of pa of eintlik énige iemand in die gemeenskap moes die tekens gesien en iets vir hom gedoen het. Maar meeste mense vrees geestesversteurdes. Die hospitaal is vol van mense met dieselfde storie. Uitgeworpenes. Ongewenstes van die samelewing.
Dokter Verster skryf ‘n paar notas in haar verslag voordat sy weer na die man kyk.
Ten minste lyk hy gelukkig.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2022 OOP projek