Jongste aktiwiteit:

Die KERSGESKENK

Die KERSGESKENK

Na die feesmaal sit almal om die halfafgedekte tafel, en eintlik wil niemand roer nie. Sat. Die tafel staan onder die groot koelteboom op die gras agter die huis; die grootste geskenk, ‘n fiets, leun teen die boomstam, die kleineres staan op die tafel tussen die skottels of lê onder die stoele, of, as dit ‘n bloese of ‘n das was, het die ontvanger dit aangetrek of omgehang.

Ouma streel met haar vingers oor die nuwe tieroog wat om haar nek hang. Die kinders het dit self gevind en glad gevryf tot dit blink, en Hannes het ‘n gaatjie in geboor sodat ‘n dun riempie daardeur getrek kon word. „In ander wêrelddele,” sê Ouma, „is dit nie so warm, wanneer Kersfees kom, soos hier by ons nie. En nie almal is so gelukkig om só ‘n lekker fees te kan vier nie.” En dan sit sy mymerend en staar na die blompot met besembosblomme wat voor haar op die tafel staan. „Pssjt, Ouma gaan ons ‘n storie vertel,” fluister Neelsie.

In die hoë berge van Tirool — dis ‘n soort provinsie van Oosterryk, in die Alpe — kan dit koud word, bitter koud. Die bergboertjies word nie ryk nie want dis swaar werk op moeilike, klipperige hangakkers, en die kronkelpaadjie na die dorp onder in die dal is steil. Dit kan baie gevaarlik wees as jy nie oppas nie; mense het al omgekom, ervare bergboere wat al jarelang daarlangs geklim het.

In die jaar toe ek gebore is, was dit ‘n besonders ysige winter, en baie gesinne was op hul bergplasies rêrig ingehok. In hul blokhuisies op hul helling-erwe. Dit het die halwe Desember gesneeu, en ‘n deel van November daarvoor. Die sneeu het vir die kinders skouerhoog op die grond gelê, die takke van groot bome het onder die las van die sneeu gekraak. Die paadjie van die huisdeur aan die stal verby tot die houtstapel was ‘n smal manshoë sloot wat met sneeugrawe oopgegraaf is. En koud! In die meeste stoorkamers was genoeg voer en kos om deur te hou tot die sneeu smelt.

Op die klein plasies het die mense voorberei op die komende feesdag, en daar is gebak en vloer geskrop, daar is hout gekap en stal skoongemaak, klere en skoene is gestop. Ouers het probeer tyd afknip om ‘n geskenkietsie vir die groot dag in die hande te kry. In een van die huisies het ‘n besonders arm gesin gewoon. Ja, die voorrade gaan tog hou en die huis was skoon, die stal warm — in vergelyking — maar daar was twaalf kinders, en die ouers het niks gehad om te skenk nie. Daar was nie twee Groschen — die kleinste geldstuk in daardie land — om teenmekaar te vryf nie. Lank na die kinders reeds gaan slaap het, het die ouers beraad, maar kon geen uitweg vind nie. Daar sou môre niks vir die kinders op die tafel staan nie. In Middel-Europa vier die mense op Heilige Aand, die vier-en-twintigste, en gaan dan op die Christfest-dag kerktoe. En nou is dit al die drie-en-twintigste.

Pikdonker was dit nog toe die man opstaan en aantrek. „Waar wil jy nou heen, ou man?”

„Nee, ek loop af dorptoe.”

„Maar met één Groschen kry jy mos niks nie.”

„Makiesakie. Ek kan nie heeldag hier sit en moerig wees nie.”

„Versigtig, hoor!”

„Ja, ja.” En hy trek die deur agter hom toe.

Toe die kinders opstaan, was dit ‘n gewoel en gewemel, en vrolike, afwagtende kinderstemme het oor en weer geroep. Die meisies het mekaar se hare gevleg, die seuns het al die aanstaande werkies gedoen, sonder om te mor en die skoene met beesvet en spoek op hoogglans gebring. Die kamer word met papierblomme en strooisterre versier, ook dié van verlede jaar. Geen stryd, geen sanik nie. Die grotes lees uit hul skoolleseboeke vir die kleintjies voor. Dit word middag, en die goeie luim bly. Die kinders sing: Skool- en volksliedjies, kerk- en kersliedere. Alles wat hulle ken, en weer van voor. Laat namiddag word die tafel gedek.

Net die moeder het senuweeagtig geword. Waar blý dog die man? Hoekom kóm hy nie? Hy weet mos dis nou-nou donker nag en ons moet die kerse aansteek. Die kos is gaar. Die kinders word ook ongeduldig. Swaarmoedig merk sy dat die wind opgekom het. Altegou huil hy in die skoorsteen. Maar geen man nie.

Uiteindelik besluit sy om liewer aan tafel te gaan sit as om mal te word met al die verstomde gesigte wat haar verwagtingsvol aankyk. Juis as sy met die tafelgebed wil begin, hoor hulle ‘n geruis aan die deur, tussen gekrap en geklop. Die deur bars oop en daar staan haar man, volkome toegedek in sneeu, skaars herkenbaar. Soos ‘n sneeuman.

„Pappa, waar wás jy die hele tyd?”

„Eers die deur toe. En help my om die sneeu af te klop. So…” Iemand hang sy jas agter die stoof op.

„Ek was onder op die dorp en het iets gesoek om ons maaltyd ‘n bietjie feestelik, weihnachtlich, te maak. Die winkels was al toe en niemand was op straat nie. Daar het ek oor die plein gestap tot ek voor die kerk kom staan, en het ‘n gebed opgestuur. Toe ek my oë oopmaak en afkyk, sien ek presies wat ek gesoek het, daar op die trap in die voorportaal van die kerk!” Hy knoop sy baadjie oop, wat styf om sy lyf toegewikkel was, en bring ‘n bondeltjie tevoorskyn. Daarin ‘n klein pasgebore meisiekind.

„Haar naam is Eva-Maria,” sê die vader en gee dit aan die moeder. „Geseënde Kersfees, vir ons almal.”

Ouma straal oor haar hele gesig: „En daardie klein meisiekind was ekke.”

©15e. Desember2017__▲▲▲☼▲▲▲_________________tje

[In die kerklike almanak is die 24e. Desember Adam-en-Eva-dag, die 25e. die Chrustus-feesdag, ook die eredag van Maria. Dus Eva-Maria.]

[Hierdie verhaal het ek meer as ‘n halwe eeu gelede gehoor of gelees. Waar?

Sondagskool? Classic Comics? Skoolleseboek? Saterdagmatineebioskoop?

Ek weet nie. Baie dankie aan onbekend.

© slegs op hierdie weergawe; 1e. Des. 2014.]

NIE VIR INTERNET-SOSIALE PLATFORMS OF SOORTGELYK VANPAS NIE




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed