Zoempies se klikkette-klak
As daardie vetgesmeerde treinwiele gratis draai, wag jy nie eens vir ‘n kaartjie nie – jy klim bloot met ‘n stink spoed op. Maak nie saak of die ding Zoem-Zoem, Zumba-Zumba of Zuma-Zuma maak nie. Jy ry vir hom met jou lilly-white-sorry-a$$ tot die wiele geroes vashaak.
Iewers teen die einde van verlede jaar kom ‘n vriendin met ‘n vreemde storie by my aan. Sy kan (100% op die regering se onkoste), haar handwerk (laat) verpak en in die buiteland gaan uitstal. Verblyf en vliegkaartjie daarheen word ook sommer deur die staat gedek. Die onkoste van die byna weeklange markspasie word ook deur die staat betaal. Dit beloop duisende rande! En, indien jy iemand saam met jou neem, moet daardie persoon net sy eie vliegtuigkaartjie betaal want daar is twee beddens in die kamer. Mens sou byna kon sweer ons woon in die land van oorvloed melk en heuning, en van die buitekant gesien sou niemand ooit kon raai dat ons daardie einste plek al bankrot laat steel het nie. Ek sê maar net…
Intussen hang my bek wa-wyd oop! Ek dog hierdie vriendin het ‘n 7-punt-gerolde-blaar gerook, want dit klink hopelooslik te goed om waar te wees. Ek lag haar af – rêrig?!? Hoe meer sy my probeer oortuig om saam met haar op hierdie treintjie te klouter, hoe harder lag ek.
Twee maande later staan sy weer voor my deur. “Doen asb hierdie ding saam met my…” En so daag ons ons twee saam-saam op by een van SEDA se kantore. Elkeen met ‘n paar handgemaakte produkte styf onder die arm vasgeknyp. ‘n Onderhoud word gevoer, ons produkte word geïnspekteer, ‘uhm’ en ‘ahhh’. Dit lyk goed, reg vir die uitvoermark. Ekskuus??
Maar, daar is nog eers ‘n paar stappe wat julle twee moet deurwerk. Die eerste is ‘n kort kursus in Besigheidsbestuur. Maandagoggend stap ek en vriendin in. Ons hou amper handjies vas van benoudheid…. Tussen 14 ander erg gepigmenteerde mense, staan ons twee bleek spoke soos seer duimpies uit! Ons beloer mekaar maar so onderlangs. Dit neem drie dae van mekaar se geure opsnuif, ore toehou vir sn*t-snuif-gewoontes, en vele ander avonture voor ons gemaklik saam eet asof ons dit al ons hele lewe lank so gebeur.
Die eerste dag weet ek waarvoor die term “reënboognasie” staan. Dit het absoluut niks te doen met Swart, Wit, Bruin, Indiër en wieookal tussenin nie. Dit het veel eerder te doen met Ano wat van wit na pienk na bloedrooi terug na groen verkleur toe sy haar plat plastiek kosblikke met die twee verwese appelkooskonfyt toebroodjies terugdruk in haar handsak. Nie net kry ons koekies saam met tee nie, ons word ‘n middagete aangebied wat my die aand byna laat weier om kos te maak. En dit is nie sommer ‘n afgeskeepte hier-jy-pap-en-hoenderboudjies nie! Dit is uithaler kos en ek moet net my mond herinner om toe te bly en keer dat my ogies nie aanhoudend knipper nie, want soveel vreet het ek nog nooit aanskou nie! (Ek het nie eens ‘n bediende nie – ek weet absoluut NIKS en hul eetlus is oorvloedig!)
Intussen hang ons aan die aanbieder se lippe. Ek en vriendin stem saam dat nie een van ons twintig jaar gelede soveel respek en bewondering vir ‘n donker dame sou hê nie. Het ek Puleng nou net ‘dame’ genoem? Ek het meer respek vir hierdie vrou ontwikkel as wat ek vir sommige van my mede landgenote het! Geen ‘bangbroek, ekskuus dat ek lewe’ óf arrogansie nie. Sy is wat sy is en ek hou van haar. Sy dwing respek af, sy weet waarvan sy praat en ek leer meer as wat ek gedink het my brein kan nog inneem. Immers deel ons die klas met grotendeels jong mense.
Ek leer ‘n paar goed wat my kop laat spin! Aan die einde van die week word ons voorgesê om na ‘n maand terug te keer met ‘n besigheidsplan. Dan sal ons weer gesels. Sommiges kan ons sien is oppad iewers heen. Hulle gaan van hul besighede ‘n sukses kan maak. Ander kom laat, loop vroeg, lê in hul stoele en het nie eens teruggekom met hul besigheidsplan nie.
Die volgende stap is Bemarking. Daarna eers ‘n kursus in uitvoere. Tog, in Afrika gebeur niks vinnig nie, en Ano wil alles al gister gehad het. Dalk hoor julle nog eendag ‘n verlangse “Bon Voyage” wanneer ek met my goedjies oor jul koppe vlieg. Wie weet, dalk word ek vorentoe nog geweeg en te lelie blank bevind. Intussen, wie gee om? Ek leer dat dit klap en dit is lekker – en verniet…
Die groot vraag was natuurlik, “Hoekom weet ons (blankes) nie van hierdie projek nie? Dit bestaan immers al donkiejare.” Soos met die lugdiens, word die inligting oor hierdie projek ook met ‘n spesiale bus na die townships toe aangery. Daar word dit oral geadverteer en uitbasuin dat daar vanaand ‘n vergadering iewers gehou word. Die kostafels kreun onder die oorvloed, en voila! Almal vreet hul dik (dit word immers deur die regering voorsien), hoor van die geleenthede, maak soms misbruik daarvan, sommiges bereik sukses, en niémand praat weer daaroor nie.
What is being said in Soweto, stays in Soweto…
En die res van die miljoene ‘ander’ landsbewoners? Niemand hoor ooit ‘n woord hiervan nie. So, as jy ‘n vrou is, is jy OK. As jy ‘n man ónder 35 is, mag jy ook toegelaat word. Jammer vir die res – ek hoor julle het alles verniet gekry in die ou regering. Nie dat ek dit so ervaar het nie, maar toemaar. Dit is iets soos ‘jou mening, my mening, en iewers tussenin lê die waarheid’. Maar die wiel draai – bietjie stadig – maar tog. En terwyl die regering nog geld uitdeel, skep ek saam, of immers, ek probeer darem! Het al ‘n stukkie van ‘n buskaartjie na wie-weet-waar
3 Kommentare
-
Anze
Maggies is ek nou saam met jou opgewonde!! Ek hoop jou pragtige handewerk (ek neem aan dis wat jy in jou uitstalspasie gaan sit?) gaan die buitelandse mark haal want ek weet dit gaan een reuse sukses wees.... Heerlik gelees!! .... (bere asb tog so klein bietjie- 'n lekseltjie sal ook werk - sous vir my treintjie ook...
-
Evelyn van der Merwe
Aitsa, hou ons op hoogte asb, dit klink voorwaar iets om na uit te sien. Lekker gelees en gegiggel.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
soos altyd lekker gelees Ano