Jongste aktiwiteit:

AL MAAK DIT JOU KNIEË HORREL

Die eerste opdrag vir skoolkinders na ‘n vakansie, is gewoonlik om ‘n opstel te skryf oor die vakansie se gebeure. Hemel behoed my, ek het dit verpes, maar as ek nou oor my Desembervakansie moes skryf en vertel wat alles tussen Kersfees en Nuwejaar gebeur het, sou my opstel beslis volpunte gekry het. Nie oor my goeie skryfwerk nie, maar oor die storie self. Dit sou die arme juffrou in snot en trane gehad het en sy sou dit aan die klas voorgelees het en vir almal vertel het dat wonderwerke nog bestaan. En dis waar, wonderwerke bestaan nog.

‘n Paar weke gelede, aan die begin van Desember, was ons familie in snot en trane. My oupa het ‘n ernstige beroerte gehad wat veroorsaak het dat hulle vir ‘n derde jaar in ‘n ry nie vir my ouers oor Kersnaweek kon gaan kuier nie. Die vorige twee jare het Ouma haar bene gebreek. Een jaar die een, verlede jaar die ander. Die oues was erg teleurgesteld en die kinders en kleinkinders in ‘n flatspin, want die tyd het aangebreek. Tyd vir Oupa en Ouma om te gaan. Uit hulle huis te trek, wat hulle dekades lank hul tuiste genoem het en op te pak om in een of ander aftreeoord te gaan sit. Dis nie asof hierdie besef met ‘n skok gekom het nie. Die idee was in die pyplyn en die verkoopsagent se bordjie hang al maande voor die oues se huis. Die drie slaapkamer huis is lankal te groot vir Oupa en Ouma. Hulle wou kleiner gaan, die huis verkoop en iets kleiner koop in ‘n veiligheidskompleks. Verkieslik naby ‘n hospitaal, vir ingeval iets gebeur. Maar die huis bly in die mark en Ouma bly op haar knieë. En toe kom die foonoproep met die tyding van Oupa se beroerte en alles verander handomkeer. Die positief bly en hoop en bid vir ‘n regte koper vir die huis sit om in hartseer, vrees en paniek. Die oues se drie kinders dreig hulle moet uit die huis uit. Dadelik, vergeet eers van verkoop, hulle kan by een van die kinders gaan bly. Selfs die trop kleinkinders word ingespan om die oues om te praat. ‘n Familie Whatsapp group word gestig en Ouma word gepeper met raad en pleitdooie oor wat die beste nou vir hulle sal wees.

Maar die oues skop vas. Oupa is swak en moeg na die beroerte, maar hy wil eerder by sy eie huis aansterk. Ouma bly op haar knieë. Sy sê die regte koper sal nog kom. God sal hom stuur. Bonop sien hulle nie kans om hulle vryheid en onafhanklikheid prys te gee vir die kinders se gemoedsrus nie. Hulle weet almal bedoel goed, maar hulle weier om te trek. Moedeloos val die kinders en kleinkinders ook op hulle knieë. Almal hoop en bid dat die oues van plan sal verander. Ouma bly bid vir ‘n koper.

Vier dae na Oupa se beroerte, kry hulle ‘n oproep. Mense wat naby hulle bly se seun gaan trou en hy stel belang in die oues se huis. Blye dag! Die seun en sy verloofde gaan kyk na die huis en opgewonde is hulle bank toe om te hoor waarvoor hulle kwalifiseer. Almal wag in spanning. Die familie bedaar bietjie met die Whatsapp group en ek begin al google vir beskikbare plekkies in veiligheidskomplekse. Ons hou asem op om te hoor wat die man van die bank gaan sê. En toe blaas almal weer hulle asems moedeloos uit. Die kinders sal nie die huis kan bekostig nie. Die familie is weer hartseer en moedeloos, Ouma is kalm. Dit was nie die regte koper nie. God sal hom nog stuur, sê sy.

Kersnaweek breek aan. Ouma slaan die Kersboom op en nooi almal vir ete. Almal doen moeite om daar te wees, want dalk is dit die laaste Kersfees in hulle huis. Die ete is heel aangenaam. Niemand praat oor die beroerte of oor die man van die bank se besluit nie. Ons lag en gesels soos in die ou dae, voor oud word, siektes en teleurstellings. Die kersboom flikker bont sterretjies in almal se oë en geskenkies word uitgedeel. Almal ignoreer die ding wat die familie op hol het.

Kersnaweek maak klaar, die boom se liggies word afgesit en almal keer terug na hul huise. Die oues bly weer alleen agter. Op die derde laaste dag van die jaar, pak Ouma die kersboom weg. Toe die boom en sy versierings weer op hulle plek in die gangkas is, kry die oues hulle laaste Kersgeskenk. Dit sou nie saak maak of Ouma die boom langer laat bly staan het nie, want die present was so groot dat dit onder geen boom in die wêreld sou inpas nie. Die man van die bank bel die oues. Hy weet nou van die huis wat te koop is. Hy het dalk ‘n moontlike koper. Hy maak ‘n afspraak om die oues te gaan sien by hulle huis. Ouma sê niks vir niemand. Te bang sy gee die familie weer fals hoop. Die man van die bank kom by die oues se huis aan. Vra nogal omverskoning dat dit so oor die groot dae moet gebeur, maar die saak is eintlik nogal dringend. Sy suster gaan skei en dié moet dadelik ander blyplek kry. Sy ouers woon tans in ‘n aftree kompleks. Een van daai met veiligheid én mediese versorging, maar hulle is nie gelukkig daar nie. Wil eerder by die kinders wees. Die man van die bank het met sy suster gepraat. Dalk kan sy my ouma-hulle sê huis koop. Dalk kan hulle ouers hulle plek in die aftree kompleks verkoop en by die suster kom bly, want sy wil nou self na hulle kyk. Net dalk…
Die oues het hulle huis verkoop aan die man van die bank se suster. Ouma-hulle het ook nie nodig gehad om te lank te soek vir ander blyplek nie. Die man van die bank se ouers het hulle blyplekkie in die kompleks in die mark gesit en gaan nou by hulle dogter in Ouma-hulle sê huis intrek. Die oues gaan nou die man van die bank se oues se huisie koop. Alles werk mooi uit. Ouma se knieë is horrel van al die bid, die Whatsapp group is nou eers weer stil en almal haal weer asem. Ons familie stap die Nuwejaar binne met nuwe moed. Wonderwerke gebeur nog. Gebede word verhoor en God sorg vir Sy kinders. Hy gee vir ons beter geskenke as wat Kersvader ooit sal kan gee. Jy moet Hom net vra, al maak dit jou knieë horrel.




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed