Tussen die lyne 790 woorde Goud
Tussen die lyne.
Die swakkes kan nooit vergewe nie. Vergifnis is die eienskap van die sterkes. Mahatma Gandhi.
Jy is ‘n sterk vrou. Hoeveel keer het ek al hierdie woorde gehoor. Sterk? Nee, ek gaan net nie toelaat dat die verlede my aftrek in ‘n donker gat in nie. Tien jaar gelede het ek die gat toegegooi. Die kis verbrand. Soos ‘n Phoenix uit die as opgestaan as ‘n nuwe mens.
Hoe vergewe jy wanneer die seer dieper as jou hart lê? Wanneer die letsels van jou verlede fyn spoortjies uitkaart op jou lyf. Die spieël lieg nie. Dit vertel ‘n storie van ‘n verlede wat jou probeer vernietig het. Dit vertel van ‘n vrou wat geval het en weer opgestaan het. ‘n Vrou wat bly glo het dat die lig aan die einde van die tonnel wel vir haar beskore is.
Dertig jaar. Tog het ek bly glo. Bly vergewe. Selfs toe die ware feite soos ‘n oop boek voor my gelê het. Ek het besef dat ek nie kan, nie mag, val en bly lê nie. My oë was vol drome. ‘n Jong tiener meisie wat net ‘n huis en ‘n gesin wou hê. Totdat daardie kaarthuis binne die eerste jaar begin kantel het. Haar legkaart waaraan sy so versigtig probeer bou het, in stukke aan haar voete bly lê het. Drome vernietig. Vriendinne wat eintlik net haar grootste vyande was. Tog het sy bly vergewe. Elke keer die positiewe agter die lelik probeer sien. Dit was ek. Dit is ek! Die Poly-Anna wat net die goeie uit die lewe en die donker haal.
Elke wolk het ‘n silwer randjie. Tog op ‘n dag breek daar ‘n storm los en die silwer verdwyn. Die bliksemstrale word bakens van hoop, want dit bring lig in die woedende, vernietigende storm. Ek leer om te oorleef. Die lewegewende rëendruppels van die storm op te vang en te bottel vir wanneer die droogte die laaste groen laat verdor. My woestyn word ‘n 30 jaar uittog vanaf Egipte na my Kanaän. Tegnies gesproke 29 jaar, want dit was in die dertigste jaar wat my vergifnis my uit die donker tonnel uitgehelp het. Vergifnis het blou oë. Hemelblou. Vergifnis oordeel nie my verlede nie. Vergifnis kyk vorentoe. Vergifnis neem my hand en lei my sodat ek nie weer my tone teen klippe stukkend stamp of my voetsole bokdorings optel nie. Vergifnis is ‘n sterk man wat nie sy hande vir my lig nie. Nie vlymskerp dolke met sy mond deur my hart boor nie. Wanneer jy leer om te vergewe kom vergifnis op ‘n wit perd na jou toe.
Veregifnis maak jou sterk. Die pyn wat jy met jou saamdra vernietig jou. Wanneer jy vergewe maak jy daardie rugsak leeg. Jy los dit agter jou. Jy kan vorentoe beweeg. TOG VERGEET JY NIE. Daardie lesse maak van jou ‘n sterk vrou. Iemand wat die lewe vierkantig in die oë kyk en se “give me your best” ek is geplant, gewater en gevoed deur die storms van die lewe. “Try to break me, I’ll just keep on getting back up!” Want ek vergewe net soos die Vader my vergewe het.
Vergifnis maak jou sterk. Veral wanneer jy jou rug regop trek, jou ken oplig en jou teenstaander konfronteer. Nie met haat nie. Nie met ‘n teengeveg nie. Nee, met ‘n hart van liefde. Wanneer jou rug krom bly. Jou skouers bly hang. Jy altyd terugkyk en die klippe optel wat uit jou rugsak geval het, gaan jy sleepvoet bly voortstrompel. Die verlede gaan soos ‘n Haak-en-steek aan jou jaspunt klou en ‘n sleepsel agterlaat wat ander maklik kan volg. Hak daardie dorings af, al steek die fyner deel in jou vingers. Hak dit af, vergewe die skerp fenyn en seer, dan sal die sleepsel in die grondpad bly lê. Die gewig van die swaar takke val weg. Gooi die klippe uit jou sak. Vergewe die wat dit daar ingepak het en kyk vorentoe.
Dit was lewenslesse wat ek moes leer. Elke wandaad, elke vyand, elke swart hond moes ek laat gaan sodat ek met nuwe oë na die lewe kon kyk. Daardie oorwinning teen die donker maak van jou ‘n sterker mens want jy dra nie meer die las met jou saam nie. Ek moes ‘n pad stap. Ek moes leer om te vergewe want om te vergewe is om die krag uit jou vyand se hande te neem. Onvergifnis is die dolk waarmee hulle jou bly steek! Vergifnis is die antibiotika wat die gif uit jou hart haal en dit is waar my krag in lê. Ja ek is n sterk. Om te kan vergewe maak my sterk.
* Die swakkes kan nooit vergewe nie. Vergifnis is die eienskap van die sterkes. Mahatma Gandhi.
© Amanda de Meillon
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.