Jongste aktiwiteit:

Veilthin se laaste Massage

Veilthin* se laaste Massage

In die Harzberge* sien mens eienaardige rotsformasies: Verskuiwings en verwerpings soos in ‘n abstrakte skildery. Dagsome loer tussen die bome uit die Steilhange van berge uit. Juis so ‘n koppie aan ‘n ooshang het my aandag getrek. Soos ‘n blougroen puisie op ‘n leiklipneus. Waarskynlik ‘n agaatdroesem in kopererts. Om hom is ‘n park uitgelê met bome in „familie-groepe”. Boomrye spiraal van hierdie middelpunt uit; lanings is geometries aangelê, pentagramme, sewepuntsterre. En ek wyk toe van my voorgenome „Wanderweg” af in die rigting van ‘n Duitse Kleinstadt wat daaronder in die boog van ‘n riviertjie nestel.

[sê *faailtien, *haarts-]

Onder aangekom, vra ek deur tot by die poort van ‘n huisie in ‘n groot tuin aan die bokant van die dorp, agter die kasteel nog. Die skild sê:

„Friedensreich Veilthin,

HEILPRAKTIKER, MASSEUR”

Nouja, dink ek, na al die dae se strawwe stap, bergop en bergaf, kan dit nie verkeerd wees om liggaam en siel te verkwik terwyl ek na hierdie merkwaardige gesteente uitvra nie; dit lyk asof die rots agter die huis sit. Binne staan aan die een deur „Praxis”, aan die ander „Wartezimmer”. Die outomatiese deurklokkie het gelui toe ek inkom, en ‘n stem roepsing, „Ek kom, ek kom!”

In so ongeveer ‘n halfuur kan hy my behandel. Ja, ek kan my rugsak in die hoek van die wagkamer laat staan, niemand gaan hom vat nie.

Buite loop ek ‘n draai om die huis en ontdek ‘n tuin met geneeskundige kruie. Lyk asof daar die hele wêreld se plante hier aangekarwei is. Ek sien wat lyk soos ‘n Afrikahoekie, suidwaarts gerig om die son te vang, met rooibos, boegoe, aloe ferrox selfs koekmakranka en ander plante, sommige wat ek nie ken nie. Die tuin het meer plantsoorte as wat ek totnogtoe op ‘n goedsorteerde biologiese plaas gesien het. Allemintag!

Hang-op staan twee besonders hoë Thuja-bome weerskante, elkeen op sy eie „eilandbeet”, in ‘n driehoek uit gruis-voetpaadjies met die droesemkoppie verbind.

‘n Gesamtkunstwerk wat nie in ‘n jaar – of ‘n eeu – gesmee is nie.

Ja, familie Veilthin bedryf al oor ‘n duisend jaar hierdie Heilpraxis of geneeskundige praktyk, sê die masseur, en kneet sorgvoudig my nek en skouers. Ek ontvang ‘n Volliggaammassage.

-– Ons mag nie dink, dit het met toorkunste aangevang nie, soos by Miraculix, maar eerder dat slim mense ontdek het dat verskeie plante verskeie eienskappe het. Ons modernes sê dat verskillende plante en dele daarvan verskillende werkstowwe bevat. Elkeen word in sy eie seisoen geoes; wortel, blaar, bloeisel, vrug en neut is in verskillende tye van die jaar te kry; dit kan in skyfies gesny en gepers, uitgedroog, gekook of gebak word, en as vloeistof, poeiertjie, pil of tee ingeneem word.

Ons óér-oer-oupa-grootjies het nog in die voortyd bietjie van alles geweet, en langsamerhand het die spesialisering gekom, en die een het meer in genees- of heelkunde belanggestel en die ander in voedselverbouing; die een het hom as boer bekwaam, die ander as handwerker, en nog ene as regsgeleerde. Ensovoort.

Kop in die ander rigting draai, asseblief.

Twee groot gelukke het ons stamvader getref: Hy het hierdie koppie ontdek, soos ‘n kopergroen duifeier op die hang van ons berg, én hy het die heersende graaf se kind van ‘n ernstige siekte genees. Die graaf het hom met die Grondbesitreg hier geëer. Daarmee is hy voor ander burgerlikes voorgetrek en selfs die adel was nydig. So het die een vors na die ander die volgende geneeskundige met „Privilegiums” en „Patente” onderskei. Die dokumente lê in laaikaste opgerol, is nooit opgehang nie.

Die mense hier sê graag dat die Duitse volk juis in die Harz ontstaan het. Hier het die verstedeliking aangevang, hier was die eerste rykes – aan geld én aan gees – die eerste ondersteuners van kuns en wetenskap. Hier die bakermat van die Reformasie, ensovoort. Van die materiële rykdom was die erts in die berge die basis: Koper en silwer plus heelwat ander metale, steenkool en so aan.

Strek bietjie die regterarm uit, sodat ek daar kan bykom. Dankie.

Die eerste Heelpraktisyne was met kinderrykdom geseën, en die kinders het oral heen getrek en die kuns van hul vaders in die wêreld uitgedra: Hongarye, Rusland, Meksiko, Sjina, Egipte, . . . en het briewe oor hul eie ontdekkings huistoe gestuur. So het kennis en wete van die hele aardbol hier versamel, en mense het van na en ver gekom om ‘n Kuur te geniet. Selfs konings en keisers. Onder in die stad is die „Siekehuis” gestig, met Beroepskool vir alles wat met medisyne en aanverwante dienste te doen het; die Heelkruietuin het sienderoë al hoe meer waardevolle plante gekry; die park is noukeurig met geometriese vorms uitgelê; ‘n almanak het ontstaan waarin die verbinding tussen die konstellasies en die werk in tuin en apteek aangegee word. Die praktyk het met kasteel, stad, burgery, boerdery en die vorstelike eiendomme tot in die agtiende eeu floreer, toe die lyn skielik afgesny is omdat die ou graaf se seun in ‘n oorlog gesneuwel het en hy kinderloos gesterf het.

Die Graafskap is by ‘n ander Vorstedom ingelyf, die nederige adelikes moes sorg dat hulle êrens ‘n betrekking kry en baie het na Berlyn getrek, die burgerlikes was bevrees oor hoe hulle gaan klaarkom.

Die ander arm asseblief.

En toe kom die mynramp: Vandag nog is alles vol water, alle skagte, alle gange. Daar moet dosyne lyke daaronder in die water wees. Skielik was daar dosyne weduwees en weeskinders en net soveel werkloses; die ingenieurs het weggetrek; die geregshof het na die nuwe hoofstad verskuif; die onderwysers had nie meer kinders van betalende ouers nie; die handelaars kon hulle ware nie van die hand sit nie. Niemand wou die huise koop nie, en hy wat kon, het gevlug. Al wat oorgebly het, was ‘n spookkasteel en -stad, met ‘n armsalige boeredorpie onder by die rivier en ons hier bo.

In die loop van die neëntiende eeu het die adel weer die stadjie ontdek nadat ‘n graaf se moeder die kasteel as aftree-oord gekies het. Die een of ander erfgenaam het sy Kavaliershuis as vakansiewoning ingerig en uitgehuur. Handwerk- en ambagsmense en handelaars het weer opgedaag, en stadig het lewe in die ou steenskelette teruggekeer. En toe ontdek die pensioenarisse en oud-gediende offisiere en ander hoëre burgerlikes en amptenare die juweeltjie van ‘n lewensaand „ingebed in die groen Harzlandskap”, en dis weer opgradeer tot Residensiestad.

En nou kom die rug aan die beurt.

Die twintigste eeu was ontsettend, daarby het die Harz in ‘n soort winterslaap geval. Selfs erger as die Dertigjarige Oorlog: Die uitwerking van die Sosiaal-demokrasie en die opkoms van die vakbonde was nie nét positief nie. Werkloosheid en hongersnood het in die industriegebiede geheers. Kommuniste en Nasionaal-sosialiste het mekaar in Berlyn oop en bloot op die straat doodgeskiet. Twee wêreldoorloë, die Derde Ryk, toe die Duitse Demokratiese Republiek. Die mense was gekneus in siel en liggaam. Die kinders van pastore het gedros en aangesluit by die bose magte, selfs die seun van die destydse heelpraktisyn het by die heersende Sosiale Eenheidsparty van Duitsland aangesluit en lid van die Stasi, die Staatssekuriteitsdiens, geword.

Op ‘n goeie Aprildag – stralend soos vandag – verskyn hy, onherkenbaar in sy uniform, kamma om aan ‘n gesondheidseminaar deel te neem, maar met die eintlike doel om sy vader op een of ander manier te kompromiteer sodat die staat in besit van sy eiendom kon kom. Toe hy ‘n halfuur in die koffiepouse vry had, maak hy ‘n draai om die huis en ontdek die krag wat die driehoek tussen die twee Thujas aan die noord- en suidkant van die park en die groen koppie uitstraal.

– Ja, ek het ook so ‘n eienaardige gevoel gehad, toe ek daarlangs gestap het…

– Op die rug omdraai, en die regtervoet op my linkerskouer asseblief.

Toe hy ingaan, kom die heelpraktisyn op hom af, strek sy arms uit en gryp hom aan albei gewrigte. Wee’jy, die hande was ja kokend warm, en ek het die warmte en die krag van daardie ou man gevoel, hoe dit in my instroom. Welkom terug, my seun, het hy gesê. En toe het sy hande nie meer so vas gegryp nie, sy vingers het koud geword.

Daarna het alles vinnig gebeur. Hy het al kouer en swakker geword. So swak dat ek hom tot by die sofa moes dra en versigtig neerlê. Maar hy het aanskynend goeie voorbereidings getref: Uit die niet verskyn ‘n notaris wat ‘n paar dokumente reeds voorberei het; ons moes net onderteken; skielik was twee getuies daar; die notaris het gestempel. Alles moes so gou moontlik afgehandel word.

Nie eers drie ure nadat hy my gegroet het, het die lig in sy oë gebreek. Die dag voor Walpurgisnacht, wanneer die hekse op die Brocken dans, 1984.

Dis miskien ‘n antwoord op jou vraag hoekom my hande so warm is.

Maar jy het nog glad niks van jóú vertel nie. Waar kom jy vandaan? Dis mos nie ‘n Duitse aksent nie, of hoe? Studeer jy? Is jy toeris?

– Nee, nee. Ek’s eintlik op ‘n sakereis, ‘n diensreis. Dit wil sê, ek is verteenwoordiger van ‘n firma met metallurgiese produkte op Hannover se internasionale handelsskou, die Messe. En nou neem ek daarna twee weke vakansie, sodat ek ‘n bietjie van Duitsland kan leer ken. Mynwese het ek studeer en ondergronds gewerk, maar my hart klop eerlikwaar eerder vir die lewendige wêreld van die plante en diere. En mense.

Familie? Tja, ek’s ‘n weeskind, en hulle het my, soos by Oliver Twist, sommer ‘n naam uit die hoed gegee, Pieter Steenberg.

Ander voet op die ander skouer, ja?

Ongetroud. Agt-en-twintig jaar oud . . . Wragtag, vandag is my verjaarsdag! Mens vergeet soiets maklik as jy alleenloop, nè?

Daar het die gesprek opgedroog, en die masseur het sy werk stil voltooi.

– So, ja! Nou is ons klaar. Regopsit, asseblief, bene oor die kant laat hang. Hmm, ek wil na jou hande kyk.

Toe hy my gewrigte gryp, voel ek hoe die krag en die warmte kokend in my arms instroom en deur my hele lyf pols. Ons kyk mekaar lang en stilswyend in die oë.

– Welkom in Stein-am-Berg, my seun.

Toe hang sy kop vooroor en hy begin bewe. Ek kry koue rillings, want sy hande is ysig. Hy begin wankel, en ek moet hom vinnig tot by die sofa halfdra, halfstut: Skielik is die kamer vol mense. ‘n Man met laptop-office stel hom as notaris voor; twee vrouens tree as getuie op, die oudste is die skoonmakervrou, die jongetjie werk in die tuin en apteek. Alles moet so gou moontlik afgehandel word. Die notaris het verskeie dokumente voorberei, ander moet eers geskryf word: Adopsie-onderlae, verskeie eiendoms- en erf-papiere, naams- en adresverandering, kennisgee by die werk . . . Alles op ‘n drafstap.

Skaars drie ure later het die lig ook in Friedensreich Veilthin se oë gebreek, op die dag voor Walpurgisnacht wanneer die hekse dans.

(Get.) Siegfried Veilthin

– voorheen Pieter Steenberg –

Geteken, dese 30e. April 2012, te Stein-am-Berg, Harz,

voor my (onleesbaar)

Notaris, Prokureur [Stempel]

©30e.Januarie2017 .ΑΩ. .(2012.).tje

[Hierdie stuk pas in die versamelgroepering ,Europa en die Wêreld’]




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed