ontvlugting GOUD
ontvlugting – Silwer
wat is die lewe sonder drome dan
die euforie daarvan
om op sjampanjeborreltjies te dryf
en die hoogte in te skiet
en tussen die sterre vanuit die hemelruim
kabouters en feëtjies te bespied
of deur ‘n warrelwind meegevoer te word
gewigloos
tot waar jy jou op spookasemwolke bevind
vry tussen reënboë te gly
waar die leeu en die lam
aan suikerstokkies suig
stroopsoet
en kleurvolle visse verby swiep
wyl hul vrylik hoog bo die water
asem vind
waar geeneen die ander beny
geen politiek of geldeenhede
geen tyd geen verlede
slegs ‘n hede
waar elk’ wese gedy
in ‘n nano-droom-oomblik
beskore vir dié
wat durf droom
© Retha van Deventer, 2026.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Mei 2026 - OOP projek