Jongste aktiwiteit:

DIE WIEL DRAAI HFSTK 20

HOOFSTUK 20

Dit is twee weke voor Hans en Elsabe se troue in Augustus maand, hulle trou die naweek na haar mondig wording, wat Hans die aand Kroonstad toe werk. Dit is n doodnormale aand, en trek hulle agtuur uit die werf uit weg met n enkelvrag leë graantrokke Kroonstad toe, storm die stasie blaffend deur met n rooksuil wat die lug inseil. By die huise verby een lang en twee kort fluite wat met n af en aansit van n lig deur Elsabe erken word en dan begin die klim Langspruit toe.
Net voor Langspruit se sinjale maak die spoor n draai na links en toe hulle die sinjale in sig kry is net die buitehuis sinjaal bedien. Jannie maak effens toe dat hulle kan spoed verminder want hulle sal seker op Langspruit in die uitwykspoor ingaan vir n kruising met n trein van voor af.
Toe hulle die draai vat is dit net in daardie oomblik, voor hulle in die draai begin wegswaai, wat die koplig n oomblik in die vaal droë veld inskyn om dan saam met die lokomotief in die draai in te skuif. Hans sien dit dadelik raak, vir n oomblik kan hy dit nie glo nie maar die volgende oomblik besef hy hy het reg gesien.
In daardie oomblik het hy n figuur gesien wat iets gooi. Die volgende oomblik sien hy n vuurstreep deur die lug trek en in die verbygaan sien hy die droë gras vlamvat waar die voorwerp, wat die persoon gegooi het, grondvat.
Entjie verder sien hy nog n vuurstreep deur die lug trek en vlam waar dit grondvat, iemand is besig met brand stigting. Dit kan nie iemand wees wat besig is met voor brande nie, dit doen mens tog in die dag.
Hans vestig dadelik Jannie se aandag daarop wat antwoord: “Ek gaan baie stadig intrek dan spring jy gou af en rapporteer dit op Langspruit. Anders word daar weer gesê ons het die veld aan die brand gesteek en sit die spoorweë weer met n eis vir skadevergoeding”.
Hulle gaan op die uitwykspoor in vir die kruising en trek Jannie stadig in sodat Hans sommer in die ry kan afklim. Hy vertel die stasievoorman wat hy gesien het. Die stasievoorman bel bedryf dadelik en sit Hans op die lyn terwyl hy aangaan met wissels draai en tablette ruil.
Toe Hans klaar met bedryf gepraat het hardloop die ander trein die stasie deur en wag hy sommer in die stasie vir hulle tablet. Toe hy langs die trein afstap en terugkyk sien hy die vlamme teen die donker horison afgeteken. Iemand het Phillip du Plessis se Langspruit aan die brand gesteek, soos Boskop destyds aan die brand gesteek is. Al verskil is net dat daar nie vanaand weerlig is wat die skuld kan kry nie en hy is die getuie daarvan. Die volgende oggend met hulle terugkeer teen dagbreek begroet n swart gebrande toneel, waar die rook nog uittrek, hulle by Langspruit verby tot teen Willem Roets se plaas. Hans is nou oplettend en sien hy dadelik dat daar n voorbrand gemaak was al langs die grensdraad af om Willem se plaas te beskerm, net soos in Boskop se geval destyds.
Hans het net aan die slaap geraak nadat hy by die huis gekom het, die meisies is by die werk, toe hy n klop aan die deur hoor. Hy wil dit eers ignoreer maar toe daar vir die tweede keer dringend geklop word besluit hy om op te staan en te kyk wie dit is.
Toe hy die deur oopmaak staan daar twee ouerige mans wat hulleself voorstel as sersant sers. Dippenaar van die spoorwegpolisie en sers. Du Preez van die Suid-Afrikaanse polisie. Hulle wil net n verklaring by Hans afneem oor wat hy die vorige aand gesien het. Hans vertel hulle wat gebeur het en toe hy klaar is is dit sers. Du Preez wat opmerk dat die brand hom herinner aan die brand op Boskop jare gelede. Hy was toe nog n jong speurdertjie maar onthou die saak nog goed. Hulle kon niks destyds bewys dat daar brandstigting was nie en is die weerlig die skuld gegee. Forensiese ondersoeke het egter baie vooruit gegaan en is daar juis nou n forensiese span besig met n ondersoek langs die spoorlyn. Hulle het al glasstukke gekry van n vermoedelike petrolbom. Sers. Du Preez noem dit ook dat hierdie nou die derde geval om Willem se plaas is in sy loopbaan waar die hele plaas afgebrand het. Hy noem dit ook dat dit baie moeilik is om brandstigting te bewys omdat veldbrande so dikwels ontstaan en sou daar seker geen haan na hierdie brand gekraai het as dit nie vir Hans se oplettendheid was en dit gerapporteer het nie.
Toe die mesies by die huis kom het hy net wakker geword en vertel hy hulle van wat gebeur het. Marietjie sê net: “Ek hoop hulle vang die brandstigters want ek sê sommer reguit dat daardie Ramatsi die voorbok was en dat hy dit in opdrag van Willem Roets gedoen het. Willem wil Langspruit hê en is dit sy manier om Phillip du Plesis daar af te kry omdat Phillip nie aan hom wil verkoop nie”.
Bernard kom kuier ook die aand en word die brand druk bespreek. Hy wil nie veel sê nie en is hy later huis toe met n ongemaklike stremming tussen hom en Marietjie.
Daardie aand skryf Marietjie in haar dagboek: “Liewe dagboek. Phillip du Plessis se plaas het gisteraand afgebrand. Hans het gesien hoe word die veld aan die brand gesteek en is daar nou n ondersoek aan die gang. Ek hoop die skuldiges word vasgetrek.Wat my pla is dat Bernard vanaand bae ongemaklik voorgekom het. Daar is nou stremming tussen ons en ek hoop net hy het niks met die brand te doen gehad nie”.
Die naweek kom haal Bernard vir Marietjie om die naweek by hom op die plaas te kom kuier. Die brand kom weer ter sprake en vertel Bernard haar dat die polisie ondersoek geen vordering toon nie. Hulle kan wel brand stigting bewys maar hulle kan nie bewys wie daarvoor verantwoordelik was nie. Die polisie het ook al die arbeiders in die omgewing, insluitend Willem Roets se arbeiders, ondervra maar word niks wys nie.
Die Saterdagmiddag laat kom Ramatsi op die plaas aan, stukkend geslaan en gehawend. Hulle help hom eers en toe vertel Ramatsi dat Willen hom weggejaag het. Hy vertel hulle dat dit in opdrag van Willem was dat hulle Langspruit aan die brand gesteek het. Willem is nou kwaad omdat die trein hulle gesien het en dit gerapporteer het. Willem het dit agtergekom toe die speurders die werkers begin ondervra het. Ramatsi en sy helpers het egter ontken dat hulle enigiets met die brand te doen gehad het.
Willem is kwaad omdat hulle nie gewag het dat die trein eers verbykom nie. Toe Ramatsi begin terugpraat het het Willem se twee seuns, wat ook by was, hom vasgevat en het Willem hom geslaan en hom weggejaag.
Marietjie en Bernard kyk vir mekaar, wat nou gedaan. Bernard is nou in n moeilike posisie want as hy nou vir Ramatsi gaan ondersteun kan Willem hom wegjaag.
Ramatsi wil ook niks weet van die polisie nie want hy is doodbang dat hulle hom sal toesluit en dan aankla vir brandstigting. Hy erken egter dat hy die organiseerder van die brand op Boskop was en ook die organiseerder van die ander brand op die derde plaas. Hy erken teenoor hulle dat al drie die brande in opdrag van Willem Roets was. Hulle is goed betaal om die brande te stig en het hy as deel van sy beloning na die brand op Boskop ook Willem se regterhand geword teen n hoër vergoeding as wat die ander plaaswerkers kry.
Marietjie is skoon lam toe sy dit hoor. Hulle vermoedens was dus altyd reg maar hoe nou gemaak, Ramatsi wil van die polisie niks weet nie en sit sy en Bernard die hele aand en koukus en besluit hulle om die Sondag Ramatsi dorp toe te neem en om te probeer om sers. Du Preez in die hande te kry. Ramatsi sal moet n verklaring aflê sodat daar n saak teen Willem Roets gemaak kan word. Bernard is seker daarvan dat hy sal wegkom deur aan te bied om staatsgetuie te word. Hulle kry hom omgepraat en slaap hy die nag in die stoor.
Vroeg Sondagoggend gaan hulle terug Bethlehem toe, eerste stop by die polisiestasie. Hulle slaag daarin om sers. Du Preez op te spoor en kry hy hulle by die polisiestasie.
Toe sers. Du Preez sien hoe Ramatsi geslaan is kry hy eers die distriksgeneesheer om hom te kom versorg en neem hy daarna sy verklaring af.
Nadat hy Ramatsi se verklaring afgeneem het, wat omtrent die hele oggend neem, laat hy hom gaan om solank by sy broer in die lokasie te gaan bly. Bernard is reg, Ramatsi kan loskom as hy as staatsgetuie optree.
Toe Marietjie by die huis kom is Hans ook tuis en word die hele aangeleentheid bespreek. Marietjie besluit om die volgende dag met hulle prokureur te gaan gesels want sy is redelik seker daarvan dat hulle n skadevergoedings eis teen Willem Roets sal hê.
Sy is die oggend vroeg kantoor toe om te reël vir n uur of wat af en sit sy af prokureur toe. Sy vertel Johan van Eeden die volle verhaal. Toe sy klaar vertel het wil sy weet of hulle enige skade op grond van Ramatsi se verklaring van Willem Roets kan eis.
Johan van Eeden sit n rukkie en nadink voor hy antwoord: “Marietjie op hierdie stadium kan ons niks doen nie, ons het net Ramatsi se verklaring. Ons sal moet wag tot die polisie ondersoek voltooi is en kyk wat gebeur dan. In Langspruit se geval gaan Phillip du Plessis n eis hê want dit het nou so pas gebeur. Dit is as Willem Roets dalk aangekla word en dan moet hy nog skuldig bevind word ook. Hy sal sorg dat sy prokureur van die beste is en kan dit gebeur dat die prokureur Ramatsi onder kruisverhoor nog uitmekaar skeur ook.
Die brand op Boskop was baie jare terug en ek twyfel of Roets daar skuldig bevind sal word maar ek dink ons moet nou eers kyk wat gebeur”.
Ook vir sers. Du Preez word dit n lang dag. Eers gaan tel hy Ramatsi se twee helpers op en toe takel hy vir Willem Roets. Willem Roets weier om n woord te sê en dring aan daarop dat sy prokureur teenwoordig is. Sers. Du Preez klou egter soos n neut en laat hulle Willem se prokureur kom. Met sy prokureur by ontken Willem nog steeds dat hy vir die brande verantwoordelik was en is sy verweer dat Ramatsi nou besig is met kwaadstokery omdat hy hom weggejaag het omdat hy na vele waarskuwings nie sy werk doen nie. Hy sal dit in die hof sal getuig ook.
Vir n paar dae sit sers. Du Preez sy ondersoek voort en gaan ondervra hy Phillip du Plessis ook. Toe Phillip n verklaring aflê waarin hy meld dat daar verskeie pogings van Willem se kant af was om Langspruit te koop wat hy geweier het. Met die laaste aanbod het Willem hom vererg en iets laat val wat hom weggee: “Ek brand hierdie plaas af soos ek twee ander plase afgebrand het maar ek sal hom kry. Stop nou jou hardkoppigheid en verkoop aan my”.
Op grond van Phillip du Plessie se verklaring en Ramatsi se getuienis kry sers. Du Preez n lasbrief vir arrestasie en neem hy Willem Roets in hegtenis.
Willem Roets verskyn vlugtig in die hof en besluit die landdros om die saak na die Rondgaande hof te verwys. Hy word op borgtog vrygelaat nadat hy n nag in die selle deurgebring het en is dit n woedende Willem Roets wat die dag die landdroskantoor verlaat nadat sy borg betaal is.
Daardie aand skryf Marietjie in haar dagboek: “Liewe dagboek. Na al hierdie jare is geregtigheid besig om te seëvier. Willem Roets is aangekla vir brandstigting op drie plase, insluitend Boskop jare gelede. Dit gaan n lang saak wees en ek het myself voorgeneem, die dag as hy uit die hof uitstap na hierdie saak gaan ek toeslaan.
Ek kry net vir Bernard jammer. Die arme man weet nie of hy sy werk gaan behou nie want sy naam het ook nou in die hofsaak ter sprake gekom en ek dink Willem sal hom laat gaan omdat hy Ramatsi versorg het.
Dagboek Hans en Elsabe se groot dag is voor die deur, Sjoe dagboek die liefde tussen hulle blom en sy straal van geluk. Hans is haar alles in die lewe.
Ek weet nie wat gaan met Bernard aan nie, dit is vir my die laaste tyd of hy baie afgekoel het teenoor my. Hy kom gereeld kuier en ek gaan gereeld saam met hom plaas toe maar ek dink die dinge werk op hom en ons sal moet praat daaroor. Ek is lief vir hom en wil nie dat ons verhouding dood loop nie”.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed