
Hoop op Oukersaand
Zoey klou aan haar swart-en-bruin speelding; haar trane val geluidloos op die sagte koppie. Selfs met haar naglamp wat wys dat daar niemand anders in die kamer is nie, klop haar hart vreesbevange.
Net Emmy kon die monsters weg hou. Net Emmy kon haar wêreld rustig maak.
Sy vee haar trane af op Fudge, die sagte speelding wat ‘n swak eggo is van die vriend wat sy verloor het.
Toe Emmy sy enkel geswik het ‘n maand terug, het sy gedink dat hulle weer sal saam swem teen Kersdag. Maar hy is ‘n week terug uitgesit. Die seer voet was van iets veel erger as net van die bank af tuimel. Beenkanker. Dit het begin in sy enkel.
Zoey stik aan haar trane. Sy het elke Kersfees met Emmy spandeer. Hulle begin altyd die oggend met foto’s saam voordat hulle hul geskenke oopmaak. Emmy kry altyd biltong.
Trane vloei saggies oor haar wange terwyl sy staar na ‘n foto van haar en Emmy op haar vorige verjaarsdag. Die kers is in ‘n groot nommer agt. Dit staan so skeef op die koek soos die partytjiehoed op haar Rottweiler se kop. Hulle lyk vreeslik gelukkig saam.
Haar hart pyn.
Sagte tjank geluide trek haar aandag weg van die foto. Sy snuif haar neus en sit regop. Nog sagte klanke kom van buite haar kamerdeur. Zoey klim uit haar bed uit. Fudge kyk na haar asof hy sy kop wil skud. Sy ignoreer die speelding en maak die kamerdeur oop.
Die tjank geluide word harder. Zoey volg dit na die TV kamer. Kersfeesliggies versier die kersboom. Die liggies skyn so helder dat sy alles in die vertrek kan sien.
Veral die krat met ‘n groot rooi strik daarop. Dit was die tipe krat waarin mense katte na die veearts vat. Of ‘n klein hondjie.
‘n Uitgerekte tjank – asof die diertjie seerkry – maak dat sy op haar knieë val langs die krat en die draad-deurtjie oopmaak.
‘n Baba Rottweilertjie skiet uit.
‘Sy’s agt weke oud. Jou tannie Daphne het haar vroeër gebring,’ sê haar ma van êrens agter haar.
Zoey hou die hondjie dop en die hondjie hou haar dop.
‘Wat gaan jy haar noem?’
Die hondjie loop stadig nader aan Zoey. Sy hou haar hand uit en die Rottie lek dit. Dadelik voel Zoey hoe warmte deur haar vloei. Dit jaag die koue pyn weg wat sy begin voel het die oomblik toe Emmy weggegaan het.
‘Hope,’ antwoord Zoey.
Die baba hondjie lek haar hand, duidelik tevrede met haar naam.
8 Kommentare
-
-
neels
Baie mooi bydrae Ronel
-
Palet
Hou hiervan
-
Viooltjie
So, 'n mooi sagte storie. Dit laat mens sommer goed voel so tussen die trane deur :-)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek