Jongste aktiwiteit:

OMDRAAI

OMDRAAI

Annelle vee die sweet met die agterkant van haar hand af, net om nog meer van die sout en stof in haar oë te vee. “Bliksem!” gil sy sommer hardop terwyl sy die trane en sweet met die punt van haar rok uit haar oë uitvee. “Genoeg is nou bleddie genoeg…” kondig sy aan sonder dat daar ‘n siel is om haar te hoor. Sy gooi die graaf dat dit ‘n bruin wolk in die stof maak en skop die emmer sodat dit met ‘n hol klank van haar wegrol. Met haar vuil voete sommer skeef in haar skoene gedruk drafstap sy terug huis toe.

Annelle draai die kraan oop om water in die ketel te tap en voel hoe die trane agter haar ooglede prik wanneer die water in ‘n dun, vaal, straaltjie uit die kraan uit loop. “Dit ook nog…” Gelukkig het die ketel darem genoeg water in vir een of twee koppies koffie en sy draai die kraan maar gedwee weer toe. Dis nou reeds maande dat die droogte hulle dorp so erg knel dat die plaaslike raad gereeld die water toevoer deur die dag afsny.

Uiteindelik gaan sit sy met haar koffie en ‘n gifpyltjie op die plastiekstoel langs haar agterdeur. Sy maak haar oë vir ‘n oomblik toe en wens dat sy haarself êrens anders heen kan wens. Haar gedagtes dwaal langs die paaie wat sy tot hier, hierdie Godverlate plek, geloop het.

In Johannesburg gebore, in Kwa-Zulu Natal grootgeword, daarna het sy draaie gaan maak in Pretoria, Richardsbaai, Port Edward, Londen en High Wycombe(Engeland), Frankfurt (Duitsland), Dubai, Blarney (Ierland), Edinburg (Skotland) en nou… nou sit sy hier in sak en as, of eerder stof en hitte, op ‘n klein dorpie in die Klein Karoo. Annelle voel hoe die trane stofstrepe oor haar warm wange loop terwyl sy aan die goedkoop sigaret suig.

Sy hoor hoe haar buurvrou langsaan weer roggel en spoeg en sy moet haar kake styf opmekaar klem om nie op die vrou te gil nie. Annelle weet dat sy haar moet inhou, want die woede kook soos heksebousel in haar bloed. Dit was vandag nie die eerste keer dat sy ‘n dier of voël moes begrawe omdat dieselfde buurvrou weer soos ‘n wafferse Rambo in haar tuin loop en gif spuit het nie. Die spanningspyn in haar bors nek en kop raak amper ondraaglik en Annelle gooi die laaste sluk bitter koffie op die grond uit.

Sestig loer reeds vir haar om die hoek en sy weet dat haar uurglas al meer as halfpad leeg geloop het. Is sy werklik bereid om haar laaste bietjie tyd in hierdie droogte, hierdie lewensdroogte wat sy ervaar, deur te bring? “Adriaan Vlok, nee!”

Met hernude drif en energie storm sy haar huisie binne en begin skoonmaak. Na die skottelgoed en die vloere pak sy haar lessenaar voor sy agter haar rekenaar gaan sit om Menneer Google in te span om na die ideale plekkie in ‘n somer reenval streek te soek. Sy is so verdiep in haar soektog dat sy amper nie haar selfoon hoor lui nie. Dis haar dogter.

“Wat maak Ma?”
‘Ek draai my uurglas om, my kind.”

© Lynne Lexow




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed