Jongste aktiwiteit:

Oupa Koos en Ouma Lettie se rugby-avontuur.

Oupa Koos en Ouma Lettie se rugby-avontuur.

As daar nou getroue rugby-ondersteuners is, is dit Oupa Koos en Ouma Lettie. Die twee het alles van die reëls geweet en het nie ‘n wedstryd van die Bokke gemis nie. Hulle kleinkinders het besluit om hulle ‘n geskenk te gee vir hulle huweliksherdenking. Maar die grootste verrassing was dat dit kaartjies vir die Bokke se wedstryd op Nuweland is.

Trane het in oupa se oë opgewel toe hy die kaartjies tussen sy bewende vingers vashou. Ouma Lettie het haar Springboktrui aangetrek en oupa het besluit om sy rugby-sokkies aan te trek vir die wedstryd. Oupa Koos het vas geglo dat dit geluk sal bring vir sy span. Hy het daardie einste sokkies gedra toe Suid-Afrika die laaste keer die Wêreldbeker gewen het.

Hulle het vroegoggend vertrek na Nuweland toe. Toe Oupa Koos en Ouma Lettie by die stadion aankom, is die atmosfeer opwindend. Die massiewe Nuweland stadion, ‘n ikoon in die hart van Kaapstad, het uitgestaan met sy indrukwekkende struktuur en groot skerms. Die geraas van die skare het die lug gevul.

Mense van alle ouderdomme het rondgeloop, baie van hulle getooi in hul Springbok se groen en goud, met vlaggies wat in die wind wapper. Sommige het geverfde gesigte gehad, terwyl ander bokhorings gedra het. Daar was stalletjies en die verleidelike geur van braaivleis en boerewors-rolletjies het lug gevul.

Die omgewing rondom die stadion was ‘n warboel van aktiwiteit. Taxi’s en busse het mense afgelaai, terwyl verkopers vlaggies en pette aan verbygangers gewys het. Op die agtergrond was die Tafelberg sigbaar, ‘n rustige teenwoordigheid teen die besige atmosfeer van die stadion.

By die stadion aangekom, skrik ouma haar amper boeglam!

“Koos! Ek het my bril op die kombuistafel vergeet. Hoe op aarde gaan ek die Bokke sien speel sonder dit?” het sy benoud uitgeroep.

Oupa, heel simpatiek: “Moenie stres nie, Lettie! Ek sal kyk en vir jou vertel wat gebeur!”

Sonder veel gesukkel het hulle die sitplekke opgespoor, maar tot hulle ergernis was dit reg langs ‘n klomp lawaaierige ondersteuners van Nieu-Seeland. Hulle het vrolik gelyk met hulle geverfde gesigte.

“Môre julle twee, Golden oldies,” het een van hulle gesê. Sy gesig was heel bedek met silwer vere van die All Blacks se wapen. “So, is julle gereed om vandag die tweede beste span te wees?”

Ouma Lettie, sonder haar bril, het haar hand uitgesteek na die man se gesig. “O, is jy een van daardie geskilderde krygers wat die haka doen?”

Die ys is gebreek toe almal van lag uitbars. Die Nieu-Seeland ondersteuner het gesê, “Net vir vandag!”

Ouma Lettie kyk na oupa wat sy oë vir ‘n oomblik sluit. Sy sit haar hand op sy skouer. “Waaraan het jy nou gedink?”

Glimlaggend kyk hy na haar, “Ek onthou een besondere dag, lank gelede, toe ek as ‘n seun by my eerste rugbywedstryd was. My pa het my saamgeneem na die wedstryd by die ou Ellis Park stadion.”

“Ek was so opgewonde dat ek bang was almal sou hoor hoe my hart klop!”

“Ja, en het hulle gehoor?” vra ouma ondeund.

“Nee, gelukkig nie. Ek onthou so goed dat ek die hele wedstryd deur my pa se hand vasgehou het. Elke keer as daar ‘n drie gedruk was, het hy opgespring en my in die lug geswaai! Daardie dag het ek my hart op rugby verloor.”

Ouma Lettie het sag gelag. “Jy’s ‘n regte ou softie, Koos. Maar dis goed om te onthou waar ons liefde vir die sport vandaan kom.”

Oupa Koos het geknik. “Ja, elke keer as ek by ‘n wedstryd is, voel dit soos daardie dag.”

***
Onder luide aanmoediging is die haka uitgevoer en die fluitjie is geblaas vir die afskop. Soos die wedstryd gevorder het, het Oupa Koos in die fynste detail vir Ouma Lettie die hele wedstryd beskryf sodat sy die wedstryd kon volg.

Teen rustyd het die All Blacks al reeds ‘n voorsprong gehad, maar oupa en ouma was vol vertroue vir die Bokke. Hulle sal die wedstryd wen!

Halftyd vra Ouma Lettie: “Gaan haal vir ons ‘n worsbroodjie, Koos.”

Oupa Koos kom terug, maar met ‘n yslike roomys in sy hand. Hy het so lank gevat om weer by hulle sitplekke te kom dat die roomys heeltemal gesmelt is.

“Ek het gedink jy sal lus wees vir ‘n roomys, Lettie.”

“Ai, Koos! Jy het nou nie so lekker gedink nie,” het sy gesê. Met ‘n glimlag het sy die sagte roomys geneem en geëet.

Toe die spelers terugkeer na die veld, merk Ouma Lettie ‘n speler op wat sy dink is een van die Springbokke, en hy lyk vir haar baie bekend.

“Kyk, Koos!” skree sy opgewonde en wys na die kant van die veld. “Is dit nie ons kleinseun, Willem wat daar staan nie? Ahhhh! Ek het altyd geweet hy sal eendag vir die Bokke speel. Ek’s so trots!”

Oupa Koos kyk in die rigting waar sy wys en bars uit van die lag. “Lettie, daardie is die waterdraer! En dit is beslis nie ons Willem nie! Hy bring net die water vir die spelers.”

Ouma Lettie voel so verleë, maar sy lag saam. “Ek het nogal gewonder hoe hy so vinnig soveel gewig verloor het. En hoekom hy buite die veld staan!”
Die twee lag te lekker oor die misverstand, maar dit het hulle dag net lekker opgehelder.

Spoedig het die tweede helfte aangebreek en Suid-Afrika het begin terugveg. Oupa Koos het op-en-af gespring soos hy sy span aangemoedig het. Met elke drie het die stadion gebrul van opgewondenheid.

Net voor die eindfluitjie moes blaas, het Suid-Afrika ‘n strafskop gekry en die kans gekry om te wen. Oupa Koos het sy asem ingehou, sy oë op die bal gehou, en toe… DRIE PUNTE!

Die skare het gejuig en selfs die Nieu-Seeland ondersteuners langs hulle het hulle kom gelukwens.

Met trane in haar oë (sonder haar bril) het Ouma Lettie vir Oupa Koos ‘n drukkie gegee. “Ek het niks gesien nie, maar dit was beslis die heel beste wedstryd ooit!”

Laggend met hulle hande in mekaar het hulle die stadion verlaat.

Vir lank het hulle nog oor die onvergeetlike wedstryd gesels.

©MarleneErasmus
30/09/2023

(1014 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed