Waar Bamboes Opdrif Teen Die Lug…
Waar bamboes opdrif teen die lug se blou
en die rooivinkies hulle nessies bou;
waar waterlelies op die water roei
en weglê-eende hulle eiers broei;
waar die loeries sku tussen lower hou
en ‘n siel nog trou op sy God vertrou,
wil ek -as dan my aardse tentdoek reep
deur donkerkloue van die dood se greep-
in klammigheid van sagte oewerklei
‘n laaste slaapplek vir my toeberei
om dan, as nagwaakwaterkiewiete
nag se stil versteur langs loof en riete
met skrilwanklinkende skarnier geskree,
my siel -onsterflik!- vrye teuels te gee;
na nekrobiose die stroom mag voel
wat blaartjies loslappig verby my spoel.
Ek wil stil rus waar eens jou stem
-reeds jare lank nou al ontstem-
in vrolikjeugdigliefdesspel
kindverrukkend uit kon gil
oor sonnespatsels teen my wang
of kamma vir ‘n vlinder bang
want só,glo ek, besweer ek dan my dieplê bang
van pynlik’ nimmereindig seerverlang…
4 Kommentare
-
-
neels
soos evelyn dit stel treffende woordgebruik
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Evelyn van der Merwe
Sjoe voortreflike woordgebruik. Knap gedaan. Hou hiervan.