Sing vir oulaas weer Elvis
gee my jou hande
vir die heel laaste keer
kyk, ons albei het letsels
ons albei het seer
wys vir oulaas jou wonde
en ek wys jou myn’
beide geskonde
gevlek en onrein
die lig in jou oë
dit bly my ontwyk
eens was daar sterre
en lag in jou kyk
hoe sag kon jou blik wees
hoe kil is dit nou
gister se warm
tot yskoud verflou
*
en onthou jy September
die son deur my ruit
die kwikstert en mossies
wat fladder en fluit
*
bly net ‘n oomblik
vertoef net ‘n uur
rus in my stilte
voel weer die vuur
eens tog genote
dit was ek en jy
kom môre, my liefling
is dit vir altyd verby
laat die klank van jou stem
my weer streel soos musiek
en die sang oor jou lippe
weer die liefde liriek
en sing net vir oulaas
weer ‘n Elvis verdriet
(are you lonesome tonight)
dis die heel seerste lied
*
maar onthou jy September
en my blomparadys
die duif en die muisvoëls
in die boom langs my huis
*
en netnou, ja netnou
is ons vir altyd verby
so, vertoef net ‘n oomblik
vir oulaas by my
‘k wil sê dat ek liefhet
dis swaar om te praat
soveel nooit gesê nie
en nou’s dit te laat
maar net voor jy omdraai
net voordat jy gaan
hou my net vas, lief
en sê jy verstaan
gee vir oulaas jou hand
en ek gee jou myn’
kyk, ons beide het letsels
geskond’ . . . en onrein
C. Shaw
30 Augustus 2015
7 Kommentare
-
Ronel Janse van Vuuren
Pragtig. 'n Plesier om te lees.
-
neels
woorde ontbreek Carma op haar beste
-
Amaspoke
Uitstekend.
-
Kiekies
Oeee jinnekie tog, hierdie uitstekende gedig, praat met my hart en my siel. Dis moeilik om die indruk wat dit op my maak in woorde uit te druk. So goed gedoen!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek