Jongste aktiwiteit:

In hierdie donker bos is die duiwel los

toe gebroedsels van wyses en dwases verbind
is vae antwoorde gegee maar geen vrae is gevind
in die ruigtes van harsings waar intelligensie ontbind
het slinkse jakkals se tande die slagaar gevind

in die ruigwoud waar geeste van ryk armes dwaal
het ʼn nagvoël van onheil sy gesteelde fluit uitgehaal
‘n klaaglied gespeel op dodemars se skaal
waar refreine van lig in mineurnote faal

die reuse het in poele van soet melasse versteen
deurmekaar tak-partye wat staan op een been
die wind van verandering het melankolies geween
terwyl korruptes mis-lei-dend die volk met dreunsange seën

die nag se gediertes het grootoog rondgekyk
vlermuise se radar het grootkopreuse ontwyk
en in geskarrel onder verrotte vloer se mis en slyk
het mierkolonies gestoei met ontbinding van ʼn lewende lyk

en toe dapper daglig deur die digte woud probeer breek
om met skalpelstrale van rede die sweer oop te steek
het eenbeenkonings se skadu’s slegs weggedraai in die bleek
want verligtheid sou hierdie bosvrate nooit aankweek

tot vandag huil die wind deur ondeurdringbare bos
waar die dwases hul wysheid vir skelm nagstreke los
en die lig wat wil sin maak oor wat die euwels hul kos
is maar altyd in hierdie stelsel die agterste os

Etna Wepener©️




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed