‘n Vrou van seisoene
i.
laasjaar
(toe dit lente was)
het sy Tulbagh toe gery
en sy onthou nog
hoe groen die lande was
waar die koring en die wingerde gedy
die blouberge
het – soos altyd –
die Boland vol gelê
en daar was skape met hul lammers
wat teen die rante loop en wei
en Aronskelke,
wat roomwit bloei
oral langs die heinings en die watervore
waar hul groei
ii.
haar somer was vol son en see
van Melkbos tot by Strandfontein
en skemeraande langs die water
wyl die nadag agter rotse
en dawerende branders kwyn
soms het sy ‘n bont sarong
om die ronding van haar heup gebind
en die kind wat in haar sluimer
laat ontwaak…
sandaal se gespe losgemaak
en weer ‘n kaalvoetspoor getrap
in die growwe-sag van warm sand
iii.
vroegherfs
was die Weskaap aan die brand
die Suidoos het die vuur gestook
en die rook het hoog en wyd
oor Stellenbosch en Jonkershoek
gehang…
en toe
tóé het sy na reën verlang
nes die fynbossaad wat in die asstof lê
en soos lelies van die vuur
wat – binne enk’le dae –
‘n blomsteel laat verrys
deur die veskroeide aarde
se puin, en swart
en grys
iv.
aanstons
sal die winter kom
die Noordweswind sal ruk en suis
die reën
(wat op haar sinkdak val)
sal somtyds sag wees
soms
‘n luide storm en gedruis
die dae sal skemer word
kort en koud
en klam
maar haar lampglas
sal sy blink vryf
en paraffien sal warm brand
waar sy bakhand staan en bedel
(om ‘n bietjie hitte)
naas die flikkering
van ‘n vlam
© C. Shaw
14 Kommentare
-
-

Alet
Ek hou van jou metafore. Wat is besonderse gedig. Sjoe, ek sal beslis moet begin mediteer om by te hou ... en ons het nog nie eers begin nie 🤤
-

Francois Meyer
Ek hou van elke seisoen ☺
-

Callie Vermeulen
Dit kan net Carma wees! Pragtige woorde en beelde... en so 'n volronde vertelling.
-

Pendoring beoordelaar 2
Jou woorde roer my siel.
-

Driekie
Pragtige gedig, soos altyd uit jou pen.
-

Loretta Szikra
Baie baie mooi roerende gedig Carma.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
sjoe dis ongelooflik mooi, is mal oor die metafoor wat jy gebruik het, waarlik n seisoene mens!