GEWAARBORG.
Dis net ’n paar weke gelede dat almal oor die koue gekerm het. Bibberend en bewend en kletter-tand.
En nou is dit lente. Daar is vonkel in die oë, huppel in die stap. Vroumense jeuk om te skrop en poleer. Almal het nuwe lewe, nuwe energie, nuwe lus. Selfs nuwe belustigheid.
Seisoene in die natuur doen dit aan mens. Seisoene in die lewe het dieselfde effek. Seisoene van vrede en rustigheid. En seisoene wat hart en siel aanraak en soms ongeskik en hardhandig rondskud.
Een dag is dit nog vol-somer. Dan gebeur daar iets. Die blare van my lewens-takke verkleur en fladder grond toe en kort voor lank is die takke kaal. Die winterkoue betrek my hart en klem met yster vingers om my keel. Ek kan nie soos swaeltjies weg vlieg na warm land toe nie. Ook nie soos ’n beer slaap tot dit weer warm is nie. Gelukkig het ek darem geloof-warmte.
Net voor my kragte uitgeput is, al byt die koue nog, is daar nuwe hoop. Ek sien die lente het gekom. Na elke koue-koudste winter is lente gewaarborg. Ek sal die winter oorleef en jubel in die nuwe lente.
En wanneer dit weer warm word, stoor ek weer geloof-warmte. Vir volgende winter.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2019 projek