Jongste aktiwiteit:

Watter maand is jou maand?

Dit was vir die kantoortannie van die kleuterskool op die plattelandse dorpie heerlik om so ’n veelsydige pos te hê. Sy het iets van alles gedoen – onder andere die finansies hanteer, ouervergaderings gereël, op Vrydae snoepietannie gespeel en hier en daar ’n pleister op ’n stukkende knie geplak.

Vroeër in die jaar het sy die taak gekry om ’n optrede deur Kurt Darren vir ’n fondsinsamelingsprojek te reël. Dit was ’n reuse taak. Net om die deposito bymekaar te skraap was vir so ’n klein kleuterskooltjie alreeds ’n tameletjie. Daarna is bemarking gedoen, kaartjies verkoop en sitplekke bespreek.

Die kleuters was uiteraard van die saak vreeslik opgewonde. Daar is maande vooraf na die plakkaat teen die kantoordeur gestaar. Omdat baie van hulle nog nie kon lees nie, moes daar baie gereeld verduidelik word wanneer Kurt kom sing. Hoeveel slapies nog?

Tussen die alledaagse bedrywighede deur het die kantoortannie skaars grond gevat. Iewers was ’n seuntjie altyd op soek na ’n verlore skoen of ’n dogtertjie het kom huil dat die maatjies lelik was met haar. Geduldig het sy geluister en getroos en hulle subtiel die deur gewys.

Met die naderende optrede het die spanning begin opbou. Gaan daar genoeg kaartjies verkoop word om die uitgawes te regverdig?

Die maande het verbygesnel en die laaste week in April het gouer aangebreek as wat daarop gereken was. Die finale betaling moes gedoen word. Terwyl die kantoortannie gou die laaste kaartjies se name opskryf kom staan ’n klein dogtertjie voor haar lessenaar. “Wanneer kom Kurt Darren?” het sy gevra. Die kantoortannie het opgekyk en was nie seker hoeveel slapies oor was nie. “Meimaand,” het sy ingedagte geantwoord. Die dogtertjie het ’n lank ruk doodstil voor haar uitgestaar. Toe vra sy: “En watter maand is jóú maand?”




6 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed