Jongste aktiwiteit:

Duitse Hof- of Plaasname

Duitse Hof- of Plaasname

Vyftig en meer jare gelede het iemand vertel oor die kartering van die Zuid-Afrikaansche Republiek (meen ek), en die landvermesser het in ink die opstal van ‘n plaas daardoer êrens ingeteken. Toe vra hy, hoe die plaas heet. Nee, hy het geen naam nie, kry hy as antwoord van die boervrou wat voor hom in die huisdeur staan. In potlood maak hy ‘n notatjie, lig sy hoed en ry verder. Later, heelwat later, kom die boer op die dorp en sien dat ‘n skaar mense om die openbare kennisgewingsbord staan en lag. Toe hy naderkom, bedaar hulle effens en gee giggelend pad, sodat hy ook kan sien. Dis die nuwe landkaart van die distrik met die dorp en al die paaie, spruite en koppies tussen die kontoerlyne. En hier en daar die name van die plase ingedra. Skielik brul hy los: Daar tussen „Driefontein”, „Wilgerspruit”, „Buffelkop” en ander sien hy sy plaas: „Dikke Vrouw” staan daar gedruk. Die F-Woorde was nog nie in die mode nie, en hy skree en gaan te kere op Hoog-Hollands. Met ‘n skaars onderdrukte glimlag neem die beampte sy beswaar te kenne en beloof dat iets daaraan gedoen gaan word. En so het maande later ‘n nuwe plaasnaam op die distriks- en republiekskaart plek ingeneem: „Mooimeisjesfonteijn”. (Hierdie staaltjie sou, in hooftrekke, waar wees.)

In Duitsland is die gee van plaasname nie so bekend nie; ek het jawel in my omswerwinge „Transvaal” êrens gesien, en in Engeland sou daar ook ‘n „Fereirrasdorp” staan. Die Engelse, ja die Engelse, hulle gee selfs hul brood ‘n naam, sê buurman kopskuddend: „Mother’s Delight” leer die kinders van klein aan. Nie brood nie, maar „Farmer’s Pride” of „Baker’s Darling”. Brood het hulle nie. Dit wat julle moet eet noem ons hier „American Toast” en het die konsistensie van ‘n mikroveselbeddeken.

Op ons dorp is daar verskeie bakkers, maar die beste brood kom van bakker H. (Ek is vas daarvan oortuig dat hy ‘n heksemeester is met ‘n toorformel. Dis so lekker, dit kan nie waar wees nie!) En so dra die meeste bedrywe die naam van die bedrywer, die mens wat die werk doen, die eienaar van die firma. Soms, as ‘n dogter die bedryf erf, verander sy die firma se naam na haar getroude van, maar dikwels bly die ou naam van oupagrootjie oor die voordeur hang.

En so is dit soms moontlik om te bepaal of ‘n Bauernhof (plaas) ‘n erf- of ‘n paghof is. Die paghowe word meestens nog na die grondeienaar genoem: Hy boer op Von B se grond, of die ander pag van Graaf R, byvoorbeeld.

Baie kopers behou die ou naam, besonders die baie ou plase, sodat die Dieraarts Dr. L byvoorbeeld op die ou V-hof boer en sy praktyk het. (Die V-broers het verarmd uit russiese krygsgevangenskap teruggekeer, en het in die nabygeleë fabriek gaan werk, maar moes uiteindelik dog verkoop om aan die lewe te bly, en het dorptoe getrek). Ons kinders se vriende het op die C-hof gewoon, ofskoon die boer se naam M was. Vroeër was die gebruik dat die „ingehude” of „ingetroude” bruidegom amptelik die naam van die bruid, dws die plaas, aanneem. In hierdie geval sou die boer, M, die van van sy bruid, C, aangeneem het. Het hy nie, hoef hy ook nie.

‘n Uur of so se ry van hier het ek ‘n familie Br leer ken. Hulle boer op ‘n plaas wat ongeveer agthonderd jarelank van geslag tot geslag oorgeërf is. Dis ‘n groot, ongedeelde plaas met etlike aansienlike kampe en lang breë akkers wat ook byna Suid-Afrikaanse mate aanneem, ‘n gemengde boerdery wat met modernste masjienerie bedryf word. Verskillende graansoorte staan op akkers naasmekaar, daartoe afwisselend braakland en wortels. Vleis-, melk- en stoetdiere word geteel. Die een se goeie jaar dra die ander se misoes. Soos in die prentjieboeke, so perfek.

Dit was waarskynlik níe Keiser Karel die Grote wat die plaas geskenk het nie, maar een van die vier Ottos, wat ná hom regeer het, en sedertdien is dit vas in die hand van die familie Br gewees, soos hulle hier sê.

Wat beteken dit nou, vas in die hand?

Na die Dertigjarige Oorlog, waarin al die mans gesneuwel het en die vrouens doodverkrag of -gemartel is, het die oorlewende ou tante dorptoe gesukkel en ‘n seunskind, ‘n naamlose, uit die weeshuis gehaal en hom as Br laat doop en registreer. Toe hy oud genoeg was om die boerdery oor te neem en ‘n vrou te vat, het sy tevrede gesterf. Die plaas het, ten spyte van oorloë oor die eeue gebloei en gedy tot die Eerste Wêreldoorlog. Na die moordende loopgraafslagte was daar weer plotselik geen man meer in sig nie; wat uit die vrouens geword het, weet ek nie, maar weer moes die weeshuis ‘n namenlose seun aan die laaste oorlewende tante of oumagrootjie afstaan. Toe ek die mense in die neëntien-tagtigs leer ken het, was dit een van die vooruitstrewendste plase in die wyere omgewing. Die seun, wat ek onderrig het, was ‘n adoptiefwesie uit dieselfde klooster.

Want die boer en sy vrou kon nie kinders kry nie.

Die plaas is sedert plus-minus 800 jaar vas in die hand van die familie Br en so gaan dit bly.

©29e.Januarie2017……………….ooOoo……………………………(.2012.)tje

[Hierdie stuk behoort in die groep ,Europa en die Wêreld’.]




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed