Jongste aktiwiteit:

EK DOEN NIE HIGH TEA NIE

EK DOEN NIE HIGH TEA NIE

Staan en kyk na die modderstreep oor my een kaalvoet en die woefspoor op my bloes – ja, ek weet eers dis nog vroeg; maar…. Uhm ja – ek’s seker lankal by daai ouderdom verby waar ek nie net veronderstel is om te weet hoe ‘n dame haarself moet gedra nie; maar myself dan nou ook soos ene moet begin gedra!!
Maar O vrek!!! Dis waar die kabel nou ‘n kinkel of 3 (maak dit maar ter wille van die gewete 4) in het. Dis; Blikkiesdorp se Dameskoor, dis ‘n saak van absolute onmoontlikheid. En dis nie dat ekke nie probeer het nie. Cause why omdat en oordat – ekke het honor bright eers. Maar ek dink nie eers vas en bid sal meer kan help nie – case lost en sommer case closed ook.
Ek vergeet helemal van damewees (haal my hoed af vir die vroumensmense wat dit ‘n fyn kuns gemaak het; rêrig-êrig, ek doen) want… Want sommer… Anders het ek nooit modderkoekies saam met my dogtertjie gebak in ‘n spierewit kortbroek nie (my Laya-kind; my klein-klein prinsessie), met my honde gang-af gehardloop agter ‘n bal aan nie. Of agter ‘n pantie aan wat my maltese poedel eendag besluit het beter sal lyk in die sitkamer (vol mense, I will have you know… Onthou dit steeds asof dit net gister was ) as in my kas. ‘n Dame (dis nou as ek die dame-ding moes doen) sal nie kan liefhê met hondeslobber dwarsoor haar hand en ‘n stofstreep skuins oor haar gesig getrek nie……. ‘Make love with you in satin sheets (uhm, kom ons haal net die lakens af) or in the dirt;’ ek sou met hom.
Jong, eintlik is ek nie baie goed met die onthoudeel van die damesding nie. Dit gaan nie altyd so goed af met my wise-ass hart nie. Sy sê dit gee haar sooibrand en ‘n pyn in die dinges. So wat moet ek doen?. My hart is my hart, ek kan haar tog nie verbied, verban of wegjaag nie?! Al is dit soms blêrrie naby; sy kan my partykere eers vreeslikbaie moeg maak!
‘I moved like Harlow in Monte Carlo’ en ek het tussen egte Satynlakens geslaap en dit in die palm van my hand gehad om hogere seders te laat val; maar ek weet tot vandag toe nog nie of ‘n ware dame aan die inhoud van ‘n kristalglas of ‘n Royal Albertkoppie sip, teug of net klein slukkies neem nie?!
Al is ek dan nou ook ‘n koningin (soos in die GhwarriegatQueen); doen ek nou nie eintlik die Royal Albert-ding nie. Ek’s nie daai soort van koningin nie…Ek hou nie High Tea nie – ekke (en my Hero en die wat saam met ons wil wees) hou sommer Low Tea: ‘n GROOT beker tee met peanutbutter en jêmbrood, of sommer Marie biscuits. Of as daar nie brood of koekies is nie, werk faikonta (is darem Laika ook – Faikonta se eie persoonlike Koningin) se Sunsparkle biscuits marvelstruct. Dit smelt sommer so weg in die tee.
Vergewe my, maar ek weet rêrig nie. Hoe dit nou ookal sy. Ten spyte van my hart se woernjaps maniere het sy defneslis haar oomblikke; maar ongelukkig nie van die damesoort nie… Wat ek eintlik wil se – dis help nie; ek moet dit nou maar eenmaal aanvaar en vredemaak daarmee: Ek’s nie ‘n dame soort van vrou nie. Ek’s ‘n rabbedoe (tomboy) soort van vroumens. En dis dit. Maar. Maar; nê, ek’s steeds n oulike dogtertjie, al is ek n wilde kind en al sal ek seker nooit-ooit n dame kan wees nie.
Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; enne as jy ooit verby my geliefde ou Ghwarriegat ‘n draai maak; jy’s meer as baie welkom om te kom Low Tea maak saam met my en wie ek nou ookal daar saam met my het.
©Liza Daniells




4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed