Alles behalwe n glasskoen
Alles behalwe ’n glasskoen
Dit was die drie susters van Drie Susters…
amper genoeg vir ’n ware verhaal.
Nou nie een van hulle was stief nie,
wel net elkeen
met hul eie pa.
Hul ma, ou Bets, het lank gesukkel om te besef die resep lê toe nie in die bodem van ’n brandewynbottel nie.
Die dogters het maar gelyk soos verdwaalde makoue tussen swane.
Soos die storie loop, moes ou klein Gert trou… teen wil en dank om die familieplaas te erf.
Gert was nou nie te aardig gewees nie, maar ai tog, die man het gehakkel en gebrei sonder ’n patroon.
Dankie tog, geld was aan ou Gert se kant. Met dit kon hy toe nooiens vang.
Met ’n plaasopsop sou hy die ja woord vra.
Ou Bets sleep haar drie dogters, elk met hul eie pa, behoorlik tot by die skuur.
Opgetof soos net hul kan, is die dogters toe ook vort.
Ou Lenie gaan ook saam, met haar wasrok en rubberplakkies.
Na ’n hele paar keer se skoffel het ou Gert besluit: die meisie met haar wasrok is sy bruid.
Skuins na twaalf besef sy daar is nog beskuit in die oond.
Ou Lenie hol dat die stof so staan. Sy verloor albei skoene langs die pad, maar red toe gelukkig haar gebak.
Saam met die hoenders se kraai staan ou Gert voor Lenie en paai…
Ou Leeeeeennnnnnniiiiiiiiieeeeeee, ssssssal jy maar mmmmmet die skkkkkkoenne voor my stttttooof ook kkkkom stttttaan?
©️ Ryno du Plessis 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.