Jongste aktiwiteit:

Towersprokies vir Miné Goud 299 woord

“Mamma lees weer vir my die storie van Jasmyn asseblief.”

Die klein handjie vou om my pinkie en trek my langs haar op die bed neer. Die sterre wat in haar oë speel hou myne vir ‘n wyle gevange voordat ek die boek versigtig optel. Die gare is al plek-plek los en die bladsye vuilbruin gevlek. Die handskrif daarin sierlik en met bottelink geveer. Ek plaas my hand teen die skaars sigbare palmvlek aan die agterkant van die boek.

“Eendag was daar…”

Ek vee die donker krul uit haar gesig en trek die laken tot onder haar ken. Die ogies nou toe. Haar rustige asemhaling en speels glimlag om die mondhoeke vertel sy eie storie. Klaasvakie het sy sandjies diep gestrooi vannaand. ‘n Strepie maanlig vlek deur die gordyn en val oor die ou storieboek op die bed. My gedagtes dwaal terug na my kleindogtertjie aande. Mamma wat my saggies op die wang soen en dan die towerboek uithaal. Soveel stories wat uit hiedie boek tot lewe geroep is. Prinsesse, prinse, drake. Eendag sal hierdie boek en sy geheime aan Minè oorgedra word. Wanneer sy oud genoeg is om die geheim van hierdie towerboek te verstaan. Te weet dat sprokies ook grootmense se harte kan heel.

Versigtig blaai ek deur die vegeelde bladsye. Winnefred Minèlle Meij – Die swart letters eindig in ‘n inkvlekkie wat soos ‘n kroon uitspat. Onder dit, my ma se duidelike handskrif.

Towerstorieboek
                Hierdie boek bevat stories wat vir klein oortjies bedoel is.
                  Wanneer jy deur die oë van ‘n kind na die bladsye kyk
                                     sal die sprokies verskyn,
                                         glo soos ‘n kind
                              dan sal die geheime jou beskore wees
                                                       

                                                    Minèlle

Ek vleg die res van die leë vergeelde bladsye deur my vingers. Eendag, my kind, sal jy jou eie sprokies in hierdie boek vind.

Amanda De Meillon




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed