Jongste aktiwiteit:

As vuurtonge oor my wange lek

Terwyl ek die dunhout liggies aanvuur met fluisters uit my longe, wonder ek hoeveel kaggelvure ek al deur geleef het, knetters gebreek en tot as sien verpulwer het.

Soms voel dit asof ek in ‘n ewige winter gekerker is. Snywinde wat keep teen die mure van my huis voel ewe tuis in die lugleegte van my kamer as buite in die grof geskuurde kuslyn wat teen my voorstoep aanwaai. Snags, as diepsee stuwings teen die breekwater rotse neffens my kluisenaarshut breek, vind ek my weer voor die soveelste bron van hitte met ‘n soeke wat flou flikker om te uit, te ontdooi in die greep van die vlammegloed.

Vuurtonge lek oor my wange en hals en die koraalglim van verlede winters dans soos sigeuners met die klingel van heupklokkies en tamboeryne teen die donker plafon van nag. Ween ek sag oor ek eerder hier wil wees in plaas van in sonskyndae, waar ander van my spesie speel en lag en onder voorgee en skyn gedy. Oor ek verkies om in die vae buitelyne van kwynende kortstondige winters te verdwyn tot Afrika oor ‘n jaar weer sy stomende bodem kom lawe in die swartryp van nog ‘n genadelose mergel-seisoen.

Winter bekoor my. Miskien is dit omdat al my sintuie op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas word. Paraat om uiterstes te trotseer. Om vriesbrand se aanslag te keer en daadwerklik pogings aan te wend om my kristal kandelare te poets en kerse te brand. ‘n Rede om silwer skottels te poleer vir my hunkerhart om in leeg te bloei.

Winter is ook lewegewend. Ek weet onderliggend al die reën, wind, storms, donders en bliksems, is nuwe lewe besig om te ontkiem. Word ek saam die stille bewaker van nuwe botsels wat wag op ‘n bloei-seisoen.

So ek steek nog ‘n kaggelvuur aan. Laat toe dat die vlamme my skroei en brand tot die vrou in my binneste ontdooi en haar lentelyf uitstrek voor hout gemaakte hitte, in afwagting vir die son om haar te wys wat lente behels.

*uit die pen van ammiemoon*




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed