Jongste aktiwiteit:

Die groot koors.

Die groot koors.

Dit is weer daardie tyd: Wêreldbeker Rugby-tyd. Die Rugby Wêreldbeker toernooi is nie sommer net nog ‘n toernooi nie, dit is beslis een van die mees opwindende toernooie in die wêreld. Lande en nasies word saamgesnoer in hierdie fees van sportmanskap en gesonde kompetisie. Nasionale trots en samehorigheid kan orals waargeneem word.

Die spanning wat met elke wedstryd gepaardgaan is onvermydelik en sorg vir elektries belaaide oomblikke in die stadions. Nasionale kleure word gedra en stemme word hees geskree om jou gunsteling span aan te moedig.

Daar is iets betowerend aan die oomblik net voor die fluitjie blaas om ‘n wedstryd te begin. As jy in daardie stadion sit, voel dit asof ‘n elektriese stroom deur jou hardloop. Die rugbyveld lyk so groen en rustig. Maar dan, breek die skielike gebrul van die skare uit! Dit is nie sommer net ‘n geskree nie; dit is ‘n golf van emosie wat oor jou spoel, soos ‘n donderstorm wat die stilte verbreek. Die atmosfeer is so gelaai, jy kan dit amper met ‘n mes sny.

Speelstyl en taktiek word onder ‘n vergrootglas geplaas en vaardighede sorg vir opwindende kykerservarings. Passievolle ondersteuners reis na die uithoeke van die wêreld om deel te wees van die opwinding.

Die sogenaamde underdogs, oftewel die spanne waarvan dit nie nodig verwag word om te wen nie, sorg met geluk aan hulle kant vir verrassings. ‘n Les wat jy uit hierdie ervaring leer is dat daar in sport, net soos in die lewe ook, niks onmoontliks is nie.

Die afgelope paar jare kan getuig van die mees onvergeetlikste oomblikke in die geskiedenis van Wêreldbeker rugby. Wie sal ook Suid-Afrika se inspirerende wen in 1995 vergeet? Net so het Japan se oorwinning oor Suid-Afrika in 2015 gewys dat die toernooi ‘n platvorm skep vir geskiedenis.

Laat ons saamstaan en ons span aanmoedig om daardie beker huis toe te bring.

Soos Leon Schuster sing:

“Met my hand op my hart
Sing ek vurig vir die Bok
Legendes deur die jare

En my bors wat swel van trots
Wat ek sê en wie ek is
En alles wat ek doen
Geanker in die Bokke
Want my bloed is groen …”

So kan ons ook ons hande op ons hart sit, vurig sing met ‘n bors wat swel van die trots. Ons bloed bly groen.

Eenmaal ‘n Bok, altyd ‘n Bok!

©Marlene Erasmus
30/09/2023
(340 woorde sonder die lirieke)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed