Jongste aktiwiteit:

Wag,

Wag.

Geskryf oor die tyd dat ons in Malawi gaan woon het. Oor lang tyd, min tyd, verkeerde tyd.

Bokka is toe hier weg.
My laaste opdrag: ‘gaan kry dinge vinnig agtermekaar daar in Johannesburg en wikkel Malawi toe. As jy daar aanland is die heel belangrikste taak om my vliegtuigkaartjie te stuur sodat ek ook kan gaan. Seblief, moenie my lank alleen los en laat wag nie!’
Die laaste sin was sekerlik onnodig want nie een van ons twee vaar baie goed sonder die ander ene nie.

Omdat ons besluit het om eers net die huis toe te sluit, totdat ons seker is alles loop soos ons hoop dit sal, moet daar ekstra veiligheidsmaatreëls in plek gestel word. Ons het dit nog nooit nodig geag om diefwering en ysterhekke te installeer nie, maar as daar niemand gaan woon nie sal ons dit maar móét doen. Tesame met ’n alarm en oop-oog bure behoort ons plekkie dan veilig te wees.

Ek moet regstaan vir al die werksmense wat die werk moet kom afhandel. Intussen moet ek vir Jackie, my honde-kind, ’n huis probeer vind. Nie sommer enige huis nie. Dit moet iemand wees wat hom net so lief sal hê as ek self. Anders sal ek hom liewer laat uitsit. Ek kan myself nie voorstel hoe ek enige van die twee opsies uitgevoer sal kry nie. Ek vra aan al die vriende en familie, vêr en naby, om te help soek. Hoe gee ’n mens jou kind weg?

Met die verloop van tyd word ek binne-in ’n tronk toe gesweis en geskroef. Wat voorheen net ’n silwer ringetjie met ’n afstand beheerder en twee sleutels was, groei binne ’n paar dae aan na ’n bos sleutels swaar genoeg om ’n goeie wapen te wees vir selfverdediging. Nee, twee sulke bosse, want daar is ’n kopie van elke sleutel en twee mense sal elkeen ’n bos hê om die huis op te pas. Dis voorwaar ’n skreiende skande dat ons vanweë diewe en inbrekers, so baie geld aan beveiliging moet bestee.

Terwyl die man besig is om op ’n publieke vakansiedag, die yster-gordyne te installeer, kom kuier Murphy toe ook helemaal ongenooid, om frustrasie aan te dik en my beursie te verdun. Iewers raak drade verstrengel, veroorsaak ’n kortsluiting en kap die elektrisiteit mors-af. Al wat nog werk is die radio’tjie wat lustig uitsaai van die RSG ateljee af. Enige iets anders wat ons inprop, laat die hoofskakelaar op die bord afslaan. Ek oorweeg eers om uit te hou tot die volgende dag om die onkoste so laag moontlik te hou, maar my koffie-lus laat my ingee. En die gedagte aan ’n yskoue stort en doodse stilte sonder ’n TV-program om die aand verby te kry. Gelukkig kry ek iemand wat bereid is om te help en binne ’n uur is alles weer herstel en drink ek stadig aan ’n stomende koppie koffie. Die duurste koffie wat ek nog ooit gemaak het.

Verder is daar ’n teer walletjie voor die motorhuis se deur gebou om water wat onderdeur die deur loop as die noord-weste wind dryf, te keer. Daar was onlangs ’n eis uitbetaal vir waterskade en ons kan dit nie weer laat gebeur terwyl ons weg is nie. Die reënseisoen is hoeka nou op pad. ’n Toetslopie-reënbui, bewys egter dat die wal nog nie genoeg is nie. Ek moet weer die hulp van ’n vriend inroep, want sien, al hierdie dinge moet nou regkom, noudat Bokka al weg is. Dis mos hoe dit gewoonlik gaan. Ek wil dit nie hardop sê nie, maar dit is ’n feit soos ’n koei. Goed loop verkeerd as ek alleen is. Daarom dat ek net weer weet dat ek nie veronderstel is om sonder hom te wees nie.

Gelukkig loop die ander reëlings darem gladder en tuindienste word gereël om die gras kort te hou en die beddings skoon, sodat dit nie weer in ’n oerwoud ontaard soos laas dat ons weg was nie. Terwyl dit darem ook lyk asof daar mense tuis is. Buurvrou sal alle pos uit die posbus verwyder. Tydskakelaars sal ligte in verskillende vertrekke op verskillende tye van die oggend en die aand aan en afsit, om dit nog meer na normaal te laat lyk.

Ek kry opdrag van Bokka uit die goudstad om by die reis kliniek vyf inspuitings te laat toedien. Ja vyf! Ek is nie bang vir ’n inspuiting nie, maar vyf! Daarvoor ry ek Somerset-Wes toe en ’n vreeslike ongeduldige verfynde doktertjie staan my te woord. Of is dit ‘te steek’. Hy spuit in soos wat ek veerpyltjies gooi. Elke naald dring vanuit ’n ander windrigting my bo-arm binne. Een van hulle gee onmiddellik die sensasie van ’n ‘lammie’.

Toe ek daar uitstap voel ek soos een van daai opgestopte Amerikaanse voetbalspelers, ’n knop op elke bo-arm. En sonder my kwitansie om die hoop geld wat ek moes betaal, terug te eis van Bokka se nuwe werkgewer. Moes ek toe aanhoudend en voortdurend by die doktertjie pleit om tog asseblief die kwitansie vir my te e-pos? Net toe ek dink hy weet nie hoe om dit aan te stuur nie en besluit ek sal maar weer moet ry om dit te loop haal, kom dit onverwags deur.

Intussen kry ek die beste nuus ooit uit Malelane. Daar waar my heel beste pêllie van toeka woon. Sy het geweet hoe my hart voel oor my brakkie en dit haar taak gemaak om vir hom ’n huis te soek. Deur haar vriendin in die Kaap, daar naby die berg, kry hulle vir hom ’n huis. Iemand wat ’n hart vir diere en diere se mens-ma het, besluit sonder voorbehoud om hom aan te neem. Al is hy amper elf jaar oud. Dit maak ook nie saak dat hy nog nooit verkeerd gemaak was nie, want sy het ’n honde meisiekind van dieselfde ras en as die twee besluit om met ’n gesinnetjie te begin, sal sy dit so aanvaar. Ek gaan dalk in absentia ouma word.

My mensekind neem my en honde-kind na sy nuwe aanneem ma se huis toe. Heelweek voel ek soos ’n hond of ’n vark, watookal die wreedste gevoel mag wees, oor dit wat ek gaan doen. Elke keer as hy na my kyk met sy verlepte ogies, so lyk dit vir my, vra hy:
‘Hoekom wil jy my nie meer hê nie?’
Net om dit vertel, laat my borskas weer ineen kramp. Ek het maar heelweek bederf met ekstra stappies langs die see en lekker happies uit die koekblik en yskas. Ek weet nou wat oor-kompenseer beteken. Ek verwens vir Bokka oor ek al hierdie dinge alleen moet deurleef. Asof hy enigsins kan help, maar ek het iemand nodig om te blameer.

By die nuwe tuiste aangekom is daar geen teken van verlepte ogies nie! Sy oë glinster soos donker sjerrie toe hy die nuwe meisiekind-hondjie gewaar. Sy hardloop hom tegemoet met ’n wye glimlag en ’n toffie-pienk tongetjie wat kwyl. Sy weet duidelik hoe ’n kwaliteit opgevoede Jack Russel mansmens-hond moet lyk. Sy val voor hom neer in ’n diep buiging en rol op haar ruggie terwyl die stertjie nooit ophou wikkel nie. Hy ontdek honde-hemel-op-aarde en het nooit weer in my rigting gekyk nie. Nie eers toe ek met nat wange en ’n kramp in my keel daar uitgeglip het nie.

Twee dae later kry ek my vliegkaartjie en vyf dae later prop ek tydskakelaars in en deel trosse sleutels uit, nadat ek Alcatraz agter slot en grendel op knip getrek het. Geyser, stoof en yskas afgeskakel en water toegedraai.

Malawi hier kom ek, ‘ready or not’!




Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak