
Bessie: 1
Die skoolklok lui en kondig die einde van die Wiskunde periode aan. Bessie lig haar kop van haar arms af op en kyk lui om haar rond. Almal pak haastig boeke weg en gesels opgewonde, want dis huistoegaan tyd. Bessie kyk af na die skryfboek voor haar. Sy het hoegenaamd niks van die somme gedoen wat hulle vir vandag moes klaar hê nie. Die kinders sit hulle boeke op die juffrou se tafel neer soos wat hulle by die klas uitloop. Sy gaan weer in groot moeilikheid wees. Hulle het die hele week gehad om hoofstuk twee se woordsomme te voltooi en juffrou Visser het gesê die een wie se somme nie vandag als klaar is nie, gaan ná skool bly tot dit klaar is. Bessie het nie lus om somme te doen vandag nie en sy gaan beslis nié ná skool bly nie. Sy staan op en pak haar potloodsakkie in haar rugsak. Sy sal die boek net so saam met die ander boeke op juffrou Visser se tafel sit en vinnig uitloop. Teen die tyd dat die juffrou agterkom Bessie se werk is nie klaar nie, is sy lankal by die skoolhek uit.
Met die skryfboek loop Bessie versigtig tot by die juffrou se tafel. Daar is ’n hol kol op haar maag en dit voel of die boek haar brand. Dan sit sy dit vinnig neer en probeer om nie na juffrou Visser te kyk nie. Sy vat die bande van haar rugsak senuagtig vas en stap koponderstebo na die deur toe. “Jy kan mos nie al klaar wees met jou werk nie?” Bessie skrik en kyk om. Dis Rentia Retief. Rentia is ’n regte snip en al die onnies se witbroodjie. Bessie maak of sy haar nie hoor nie en stap aan, maar juffrou Visser het wel vir Rentia gehoor. “Bessie, is jy werklik klaar met ál die somme?” vra juffrou Visser verbaas. Bessie gaan staan stil. Rentia is nog steeds agter haar. “Ek twyfel of sy kan klaar wees, Juffrou.” antwoord Rentia uit haar beurt uit. “As sy nie gesit en prentjies teken het nie, het sy heeltyd op haar arms gelê.” Bessie pers haar lippe op mekaar. Die res van die graad agt klas is al almal by die deur uit. Dit is net sy, Rentia en juffrou Visser wat oorbly. “Dankie, Rentia, ek het met Bessie gepraat.” sê juffrou Visser. Rentia vervies haar en skuur verby Bessie by die deur uit. Bessie voel lus en pootjie haar, maar liewer nie voor juffrou Visser nie. “Is al jou werk klaar, Bessie?” vra juffrou Visser. Bessie staan nog steeds met haar rug na die juffrou toe. Sy kan hoor hoe juffrou Visser tussen die skryfboeke begin soek vir haar boek. “Ja, Juffrou.” jok Bessie en loop dan haastig by die deur uit. “Nie so vinnig nie, Bessie!” roep juffrou Visser agter haar aan, maar Bessie klou haar rugsakbandjies stywer vas en begin hardloop. Agter haar hoor sy hoe juffrou Visser haar stoel terug stoot en haastig deur toe loop. “Bessie,stop! Jou werk is nie klaar nie. Bessie!” Bessie stop nie, sy hardloop, vinniger en vinniger. Weg van juffrou Visser af, weg van die onvoltooide Wiskunde opdrag af en uit by die skoolhek. Sy sal nié vandag na skool bly nie! Vyf dae se ses ure in hierdie tronk is erg genoeg, sy gaan beslis nie haar Vrydagmiddag ook nog hier om sit nie. Die moeilikheid moet maar wag tot Maandag. En Bessie weet haar moeilikheid gaan groot wees, want haar werk was nié klaar nie én sy het gejok én sy het vir juffrou Visser weggehardloop. Sy sal seker ingeroep word na die skoolhoof se kantoor toe. Sy was nog nooit in die skoolhoof se kantoor nie, maar daar is seker ’n eerste vir als.
’n Paar treë buite die skoolhek sien Bessie vir Rentia staan. Sy wag dat haar ma haar moet kom optel. Bessie voel hoe die kwaad in haar opstoot. Rentia sien nie vir Bessie aankom nie, want sy staan met haar rug na haar toe. Bessie loop saggies nader en toe sy by Rentia kom, gryp sy Rentia se skoolrompie en ruk dit af tot op haar enkels. Rentia gee ’n bloedstollende gil. “Wat ek in my Wiskunde boek doen en nie doen nie, is mý saak.” sê Bessie doodkalm vir die histeriese Rentia. Sy huilskree terwyl sy die rompie optrek. “Druk weer jou neus in my sake en jy tel volgende keer jou tande van die grond af op en nie jou rompie nie.” Bessie draai om en loop huis toe. Rentia se gekerm raak al hoe sagter hoe verder sy loop. Dít sal seker ook Maandag by haar lysie van moeilikheid gevoeg word.
Bessie en haar ma woon drie strate van die skool af, so die entjie wat sy moet stap is nie vêr nie. Sy loop en skop los klippies so vêr soos sy gaan. Die reeds stukkende skoene se punte is al nerfaf, want dis ’n gewoonte van haar om so te loop en klippe skop. By die huis met die rooi dak gaan staan sy stil. Sy sien haar ma se groen Ford Escort in die oprit staan. As sy dié tyd van die dag by die huis is, beteken dit net een ding; sy het nog steeds nie werk gekry nie. Haar ma is seker al vir die afgelope maand op soek na werk. Bessie stoot die tuinhekkie oop en loop oor die erf. Verby die huis met sy rooi dak, verby die groen kar en agterom die garage na die tuinwoonstel wat haar ma by die rooidak se mense huur. Bessie kan nie onthou dat sy die huismense al ooit gesien het in die vyf maande wat hulle hier bly nie. Dit is net altyd die bediende en soms ook die tuinier wat hier rond beweeg. Die woonstel se deur is oop. Bessie loop binne en gooi haar tas in die kombuis neer. Die huis is stil. Die lug ruik na sigaretrook, vuil mens en…drank. Bessie loop deur die kombuis na die klein sitkamertjie toe. Sy gaan staan in die deur en pers haar lippe saam.
Nes sy gedink het. Haar ma lê vas aan die slaap op die bank. Haar hare staan wild om haar kop en sy het dieselfde jean en wit hemp aan waarin sy gisteraand gaan slaap het. Haar mond hang effens oop en sy snork saggies. Op die koffietafeltjie staan ’n leë pizza boks waarom vlieë vir die laaste krummels baklei. Langs die pizza boks lê leë bier bottels en op die grond voor die bank waarop haar ma lê, staan ’n halwe bottel whiskey.
Bessie baan haar weg oop tussen die rommel tot by haar ma. “Mamma, word wakker.” sê sy en skud haar ma aan die skouer. Haar ma kreun saggies. “Mamma, word wakker!” sê Bessie ongeduldig. Haar ma sit stadig regop, sy hou haar oë toegeknyp en sluk-sluk aan die droogheid in haar mond. Bessie loop kombuis toe om vir haar ma ’n glas water te gaan haal. “Hoe laat is dit?” vra haar ma toe Bessie weer in die sitkamer kom. Bessie antwoord nie haar vraag nie. “Jy het belowe jy gaan ophou, mamma.” verwyt Bessie haar. Haar ma sê niks, neem net die glas water en drink dit gulsig leeg. Dan sit sy die leë glas op die deurmekaar koffietafel en gryp na die sigaret pakkie en aansteker. Bessie sit op die bank se armlening en hou haar ma dop. Die ouer vrou knyp die sigaret tussen haar lippe vas, steek dit aan, gee die eerste trek en blaas dan die rook stadig in ’n dun strepie die lug in. “Ek het werk gekry.” sê sy so tussendeur die tweede trek-en-uitblaas. “By die restaurant oorkant die hotel.” antwoord sy asof Bessie haar gevra het waar sy die werk gekry het. “As ’n waitress?” vra Bessie dan uiteindelik, net om die stilte te breek. “Nee Elisabeth, as ’n trokdrywwer! Natuurlik as ’n waitress.” Kom die sarkastiese antwoord van haar ma af. Haar doopnaam is Elizabeth, maar almal noem haar Bessie.
Bessie laat haar kop sak en pers weer haar lippe saam. Sy kan aan baie dinge dink wat sy nou wil sê, maar dit sal nie help nie. Sy staan op en loop badkamer toe, druk die bad se prop in en draai die krane oop. “Ek tap vir Ma ’n bad!” roep sy in die gang af en loop kamer toe om haar skoene uit te trek.
Bessie wag tot sy hoor haar ma maak die badkamerdeur toe voor sy weer teruggaan sitkamer toe. Met ’n swartsak in die een hand begin sy die vertrek opruim. Die whiskey bottel se inhoud gooi sy in die kombuis se wasbak uit. Sy hoor haar ma in die badkamer huil. Bessie los die skoonmaakwerk en loop badkamer toe. Sy leun met haar kop teen die toe deur. Haar hart klop te hard dink sy en asof haar ma dit ook gehoor het, hou die gehuil skielik op. “Bessie?” roep haar ma van binne.
Bessie maak die deur oop. Haar ma sit in die bad, bene opgetrek en rooi oë. “Ek is jammer , my kind.” snik sy. Bessie kniel by die bad, vat die seep en waslap en begin haar ma se rug was. “Dit is okay, mamma.” troos Bessie. Haar ma begin weer saggies huil. “Sjuuut. Dis okay.” fluister sy. “Probeer nou net hierdie keer ’n bietjie harder, asseblief.”
Dit is Maandag. Die begin van ’n nuwe week, die begin van haar ma se nuwe werk én die begin van Bessie se moeilikheid. Almal weet seker teen dié tyd dat sy Vrydag Rentia se rompie afgetrek het, want vandat sy vanoggend by die skoolhek ingekom het, kry sy oral sulke onderlangse kykke van die kinders af. Dit lyk nie of Rentia vandag by die skool is nie, want Bessie het haar nog nie met ’n oog gesien nie. Die skoolklok lui en al die leerders tree in rye aan vir die afkondigings. Bessie sorg dat sy heel agter in die graad agts se ry staan. Sy gee tog nie om waaroor die afkondigings gaan nie. Die prefekte probeer die kinders stilhou terwyl die onderwysers uit die personeelkamer kom en na hulle klaskamers gaan. Daar is altyd twee onderwysers wat afkom na die rye toe om die afkondigings te doen. Bessie se maag trek saam. Juffrou Visser en juffrou Malherbe is die twee onderwysers wat aangeloop kom. Juffrou Malherbe is die skoolhoof. Die twee onderwyseresse kom staan voor die rye en ’n doodse stilte daal oor die kinders neer. Bessie laat haar kop sak en pers haar lippe saam. Juffrou Visser doen die gewone afkondigings. Gee sportuitslae, kondig prefektevergadering tye af, ensovoorts. En dan hoor Bessie juffrou Malherbe se stem. “Bessie Kruger, ek wil jou in my kantoor sien asseblief. Nou dadelik.” Bessie kyk nie op nie. Sy kan almal se oë op haar voel brand. Dan kondig ’n prefek aan dat die rye kan verdaag en die bondel lywwe om haar beweeg in verskillende rigtings. Bessie kyk uiteindelik op. Sy staan alleen, almal het verdaag na hulle eerste klasse vir die dag. Juffrou Malherbe en juffrou Visser is ook weg. Bessie oorweeg dit vir ’n oomblik om weer weg te hardloop, maar besluit daarteen. Sleepvoet drentel sy in die rigting van die skoolhoof se kantoor.
Die sekretaresse beduie haar dat sy kan deurgaan. Bessie sien die kantoordeur oopstaan en haar maag trek saam. “Kom binne, Bessie.” sê juffrou Malherbe toe Bessie aan die deur klop. Juffrou Malherbe sit agter haar lessenaar, haar bril is op die punt van haar neus. “Sit, Bessie.” sê sy en beduie na die stoel oorkant haar. Bessie gaan sit. “Weet jy hoekom jy hier is, Bessie?” vra juffrou Malherbe. Bessie knik. “Ja, juffrou.” Juffrou Malherbe vou haar arms. Bessie sit regop. Sy kyk juffrou Malherbe in die oë. Die juffrou het mooi oë, merk Bessie op. Dis ligblou met groen vlekkies. Die oë kyk baie sag na Bessie, amper…amper soos ’n ma se oë. Die oë gee nie kwaai kykke na Bessie nie en as juffrou Malherbe praat is dit met ’n rustige stemtoon. Dit maak Bessie effens onrustig. Sy het gedink juffrou Malherbe gaan haar sommer met die intrapslag al uitskel en hard met haar raas, maar die vrou voor haar is doodkalm. “Bessie, jy weet ek kan nie sulke gedrag by die skool toelaat nie. Wat jy gedoen het, is uiters onaanvaarbaar.” sê juffrou Malherbe. Bessie knik, maar sy wonder of dit gaan oor die Wiskunde, Rentia of albei. “Jy gaan vir juffrou Visser omverskoning vra en wat die Wiskunde opdrag aan betref, sal jy elke dag ’n uur na skool bly die week en jou werk op datum bring. Verstaan jy?” Bessie knik weer. “Ja, Juffrou.” antwoord sy. “En Bessie,” gaan juffrou Malherbe voort “jou skoolwerkboeke is vir jou skoolwerk, nie vir allerhande kunswerke nie.” Bessie skrik en juffrou Malherbe moes dit opgemerk het, want sy verduidelik. “Ek kry al ’n geruime tyd klagtes van onderwysers dat jy jou werkboeke bekrap.” Bessie laat sak haar kop. “Jammer, Juffrou.” Maak sy verskoning. “Jy is baie kunstig, hoor.” Die onverwagse kompliment laat Bessie weer skielik opkyk in die onderwyseres se oë. Sy sien die groen vlekkies in die blou oë dans. “Ek het ’n paar van jou boeke self deurgegaan ná die klagtes ingekom het. Jy teken baie goed, maar jy kan dit nie in jou klaswerkboeke doen nie.” sê juffrou Malherbe. “Ek verstaan, Juffrou. Dit sal nie weer gebeur nie.” Die stoel voel hard onder Bessie en sy wens juffrou Malherbe wil klaar praat. “Het jy al daaraan gedink om aan die jaarlikse kuns eisteddfod deel te neem?” vra die juffrou. Bessie skud haar kop. “Nee, Juffrou, ek stel nie belang nie.” antwoord sy. “Mmm. Dis jammer.” sê juffrou Malherbe en sug diep. “Nou maar toe, dit is al vir nou. Jy kan maar gaan.” Dankie, tog, dink Bessie. Sy spring op. “Bessie,” sê juffrou Malherbe. “Voltooi nou asseblief jou Wiskunde en probeer uit die moeilikheid bly.” Bessie pers haar lippe saam en knik. “Ja, Juffrou.” sê sy en loop by die hoof se kantoor uit.
Bessie se Maandag gaan stadig verby. Niemand praat met haar nie en dit is asof die onderwyssers ekstra kwaai is met haar, maar Bessie trap mooi in haar spoor. Sy praat met niemand nie, sorg dat al haar werk gedoen is en sy teken nie een enkele prentjie in haar klaswerkboeke nie. Gedurende die twee pouses probeer sy soveel moontlik van die vorige week se agterstallige Wiskunde opdrag voltooi. Sy vorder so vinnig met dit dat toe haar eerste dag se detensie aanbreek, sy binne ’n halfuur klaar is met die hele opdrag. Nou lê sy op haar arms en wag dat die laaste halfuur verby moet gaan. Sy wonder of sy nog steeds die res van die week ook elke dag na skool moet bly. Haar werk is mos nou op datum én sy het vir juffrou Visser omverskoning gevra. Tensy die straf ook tel vir wat sy aan Rentia gedoen het, maar juffrou Malherbe het niks eers oor die insident genoem nie. Dalk het Rentia nie daaroor gaan kla nie.
Toe die detensie-uur verby is, kan Bessie nie vinnig genoeg by die huis kom nie. Vandag loop en skop sy nie klippies nie. Sy stap met vinnige treë die entjie huis toe. Tenspyte dat sy so opgesien het na hierdie dag en al die moeilikheid, wat sy gedink het sy gaan kry, was dit eintlik nie so sleg nie. Sy hoop haar ma se eerste dag by die nuwe werk het net so goed verloop. As sy maar net hierdie werk langer as ’n maand kan hou, sal Bessie baie trots wees op haar. Bessie raak moedeloos as sy dink aan hoeveel keer haar ma al in die afgelope jaar afgedank is. En dit is altyd dieselfde ou rede. Drank. Raak haar ma dan nooit moeg van drink nie? Is sy nie skaam om dronk werk toe te gaan nie? Bessie wens sy kon haar ma help, maar al wat sy kan doen, is praat en preek en Bessie weet haar ma luister nie rêrig na wat sy te sê het nie.
’n Paar treë van die rooidakhuis gaan Bessie staan. Die groen Escort is nie in die oprit nie, maar dit het sy verwag, want haar ma is mos by haar nuwe werk. Wat haar wel pla, is die twee vreemde voertuie wat voor die huis geparkeer staan. Die een voertuig ken sy glad nie, die ander een is ’n polisiemotor. By die twee voertuie staan twee vrouens en ’n man. Die man en ’n vrou het polisie uniforms aan. Die ander vrou is juffrou Malherbe, die skoolhoof. Bessie voel ’n krieweling in haar binneste. Die twee vrouens sien haar en kom stadig nader geloop. Op hulle gesigte kan Bessie sien iets groot is fout. Sy wonder of dit met Rentia te doen het en die krieweling in haar lyf word erger.
Die twee vroue kyk na mekaar en knik. Die polisievrou gaan staan. Juffrou Malherbe kom alleen nader tot sy voor Bessie staan. Sy sit haar hand op Bessie se skouer. “Ek is jammer, Bessie.” begin sy. Bessie voel hoe die krieweling bedaar en haar hele lyf lam word. Haar ore suis sodat sy dink sy droom wanneer sy juffrou Malherbe se woorde hoor. “Jou ma was in ’n ongeluk. Sy het dit ongelukkig nie oorleef nie.”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.