Sommer
Karel gee Hetta se been ʼn drukkie waar sy hand bo haar knie rus terwyl hy geduldig sy beurt afwag by die stopstraat. Dit is spitsverkeer in Blinkpan, daar is drie motors voor hom.
“Hou op stress, dit sal okay wees.” probeer hy die bekommerde frons tussen haar groen oë wegpraat.
“Ek hoop regtig so, want …” sy wil nie dink aan die seer as Karel haar na vandag nooit weer wil sien nie.
“Want?”.
“Want jy ken nie my oupa nie.” antwoord sy driftig.
Wat help die pragtige haarsnit, sorgvuldige grimering en nuwe rok as Oupa alles gaan verongeluk? Sy het elke truuk in haar Eva-mondering gebruik om Karel se asem vandag weg te slaan. Toe sy die deur oopmaak en sy oë vergroot, en sy glimlag verander in oopmond verbasing het sy geweet sy het geslaag. Miskien is alles nie verlore nie.
“Ek is seker jou Oupa is nie so bad soos jy voorgee nie.”
Sy glimlag. Karel is altyd kalm. Dit is een van die eerste eienskappe van hom wat haar aangetrek het. Die feit dat hy aantreklik is, het ook gehelp om haar aandag te trek en te hou. Hy het ʼn oop, eerlike gesig, teddiebeer bruin oë en krullerige bruin hare.
“Draai links by die volgende straat, nommer veertien, dit is nog so entjie aan” navigeer sy en laat haar oë weer oor hom dwaal. ʼn Gholfhemp, denim en tekkies met logo’s wat wys hulle is nie op hierdie dorp gekoop nie, hare kort en netjies, geen baard, snor of tatoeëermerke nie. Nee wat, soek soos hy wil, fout met Karel se voorkoms gaan Oupa nie vind nie.
Miskien slaap Oupa vanmiddag, of het hy by iemand gaan kuier of … hoop sy vurig toe Karel se dubbelkajuit bakkie voor die bekende hek stop. Voor hy die interkom se knoppie kan druk, gaan die hek oop.
“Sien, voor ek vra of aanmeld word ek reeds ingenooi.” skerts hy om sy eie ongemak weg te praat. Hetta het hom ook al senuweeagtig oor haar Oupa. Hy gee nie om of die oom van hom hou of nie, hy kuier mos nie by hóm nie.
Hy hou baie van hierdie rooikop-groen-oog girl. Sy het nie fieterjasies nie. Met haar eerste woorde “Ek kan en sal self my motor se wiel omruil baie dankie,” het hy geweet, met dié girl gaan hy kansel toe. Haar vasberadenheid om te wys sy kan self regkom bring ʼn oorweldigende drang in hom na vore om haar te beskerm. Hy wil haar toedraai in watte en wegbêre waar geen wreedheid, seer, gesukkel of moeite haar kan vind nie. Hy wil … hy wil haar net liefhê met sy hele menswees.
Oupa se dinges, besluit Karel terwyl hy vir Hetta die bakkie se deur oopmaak en haar uithelp.
“Ag Vader tog,” prewel Hetta toe sy vir Oupa op die stoep sien sit. Sy oorweeg om om te draai en op ʼn ander dag weer te kom, maar Karel neem haar hand en stap stoep toe.
Oupa bly sit terwyl hulle die stoeptrappe klim en Hetta voel die eerste irritasie beweeg. Sy wil hom vra van wanneer af is dit te veel moeite om op te staan en mens te groet, maar beteuel haarself. Dit is presies wat hy wil hê, want dan kan hy dadelik met sy venynigheid begin. Sy gaan nie die eerste skoot skiet nie maar vandag skiet sy wragtig terug.
“Middag Oupa. Dit is my vriend Karel. Karel dit is my Oupa Jan.” stel sy die liefde in haar lewe aan die doring in haar vlees voor.
“Middag hmm Oom. Dit is werklik aangenaam om Oom te ontmoet. Hetta het my al so baie van Oom vertel.” Karel is vies vir homself, hy stamel soos ʼn skoolseun in ʼn hoof se kantoor. Hoekom het hy nie vir Hetta gevra hoe hy die oom moet aanspreek nie? Is ‘Oom’ reg of moet dit ‘Oupa’ wees?
Oupa Jan kyk na die twee jonges voor hom, die een duidelik so ongemaklik soos ʼn kat op ʼn warm sinkdak en die ander een so kalm soos ʼn landmyn wat net wag vir daai onverskillige trap om te ontplof. Hy klop sy pyp in die asbakkie op die tafeltjie langs sy geliefde riempiesbank uit.
“Ja, middag. Kom sit maar.”
“Nee dankie Oupa, ons wil ingaan en vir Ma gaan groet. Ons bring netnou koffie en sal dan kuier.” Hetta trek Karel voordeur toe, hoe vinniger hulle hier wegkom hoe beter.
Oupa wys met sy pyp in die rigting van die stoele “Nee sit. Jou ma is met die duiwelsoorbel besig om met Mevrou Dominee te praat. Sy sal kom groet as sy klaar is.”
Karel gaan sit waar hy Oupa in die oë kan kyk. Hy was in elk geval nie van plan om die huis in te sluip soos ʼn hond wat vet gesteel het nie.
“Karel wie’s jy?” vra Oupa en Hetta bal haar vuiste op haar skoot.
“Karel Cronjé, Oom.”
“Is jy van die Vrystaat se Cronjés?”
“Het Oupa die Bloubulle se wedstryd gekyk?” Sy wil vir Oupa aan sy uitgewaste blokkieshemp gryp en ruk! Verdomp, niemand stel meer belang in daai goed nie, en kon hy nie net ʼn beter hemp aangetrek het nie .. en daai kakiebroek … regtig?
“Nee, Oom.”
“Die Cronje’s van die Vrystaat was joiners gewees. Boereverraaiers. Jy is seker jy’s nie van daai Cronjés nie?
“Nee Oom, doodseker.” Karel begin ontspan. Sy Oupa was ook altyd besig met die Anglo-Boereoorlog.
“Wat doen jy vir ʼn lewe, Kallie?”
“Dis KAREL, Oupa!” hy is so moedswillig!
“Ek is ʼn siviele-ingenieur Oom.”
“Elke inkelte myningenieur onder wie ek gewerk het, was arrogant en het nooit luister as mens vir hulle raad gee nie. Dink mos hulle weet alles want hulle het boekgeleerdheid.” Oupa suig-suig voor hy sy pyp begin stop.
“Het Oupa die Bulle se wedstryd gekyk?” vra Hetta desperaat. Waar bly haar ma?
“Wag Hetta ek praat nog. So waar werk jy?”
“Ek werk vir Steynbergs Oom.” Karel is trots op sy werkgewer, dis een van die grootste konstruksie maatskappy in die land.
“Sarel Steynberg se besigheid?” vra Oupa en steek sy pyp op.
“Ja, Oom. Ken Oom hom?” Karel kyk verbaas na Oupa Jan en dan na Hetta. Hoekom het sy hom nie gesê hulle ken Sarel Steynberg nie?
Hetta laat val haar kop in haar hande. Sy wil gil en skree en huil van frustrasie. Waar bly haar ma tog?
Oupa leun vooroor en beduie met die sy pyp se steel. “Hy het mos na Hetta se ma gevry. Dit was blink motors en blink praatjies – Blink Sarel het ons hom genoem. Toe..”
“Verdomp Oupa!” Hetta vlieg regop.
“Kan jy nooit ʼn vervloekte ou koei met rus laat nie? Is die enigste genot in jou lewe om ander se geluk te vertrap en goedkoop te maak? Kan jy nie maar net vrek en klaarkry sodat ek ook net ʼn lewe kan hê sonder dat jy dit beswadder en bemodder nie?”
Karel staar oopmond na Hetta. Hy weet sy rooikop het ʼn humeur, maar so iets het hy nog nooit gesien nie. Het sy regtig vir haar oupa gesê hy moet vrek en klaarkry?
Hetta ruk die voordeur oop en storm die huis binne. Karel waag ʼn versigtige kyk na Oupa wat rustig aan sy pyp trek.
Die stilte rek. Het Oupa Hetta doelbewus gedruk tot breekpunt in die hoop dat hy, Karel, haar sal los as hy haar só sien? Verbasing word woede, ʼn witwarm woede wat Karel nie ken nie.
“Hoekom?” is al wat hy deur sy geklemde tande kan sis.
Oupa se tagtigjarige blou oë kyk diep in die jongman se bruines. Hoe verduidelik hy vir hom van blink Sarel se blink woorde wat die blink van sy enigste dogter se lewe afgekrap het? Hoe beskryf hy die nagte met haar in sy arms terwyl sy elke liewe traan wat in haar was en ooit sal wees teen sy bors, daar waar sy hart is, uitgesnik het?
Met watter woorde vertel hy van die woede toe hy moes toekyk hoe haar liggaam groter word soos die nuwe lewe groei en hy daardie lewe met sy kaalhande wou uitruk en wegsmyt soos sy kind weggesmyt is? Hoe verwoord hy toe al daai woede en bitterheid in ʼn oogwink ʼn oorweldigende liefde geword het toe hulle daai nuwe mensie in sy hande gesit het?
Hy het daardie dag, met daardie klein bondeltjie hulpeloosheid in sy hande, ʼn eed gesweer voor die Almagtige dat hy nooit sal toelaat dat ʼn blink Sarel sy pragtige Hettatjie se blink afkrap nie. Hy het gesweer op sy eie lewe dat geen vark hierdie kosbare pêrel ooit sal vreet nie. Hy het blymoedig hierdie kruis opgeneem en dra hom steeds met groot ywer.
Oupa trek aan sy pyp en kom agter die het gevrek. Sonder om oogkontak te breek met die jong man begin hy die pyp uitklop in die asbakkie op die tafel langs sy gunsteling riempiesbank.
“Sommer” antwoord hy.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2019 projek - TYD