Toe nie met oop oë gebore nie!
(Woordtelling 1304)
Dit is darem verstommend dat selfs al het jy reeds oor die lewe se halflyn-strepie geglip, jy nog steeds onontginde talente kan ontdek. Mens sou tog dink dat jy teen hierdie tyd weet wie en wat jy is en waarin jy uitblink of nie.
Aanvanklik het ek gedink April Fool’s Day het hierdie jaar net ʼn bietjie vinniger gearriveer as ander jare – so ʼn hele week te vroeg, maar wie tel nou eintlik?
Maandag is ek flink uit die vere want my nuwe besending boeke moet vandag afgelewer word. ʼn Hele paar kartondose vol en ek kou al naels want waar op dees aarde gaan ek die goed pak en hier is skaars plek vir ʼn muis. Miskien moet ek dit maar opmekaar stapel en ʼn sitplek daarvan maak. Maar, my opgewondenheid het vinnig gekwyn toe een van die kartondose iemand anders se boeke bevat!
Naarstiglik skakel ek die koerier se nommer om hierdie sakie uit te klaar. Dit is goed en wel dat ek met ʼn vreemdeling se voorraad sit. Ek weet darem dat ek dit nie rêrig sal waag om ʼn stoel daarvan te maak nie, maar sy mag dalk nie dieselfde oor my goedjies dink nie.
Die vriendelike dametjie aan die anderkant van die telefoon lig my in dat my pakkie ongelukkig tot in Oos Londen gereis het en as ek net hierdie nommertjie vir ons plaaslike tak sal skakel, sal dit vinnig uitgesorteer word.
Ongelukkig is alle dames nie uit dieselfde stukkie lap geknip nie en die plaaslike een is sommer openlik ongeskik. Dan is sy ook nie iemand wat pa of ma wil staan vir ʼn fout wat duidelik deur hulle gemaak is nie, en sê dis die uitgewer se skuld. My ystervarkpenne ritsel so saggies want niemand gaan sommer net ʼn ander verniet beskuldig nie. Jy wys nie een vinger vorentoe en sien nie die ander raak wat na jouself terug wys nie!
Ek druk maar ʼn koel lappie teen my warm voorkop en smeer die heuning dik aan. Immers is my duur betaalde besittings nou in haar krom hande en is ek van haar guns afhanklik om dit ongeskonde tot by hierdie huis te kry.
Dinsdag breek aan, Dogter se verjaardag. Aangesien ons baie jare laas so ʼn geleentheid saam deurgebring het, besluit ons om iewers ʼn koppietjie koffie te drink en ook sommer ietsie te eet om die groot dag te vier. Dit moet natuurlik by ʼn plek wees waar die kinders buite kan speel tot hulle tonge op die grond sleep (al is dit net sodat ouma bietjie agteroor kan sit).
Die koel melkskommeltjie gaan heel lekker en koel af, en die dametjie is vinnig daar om ons bestelling te neem. Dit is nogal raserig by hierdie plek want ons sit letterlik tussen die swaaie en klimrame. Die groot koelteboom was egter ʼn groter trekpleister en gesels maar so tussen al die plesierige gille deur. Die kelnerin glimlag mooi en skryf ons bestellings met groot sorg neer. Nou begin die lang wag.
En ons wag. En wag. Ek begin agterkom dat melkskommel nie kos is nie, en dit les ook nie jou dors nie.
Eers kom die kinders se kos. Uhm nee, dit moes nie broodjies gewees het nie, maar pizza. Die kelnerin is verleë en gaan tjank in die badkamer. En rêrig, ons was glad nie lelik met haar nie! ʼn Ander kelnerin staan maar goedgunstiglik in en sy sit TWEE pizzas voor Dogter neer – een met vye op (yuck) en die ander een met ander oneetbare vleiserige-dinge. ʼn Ontbyt-pizza met gebakte eiers word vir Hubby afgelewer (yuck). Toe ek sien sy mik om te loop, vra ek haar of ek ook darem vandag nog kos gaan kry? Ons wag immers seker al veertig minute of so.
Uhm, wat het ek bestel??? Oh nee, hulle het nie DAAI kos in voorraad nie. Ek hap verward ʼn paar lugborrels want hier het baie duidelik iets groot verkeerd geloop. Asof die jillende kinders nie alreeds genoeg was om my snare styf te trek nie, begin die eerste een nou sommer skiet. Wil ek iets anders bestel? Nee, want nou gaan ek eers sit en kyk hoe my tafelgenote eet terwyl ek al die tafel wil aflek uit pure honger. Wanneer my kos miskien oor ʼn verdere veertig minute gaan opdaag, sal die kinders heel waarskynlik al moeg en huilerig wees en almal gaan dan ongeduldig vir MY sit en kyk hoe ek eet!
Elkeen wat sy lewe liefhet weet dat mens nie tussen ʼn persoon se bord kos en sy honger maag indruk nie, en my m**rtjie is heel gepas, maar onverwags, lekker dik. Ek vat my handsak en gee liewers pad voordat ek in trane gaan uitbars. Die gesmelte rubber lê seker oor die restaurant se vloer, maar ek storm voort. Kleinseun hardloop agterna met ʼn stukkie pizza. “Hier ouma, ek het vir jou kos gebring.” Mag ek nou maar sê dat ek toe byna aan die tjank raak omdat hy so ʼn omgee hartjie het? Boonop kan ek mos nie die kind se kos uit sy mond vat nie! Hulle pizzatjies is so groot soos ʼn kleinbortjie en nou-nou is die arme kind nog honger en moet ons vir roomys stop omdat Mamma verjaar.
En so, terwyl ek in die kar sit en broei, loop my gedagtes oor al die jare se gehap na lugborrels by vele restaurante. Daardie keer toe ons ʼn Banana Boat bestel het, maar die kelnerin eers die piesangboom moes gaan plant en kyk hoe dit groei. Ons het ure daar gesit voordat daardie nagereggie op ons tafel beland het.
Wat van die keer toe ons net ʼn eenvoudige ou melkskommeltjie wou drink, maar die koei moes eers gebore en grootgemaak word voordat sy melk kon gee wat in roomys omskep kon word. Ons het net so lank gewag. Dit raak nogal ongemaklik wanneer mens agterkom dat mense wat lank na jou gearriveer het, reeds lekker smul en jy sit soos Piet Pompies droëbek en wag nog steeds.
Wat van die ander keer toe ons rasend honger by ʼn restaurant in ʼn bekende “kunstenaar-dorp” opgedaag het. Daar was net ʼn hoop rys en twee sopbene in die koue bord voor my. So byna het my hare byna vlam gevat het want van hul beloofde bredie was daar niks te siene nie. Omdat die hele dorp op ʼn Sondagmiddag gaan stilstaan, was daar nie ʼn enkele kafee oop om ʼn brood te koop nie. Honger mag ʼn goeie kok wees, maar dit is verseker nie ʼn goeie brandblusser nie.
Of daardie keer toe vriendin haar geroosterde broodjie reeds verorber het en ek nog (on)geduldig gesit en wag het dat myne eendag sal opdaag? So uit die hoek van my oog het ek ook gesien hoe die kelner met ʼn sakkie in die hand oor die pad aangesluip kom. Deesdae is ek nie meer so geduldig nie en het al opgestaan wanneer dit voel asof hulle eers die koring moes gaan plant.
En nou hierdie. Ek wil met trane in my navy blue eyes weet waarom hulle nie gesê het dat al die bestanddele vir daardie gereg nie beskikbaar was nie? En waarom het Dogter so wragtag TWEE pizzas gekry want sy kon kwalik een verorber. Ek was ook nie van plan om een van daardie wild avontuurlike disse te eet nie. En buitendien, ek was in elk geval nie lus vir pizza nie.
Maar terwyl ek so sit en nadink in die warm kar, besef ek dat dit nou seker een van my onontdekte talente moet wees. Hierdie vermoë om hopeloos te dikwels die presiese item op die spyskaart te kies wat nie beskikbaar is nie. Dit is asof my radar ingestel is om daardie een item op te spoor asof dit die enigste dis is wat my honger sal stil.
Is ek nou bewerig-bang om weer agter ʼn openbare plek se tafel in te skuif? Verseker. Maar as ek nou slim is, kan ek hierdie in ʼn inkomste geleentheid omskep – die kliënt kan my gebruik om alles uit te skakel wat nie beskikbaar is nie. Op daardie manier sal niemand tyd mors en hopeloos te lank wag voordat sy kossies dalk opdaag – of nie. Dit is amper soos om ʼn munt in die lug te skiet en te kyk op watter kant dit sal val.
Vandag berei ek liewers self my ete voor en weet sommer dat die helfte van wat ek gaan opdis, ook op my bordjie sal beland. Fluit-fluit, my storie is nou uit.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2022 – OOP projek