Jongste aktiwiteit:

Melkbos

Die eerste ding wat Lien Meiring in Uis leer, is dat hout ook kan doodmaak.

Sy staan langs die pad waar ’n ry klipgrafte laag teen die grond lê en tel hulle sonder om haar lippe te beweeg. Een, twee, drie. By elf hou sy op. Die wind waai warm stof teen haar kaal enkels vas.

’n Hond kom snuffel tussen die klippe rond. Sy baas staan ’n entjie weg met sy hoed in die hand en ’n kitaar oor sy skouer.

“Moenie vir hom skrik nie, mevrou,” sê hy. “Hy byt nie. Hy ken net die plek van die dooies beter as die lewendes.”

Lien kyk na hom. Die man se gesig is bruin, sy oë lig soos klip wat lank in die son gelê het.

“Wie lê hier?” vra sy.

Die man draai sy kop na die vaalgroen plante teen die rant.

“Mense wat gedink het droë hout is maar net droë hout.”

Agter haar klap Leo die bakkie se deur toe.

“Lien? Kom, ons moet ry. Die voorman wag al vir my.”

Die ou man kyk nie na Leo se kant toe nie. Hy bly na Lien kyk.

“Melkbos,” sê hy. “Mens maak nie vuur met alles wat brand nie.”

***

Teen sononder staan Leo agter die toonbank van die klubhuis. Met ’n potlood agter sy oor en ’n klomp mans voor hom wat almal gelyk wil betaal. Die mans kla en lag terwyl hulle nog bier bestel.  Sy nuwe hemp se kraag is reeds vol stof.

Lien sit alleen by die tafeltjie teen die muur. Voor haar word haar Fanta warm. Leo kyk twee keer na haar kant toe, trek sy mond skeef, maar elke keer kom iemand tussen hulle in.

By die kombuisdeur staan twee vroue met voorskote oor hulle rokke. Die een roer ’n pot. Die ander een vee haar hande aan haar heupe af en sê iets vinnig, vol klikke. Albei lag vrolik.

Lien kyk op.

Die jonger vrou sien haar kyk en glimlag. “Jy is mos mevrou Meiring?”

Lien staan te vinnig op; haar stoel krap oor die sementvloer.

“Ja,” sê sy. “Lien.”

“Ek is Saara,” sê die vrou. “Hier sê ons nie lank ‘mevrou’ vir iemand wat alleen sit en koeldrank drink nie. Kom saam kombuis toe. Daar is ten minste hitte wat kos maak, nie net hitte wat jou kwaad maak nie.”

Lien kyk na Leo. Hy tel bottels, skryf iets in ’n boek en knik vir ’n man by die deur.

Toe tel sy haar glas op en volg Saara kombuis toe.

***

Die kombuis ruik na uie, vet en brooddeeg. Op die stoof prut ’n groot pot, en teen die muur staan rye borde gereed asof die hele dorp enige oomblik kan kom eet.

“Sit daar,” sê Saara, en wys met haar ken na ’n houtstoel by die meelblik. “Maar moenie te lank soos ’n gas sit nie. Hier kry gaste vinnig werk.”

Lien sit haar Fanta op die tafel neer. Die glas het ’n nat kring op die hout gelos.

Die ouer vrou by die stoof kyk oor haar skouer. Sy sê iets vir Saara in ’n taal wat Lien nie ken nie. Die klanke klap sag teen mekaar, vinnig en rond, en toe lag albei vroue weer.

Lien glimlag saam, al verstaan sy niks.

“Sy sê,” sê Saara, “jy lyk of die pad jou uit jou skoene geskud het.”

Lien kyk af na haar kaal enkels, nog wit van stof. “Dis dalk so klein bietjie waar.”

“Dan bly jy vanaand hier tot jy weer in hulle pas,” sê Saara.

Van voor af bars ’n man se lag deur die klubhuis. Bottels klap teen mekaar. Leo se stem kom kort-kort op, dan verdwyn dit weer onder die ander stemme.

Saara sit ’n mes en ’n hoop uie voor Lien neer. “Kan jy skil?”

Lien vat die mes. “Ek kan probeer.”

“Moenie probeer nie. Skil. Probeer maak mens stadig.”

Die eerste ui byt haar oë. Sy knip hulle vinnig, maar die trane loop tog. Saara maak of sy dit nie raaksien nie. Sy skuif net ’n bak nader vir die skille.

By die agterdeur verskyn die hond eerste. Dieselfde stofkleurige lyf, dieselfde neus wat oral wil snuffel. Agter hom kom die ou man met die kitaar oor sy skouer in.

“Larry,” sê Saara, sonder om om te kyk, “as daai hond weer aan my kombuispot kom lek, kook ek hom saam.”

Die ou man haal sy hoed af. “Hy sê hy kom net kyk of die nuwe mevrou al help.”

Lien hou die ui halfpad in haar hand vas.

“Jy,” sê sy.

“Ek,” sê hy. Sy mond trek skeef.

Saara kyk tussen hulle twee. “Het hy jou al by die grafte bang gepraat?”

“Hy het my van melkbos vertel,” sê Lien.

Die kombuis raak vir ’n oomblik stiller. Net die pot bly prut.

Larry sit ’n klein klip op die tafel voor Lien neer. Van buite lyk dit vaal, amper lelik, met sand in die krakies.

“Hou hom môre teen die son,” sê hy. “Nie nou nie. Party goed wys eers lig as jy ophou haastig kyk.”

Saara klik haar tong teen haar tande. “Jy en jou klippe.”

“Dis al wat hier rond eerlik is,” sê Larry.

Voor in die klubhuis roep iemand na Leo. Sy naam klink vreemd in ’n ander man se mond. Lien kyk deur die kombuisdeur na haar man agter die toonbank. Hy staan met sy rug na haar toe, besig om geld te tel onder die geel lig.

Toe kyk sy terug na die klip op die tafel.

“Wat is dit?” vra sy.

Larry sit sy hoed terug op. “Nou nog niks,” sê hy. “Tot jy mooi kyk.”

***

Daardie nag kom Leo laat by hulle huisie in.

Lien hoor die bakkie lank voor sy hom sien. Die enjin proes voor die draadhek, bly ’n oomblik stil en dood met ’n laaste ruk. Buite kraak sy stewels oor die grond. Toe gaan die deur oop en bring hy die reuk van bier, stof en moegheid saam in.

“Jy’s nog wakker,” sê hy.

Lien sit by die kombuistafel met die klip voor haar. Die lamp gooi ’n geel kring oor die hout. Buite druk die donker teen die venster.

“Ek kon nie slaap nie.”

Leo trek sy hemp uit sy broek. “Eerste dag is altyd baie erg.”

Sy kyk na hom. Daar is ’n stoflyn teen sy nek waar sy kraag was.

“Ek het vir Saara ontmoet,” sê sy. “En die ou man se naam is Larry.”

Leo glimlag flou terwyl hy sy stewels uitskop. “Jy het vinnig kennis gemaak met die mense.”

“Ek weet nie of ek kennis gemaak het nie. Hulle was net daar.”

Hy gaan sit op die rand van die bed in die klein kamer. Die ysterbed kla onder sy gewig.

“Die voorman sê ek moet môre vroeg weer by die klub wees. Daar is voorraad wat nie klop nie. En die kasboek…” Hy vryf met albei hande oor sy gesig. “Ek sal dit regkry.”

Lien tel die klip op. “Larry sê ek moet hom môre teen die son hou.”

Leo kyk nie op nie. “Wie?”

“Die ou man by die grafte.”

“Lien.” Sy naam vir haar kom sagter, maar moeër. “Moet jou nie deur elke ou storie hier laat bang maak nie.”

Sy sit die klip terug op die tafel.

“Ek is nie bang nie.”

Maar Leo het reeds agteroor op die bed gelê. Sy arm lê oor sy oë. Binne ’n paar asemteue hang sy mond effens oop en die dag los hom sonder om vir haar te wag.

Lien bly sit.

Op die tafel lê die klip vaal en stil.

Sy dink aan die grafte langs die pad. Aan melkbos. Aan Saara se lag in ’n taal wat sy nie ken nie. Aan Leo se rug agter die toonbank. Aan haar eie naam wat nog nuut in Uis is.

Later blaas sy die lamp dood.

Die volgende oggend kom die son vroeg deur die dun gordyn. Dit sny oor die tafel en val op Larry se klip.

Lien staan kaalvoet in die kombuisdeur en kyk daarna.

Vir ’n oomblik gebeur niks.

Toe tel sy dit op en hou dit teen die lig.

Die vaal dop bly vaal, maar diep in ’n skeurtjie skyn iets pers. Nie baie helder nie. Net genoeg om haar nader te laat kyk.

Sy draai die klip stadig tussen haar vingers.

Buite roep ’n vrou iewers na ’n kind. ’n Hond blaf. Van die klubhuis se kant af kom die eerste gelag al oor die oop grond aangewaai.

Sy sit die klip in haar voorskootsak. Toe bind sy haar hare vas.

Sy draai nog een keer om en kyk na die bed waar Leo steeds slaap met sy een hand oop teen die laken.

“Ek gaan net gou dorp toe,” sê sy sag.

Hy antwoord nie.

Buite lê Uis voor haar.

Links lê die pad na die klubhuis. Regs lê die pad na die klipgrafte.

Lien staan ’n oomblik stil.

Toe draai sy regs.

 

©MarleneErasmus

30/06/2026

(1501 woorde)




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed