Jongste aktiwiteit:

Bella Bella dans vir my

Tannie Bella woon in Madelief Tehuis vir Bejaardes. Sy sit in die gesellige televisiekamer.
Tannie Bella is in ‘n rolstoel. Matrone het haar kniekombersie wat tannie Bella jare terug gehekel het, oor haar maer ou bene gegooi. Nou sit sy so, saam al die ander ou siele om televisie te kyk, voor middagete.
Die ander kyk enige iets op die televisie, maar nie tannie Bella nie. Sy raak verveeld. Haar verstand is nog helder en kan nie eentonigheid hanteer nie.
Vandag is so ‘n bietjie anders vir haar, sy voel mismoedig. Sy is hartseer en trane wil loop. Die almanak in haar kamertjie het ‘n rooi kring om vandag se datum en dit moet iets beteken. Haar iets laat onthou, maar sy weet nie wat dit is nie. Die datum wil ‘n klokkie lui.
Sy hoor agter haar hoe besig ontvangs is. Seker al die kinders wat hulle ou mensies kom besoek, maar niemand besoek haar nie. Sy het haar seun so lanklaas gesien. En nie eers van haar oulike kleindogter te praat nie.
Sy kyk rond in die vertrek, haar oog vang ‘n skildery. Dit is snaaks, sy het dit nog nooit teen die muur gesien nie. Seker iemand wat gesterf het se skenking aan die tehuis.
‘n Pragtige ballerina met ‘n pienk satyn rok. Sy dans so mooi en haar voetjies raak nie eers die grond nie. Soos ‘n vlinder.
“Ballerina, ballerina, dans vir my. Ek wens tog so ek was nog so jonk soos jy. Ek kan nie eers loop nie, maar my voete jeuk om weer te dans.”
Trane loop uit haar klein skrefiesoë, oor haar wange en drup op haar skoot.
“En nou die trane?” vra Matrone.
Matrone kom hurk by tannie Bella se rolstoel en neem haar hande. Tannie Bella antwoord nie. Matrone neem haar sakdoek van onder haar horlosiebandjie waar sy dit altyd bêre en vee die trane af.
“Tannie moet nou ophou huil, want ek het ‘n verrassing vir jou by ontvangs.”
Matrone staan op en draai tannie Bella se rolstoel om na die deur se kant toe. Wie sal sy daar sien.
“Ouma, ouma Bella!” roep die dogtertjie met haar pienk ballerina rok aan.
Sy het haar pienk balletskoene met sykouse aan. Pippie Langkous-vlegsels en groot wit strikke op die kop. Daar is ‘n yslike groot geskenk in haar handjies.
Sy giggel. “Ouma Bella, ouma Bella, ek is so lief vir jou. Jou verjaarsdag is vandag en hier is ek nou. Ek kom by jou kuier en bring hierdie geskenk vir jou.”
Sy gryp haar ouma vas en soen haar met ‘n glitter bek op haar wang. Sy plak die geskenk op haar skoot neer en trippel rond.
“Wat ‘n heerlike verrassing,” sê tannie Bella.
Net toe sy verder met Bellatjie wil gesels, stap haar seun met sy vrou die kamer in. Hy gaan hurk dadelik by sy ma se rolstoel en neem haar hande in syne.
“Ma, baie baie geluk met Ma se verjaarsdag en nee ons het nie vergeet nie. Bellatjie het spesiaal haar balletrok vir Ma aangetrek.”
Tannie Bella glimlag en streel oor haar seun se wang. Hy staan op en maak haar rolstoel reg om te gaan.
“Ma, kom ons gaan eet ‘n stukkie koek in die eetkamer, almal wag al daar.”
Terwyl hy haar uit die vertrek stoot, vang tannie Bella se oog weer die pragtige skildery. Die dansende ballerina pop. Sy knipoog vir haar en glimlag.
“Dankie ballerina, wat ‘n wonderlike dag.”
Toe sy weer sien, knipoog die ballerina pop terug en glimlag.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed