Jongste aktiwiteit:

Skuit jy dan op jou eie voorstoep?

Hoe dit gekom het dat ek eers in my herfsjare dié les moes leer verstaan ek nie!
Ek meen, dit sou dekades terugdraai had ek die goue reel eerder omarm: “‘n Mens skuit nie op jou eie voorstoep nie.”
Van lojaliteit het ek in my jeug min verstaan. Ek was hoeka nie dergelik agtergeblewe of armlastig of  voorheen benadeel nie, ek was maar altyd deel van die los gemaal. Tog het my gebrek aan wysheid en insig lelike spore oor my loopbaan getrap. Twee keer moes ek, onder protes,skriftelike waarskuwings teken. Drie keer het ek stert tussen die bene bedank en groener weivelde gaan soek.
Slimjan dink mos die gras is groener in die ander kamp, totdat hy kniediep in ander kamp se mis staan!
Tog het ‘n intrinsieke stuk waarheid my bly ontwyk. My Emosionele Intelegensie Kwosiënt het rooigesig net duskant nul bly huiwer – vir etlike jare. Die Britte sê dit mooi: “Love covers a multitude of sins.”
Ek was nie daarvan bewus dat die werkplek ook deel van hierdie steekproef was nie!
Ek het ‘n doodnormale agt-tot-vyf werksdag gehad. Ek was nooit teleurgestel in my loopbaankeuse, as sulks, nie. Werkspolitiek het soos skerp katnaels in my siel gevreet. Ek weet dat nie almal A-tipe persoonlikhede het nie, ek weet dat die kans dat almal van almal gaan hou in ‘n euforiese “ gelukkig vir altyd” nie buitensporig groot is nie, maar op mý dag, het ek darem al ‘n handvol haters
teëgekom!
Jy weet mos, die wat nooit die son sien skyn oor ‘n ander nie. Die wat koorsstuipe kry sodra jy oor die tou trap.
Jy kan hulle op ‘n myl sien. In groepies rondom hoekies staan hulle tussen breuke en bespreek die stokkies in die ander se oë. Sonder om hulle te steur aan die balke in hulle eies. Soos ‘n deurgeprate telefoon kom die boodskap erg verdraaid by die hoofman oor honderd aan en jy word ingeroep om ‘n waarskuwing te teken. Soms word jy sommerso in die gange oor die vingers getik, of “goedig” gespot in ‘n vergadering. Dit blý ‘n katnael.

Dan kom die oorkook soos ‘n vulkaanuitbarsting. Jy kook oor by jou huis, jy kook oor by jou kerk, jy kook oor by elkeen wat waag om hul oë in empatie te rek. Die kwaad trek soos ‘n goeie swart tee.
Later is dit galbitter getrek en vir niks goed nie.
Ek, hier in my herfsjare, is bewyse daarvan dat jy ‘n toets skryf, en weer skryf, totdat jy hom deurkom. Ek glo opreg dat ek teen hierdie tyd die lojaliteitstoets al geslaag het. Ek weet nou dat ‘n mens nie op jou voorstoep durf skuit nie.
Dit is die plek wat jou voed, dit is die plek wat jou sekuriteit gee, dit is die plek wat jou menswaardig maak in die samelewing. Ek glo daar is wysheid in die grysheid, en al ervaar ek nog nie die winter in my voue nie, wil ek graag my twee sente vir jou gee.
Wees lojaal teenoor jou werkgewer. Moenie kwaadpraat oor jou werk in die sekulêre wêreld nie. Jou werk gee jou ‘n dak oor jou kop, klere aan jou lyf, en kos in jou maag. Jou werk gee hoop vir jou kinders, en gemoedsrus vir jou oudag. Laat die gores gaan, skud hulle af soos ‘n los garing. Weet jy, elke werkplek het hulle. Hulle wat nie wil hê die son moet oor ander skyn nie.

Werk jy saam, wees jy deel van jou werk se sukses. Dís die groen weivelde. Dís die rustige waters. Slegs daarin lê ware arbeidsvreugde.
Almal maak foute. Nie een is beter as die ander nie. Almal woon in huise van glas. Kortom, my beskeie twee sente: “Moenie op jou voorstoep skuit nie.”




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed