Jongste aktiwiteit:

‘n Vrou van seisoene

i.
laasjaar
(toe dit lente was)
het sy Tulbagh toe gery
en sy onthou nog
hoe groen die lande was
waar die koring en die wingerde gedy

die blouberge
het – soos altyd –
die Boland vol gelê
en daar was skape met hul lammers
wat teen die rante loop en wei
en Aronskelke,
wat roomwit bloei
oral langs die heinings en die watervore
waar hul groei

ii.
haar somer was vol son en see
van Melkbos tot by Strandfontein
en skemeraande langs die water
wyl die nadag agter rotse
en dawerende branders kwyn

soms het sy ‘n bont sarong
om die ronding van haar heup gebind
en die kind wat in haar sluimer
laat ontwaak…
sandaal se gespe losgemaak
en weer ‘n kaalvoetspoor getrap
in die growwe-sag van warm sand

iii.
vroegherfs
was die Weskaap aan die brand
die Suidoos het die vuur gestook
en die rook het hoog en wyd
oor Stellenbosch en Jonkershoek
gehang…

en toe
tóé het sy na reën verlang
nes die fynbossaad wat in die asstof lê
en soos lelies van die vuur
wat – binne enk’le dae –
‘n blomsteel laat verrys
deur die veskroeide aarde
se puin, en swart
en grys

iv.
aanstons
sal die winter kom
die Noordweswind sal ruk en suis
die reën
(wat op haar sinkdak val)
sal somtyds sag wees
soms
‘n luide storm en gedruis

die dae sal skemer word
kort en koud
en klam

maar haar lampglas
sal sy blink vryf
en paraffien sal warm brand
waar sy bakhand staan en bedel
(om ‘n bietjie hitte)
naas die flikkering
van ‘n vlam

© C. Shaw




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

14 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed