Jongste aktiwiteit:

Bessie: 2

Twee ure later sit Bessie in die passasiersitplek van juffrou Malherbe se motor. Daar het ‘n tannie, ‘n maatskaplikewerker, by hulle woonstel aangekom na juffrou Malherbe vir Bessie van die ongeluk vertel het. Die maatskaplikewerker-tannie het gesê sy moet vir eers by iemand bly tot alles uitgesorteer is. Bessie het net haar ma gehad, nou is haar ma weg en sy het niemand. Sy weet êrens daar buite in die wêreld het sy ’n pa, maar sy het hom nog nooit ontmoet nie. Juffrou Malherbe het aangebied dat Bessie eers by haar kan bly tot hulle hom opgespoor het. Die maatskaplike tannie en juffrou Malherbe het Bessie gehelp om ’n paar van haar goedjies in te pak. Die tannie het deur hulle woonstel geloop en net haar kop geskud. “Hoe het julle hier oorleef?” het sy met haar neus in die lug gevra, maar Bessie het haar nie geantwoord nie.
“Waar het jy so mooi leer teken, Bessie?” onderbreek juffrou Malherbe die stilte in die kar. Bessie trek haar skouers op, sê niks. Sy neem aan juffrou Malherbe praat van die prente wat sy in die woonstel by die rooidakhuis gesien het. Sy het gesien hoe juffrou Malherbe deur die huis loop en by al die prente stilstaan om hulle te bekyk. Almal prente wat sy, Bessie self, geteken het en met wondergom opgeplak het. Bessie staar by die motorruit uit na die huise en bosse wat verby swiep soos hulle ry. Sy voel hoe juffrou Malherbe kort-kort na haar kyk. Dit maak haar ongemaklik.

Minute later ry hulle by die skoolhekke in. Juffrou Malherbe en haar man woon in ’n huis op die skoolterrein. Die huis is spesiaal daar gebou vir die skool se hoof. Bessie was nog nooit in die skoolhoof se huis nie. Die huis is omhein met hoë palmbome en struike. Dit is pragtig van buite. Dit is ’n groot siersteen huis met ’n bruin dak. Voor die die groot vensters om die huis, hang daar hortjies, van dieselfde soort as voor die skool se vensters. Juffrou Malherbe help haar om haar tasse uit die motor te haal en beduie vir Bessie om haar te volg. Hulle loop deur die mooi tuin tot by ’n stoep. Op die stoep is twee wit gemakstoele van hout met kleurvolle kussings, ’n mandjie vol tydskrifte en ’n wit koffietafel wat by die stoele pas.
In die een hoek hang ’n stoepswaai soos een van daai wat mens altyd in die stories op TV sien. ’n Groot swaar houtdeur seël die ingang van die huis. Voor die deur lê ’n welkom matjie. Alles is so perfek, dink Bessie. Prentjie-perfek.

Juffrou Malherbe sluit die houtdeur oop en loop vooruit. Bessie volg haar. Sy steek vas in haar spore. Die binnekant van die huis is selfs nog mooier as die buitekant. Juffrou Malherbe gaan ook staan en kyk na Bessie. Sy glimlag. “Kom ek gaan wys vir jou waar jou kamer is.” sê sy en Bessie se voete kry weer stadig lewe, maar haar oë hou nie op kyk nie. Sy sien ’n sitkamer met sagte bruin leerbanke, ’n groot platskerm televisie en klein kaggeltjie. Sy sien ’n kombuis met baie kaste en ’n groot stoof en dubbeldeur yskas, alles silverskoon en op hulle plek. Oral teen die mure hang skilderye in mooi rame. Dit lyk glad nie soos haar patetiese pogings op lyntjies papier wat met wondergom aan die woonstel se mure klou nie. Die huis het drie slaapkamers. Een is juffrou Malherbe en haar man se kamer en die ander twee is gastekamers. Hulle het nie kinders nie. Bessie wonder hoekom iemand wat met kinders werk self nie kinders het nie.
Juffrou Malherbe lei haar na een van die twee gastekamers. Die kleure is ligbruin en blou. Nie potblou nie, blou soos die see, amper groenblou. Daar is ’n dubbelbed met baie kussings. Die gordyne voor die venster is lank en swaar. Dit maak die kamer donker. Juffrou Malherbe trek die gordyne effens oop en die laatmiddagson bars dadelik die kamer binne. Buite in die tuin voor die kamervenster, sien Bessie ’n visdammetjie en fonteintjie. Mens kan die water in die dammetjie hoor val. Bessie hou dadelik van die kamer. Dit laat haar kalm voel. “Die kaste is almal leeg.” sê juffrou Malherbe en beduie na die groot kaste teen die een muur. “Jy kan jou goedjies daarin bêre. Ek gaan solank begin met aandete. Jy kan kombuis toe kom sodra jy klaar is.” Bessie pers haar lippe saam en knik net. Die vlekkies in juffrou Malherbe se oë dans weer. “Maak jouself tuis, Bessie.” sê sy, draai om en loop by die deur uit. Bessie bly alleen in die kamer agter. Sy kyk en kyk. Dan gaan sit sy op die punt van die groot bed. Sy hoor juffrou Malherbe besig raak met potte en panne in die kombuis. Gister dié tyd het sy op haar eie bed gesit, dink Bessie. Gister dié tyd het haar ma nog geleef.
Later die aand, na aandete, loop Bessie by die voordeur uit tot op die stoep. Juffrou Malherbe maak baie lekker kos. Hulle het hoenderpastei gehad met ’n mengelslaai. Juffrou Malherbe se man, oom Wouter, het ook saam met hulle geëet. Hy het van die werk afgekom net toe Bessie haar tasse klaar uitgepak het. Oom Wouter is ’n sterk geboude man en lank. As hy en sy vrou langs mekaar staan, pas haar kop hom net mooi onder die skouer. Oom Wouter is ’n vriendelike man en soos sy vrou, het hy pragtige blou oë. Oom Wouter is ’n makelaar op die dorp. Hy werk met ander mense se geldsake. Hy klink vir Bessie na ’n baie slim man. Juffrou Malherbe en oom Wouter pas perfek bymekaar, dink Bessie. Hulle is ewe slim en vriendelik.

Bessie loop tot by die stoepswaai in die hoek. Sy kan haar verbeel dat die swaai haar uitnooi om te sit. Sy gaan sit versigtig. Die swaai wieg stadig voorentoe en agtertoe. Bessie skuif haarself gemaklik sodat sy met haar rug teen die leuning sit. Dis skemer. Die son se laaste strale speel deur die tuin en ’n paar mossies baljaar vir oulaas op die grasperk. Dit voel vir Bessie soos ’n droom, so salig. Sy wens haar ma kon nou saam met haar hier op die bankie sit. Meskien sou so iets haar ma gesond kon maak. Bessie wonder waar haar ma nou is. Waarheen gaan ’n mens as jy doodgaan?

Bessie hoor ’n telefoon êrens in die huis lui. Iemand antwoord dit. Agter haar in die sitkamer, word die televisie aangeskakel. Sy kan nie uitmaak watter program wys nie, want die klank is baie sag gedraai. Dan hoor sy juffrou Malherbe se stem nader kom. Die televisie se klank word heeltemal afgesit en Bessie kan die gesprek binne die huis duidelik hoor. “Wie het gebel?” vra oom Wouter. “Die maatskaplike werker. Hulle het Bessie se pa opgespoor.” Juffrou Malherbe se woorde gee Bessie hoendervleis.
“En?” vra oom Wouter.
“Hy wil van niks weet nie.” antwoord juffrou Malherbe.

Bessie wonder of sy moet opstaan en wegbeweeg van die stoep af. Sy is nie seker of sy veronderstel is om hierdie gesprek te hoor nie. “Wat gaan nou van die kind word?” hoor sy weer oom Wouter se stem. “Haar pa kom later die week af vir haar ma se begrafnis. Die maatskaplike werker sal dan weer met hom probeer praat, maar vir eers bly sy by ons tot daar ander reëlings getref word. Ek hoop dis reg met jou?” Daar is ’n oomblik van stilte. Bessie sluk hard. Sy dink nie oom Wouter hou van die idee dat ’n vreemde kind by hulle woon nie. Trouens, sy dink nie eens juffrou Malherbe hou daarvan nie, hulle het maar net ingestem omdat hulle haar jammer kry. Dit kan vir niemand lekker wees as iemand anders se kind ewe skielik op jou drumpel afgelaai word en jy moet maar net probeer uitreken wat om verder te doen nie. Bessie voel skuldig. Dit is nie regverdig teenoor juffrou Malherbe en haar man nie. Meskien moet sy wegloop. Sy kan vir haarself sorg. Die man wat hulle sê haar pa is, hoef ook nie verder te worry nie, sy leef al veertien jaar sonder hom, sy sal dit nou ook kan regkry.

Oom Wouter se volgende woorde laat skiet haar wegloop planne in duisend stukkies: “Nee, ek het absoluut geen probleem daarmee nie. Bessie kan bly vir solank as wat dit nodig is of vir solank sy wil.”
’n Stoel skuif en Bessie kan oom Wouter hoor opstaan. “Waarmee ek wel ’n probleem het,” gaan hy voort; “is ’n ma wat haar in ‘n graf ingedrink het en ’n pa wat vir veertien jaar sy kind se bestaan ontken!”
“Wouter, dit is darem bietjie kras.” sê juffrou Malherbe.
“Maar dit is die waarheid, Marlien! Jy weet dit self. Hulle is die naam ouers nie werd nie en Bessie, géén kind, verdien om so groot te word nie!” Bessie kan hoor dat oom Wouter erg omgekrap is. Hy praat al hoe harder. “Hy stuur darem elke maand vir hulle geld, Wouter. Ek is seker hy probeer sy bes onder omstandighede…”
“Twak!” onderbreek oom Wouter sy vrou. “Onderhoudsgeld maak nie van jou ’n pa nie, net so min soos die woord ma van iemand ’n moeder maak. Hulle het haar nie verdien nie. Sulke mense moet nie kinders hê nie!”
“Wouter! Dis nou genoeg.” probeer juffrou Malherbe haar man kalmeer.

Bessie sit so aandagtig die gesprek in die huis en luister dat sy nie die duif sien nader kom nie. Dit fladder die stoep op en beland met ’n harde plof teen die sitkamer venster. Bessie skrik haar boeglam. Dit word stil binne die sitkamer en dan hoor sy voetstappe na die deur toe beweeg. Die swaar houtdeur gaan oop en juffrou Malherbe kom uitgestap op die stoep. Bessie sien hoe die juffrou skrik toe sy haar op die stoepswaai sien sit.
“Bessie, hoe lank sit jy al hier?” vra sy. Bessie pers haar lippe op mekaar en laat sak haar kop.

Juffrou Malherbe draai om en loop weer die huis in. Bessie hoor haar met oom Wouter praat, maar so sag dat Bessie nie kan uitmaak wat gesê word nie. Dan kom juffrou Malherbe weer uit en trek die houtdeur agter haar toe. “Mag ek?” vra sy en beduie na die oop sitplek langs Bessie. Bessie knik en juffrou Malherbe kom sit langs haar op die stoepswaai. Vir ’n paar sekondes sê nie een van hulle ’n woord nie. Hulle wieg net rustig heen en weer. Bessie kan sien juffrou Malherbe weet nie wat om te sê nie, meskien voel sy sleg omdat Bessie hulle gesprek gehoor het.
“Juffrou hoef nie oor my te worry nie, ek sal op my eie gaan bly. Ek kan vir myself sorg.” sê Bessie. Juffrou Malherbe kyk na Bessie en frons. “Ek wil vir niemand ’n las wees nie, juffrou.” voeg Bessie by.

“My liewe kind, waar kom jy daaraan?” juffrou Malherbe se stem is sag, dit klink amper asof sy wil begin huil. Bessie draai haar gesig weg van die juffrou af. Sy kyk na waar die duif teen die ruit vasgevlieg het. Daar is ’n vetkol op die glas en op die vensterbank lê vaalgrys donsies. “Ek neem aan jy het gehoor waaroor ek en oom Wouter gepraat het?” vra juffrou Malherbe. Bessie kyk weer na haar. “Ja, maar ek sê nie so omdat ek julle gehoor praat het nie, juffrou. Ek wil rêrig vir niemand ’n las wees nie en ek weet hoe om vir myself te sorg. Ek is al veertien jaar oud. Selfs toe my ma nog gelewe het, moes ek anyway…” Bessie bly stil. “Vir jouself sorg?” voltooi juffrou Malherbe haar sin. Bessie knik.

Juffrou Malherbe vat Bessie se hand. “Dat jy mooi na jouself kan kyk, twyfel ek nie vir een oomblik nie, Bessie, maar geen kind is veronderstel om sonder ’n stabiele huishouding groot te word nie. Elke kind behoort lief gehê en versorg te word deur ’n ouer of voog.” Juffrou Malherbe se hand is warm om hare.
“Maar ek het niemand meer nie, juffrou. My ma is al familie wat ek gehad het en nou is sy dood. So ek moet eenvoudig net vir myself kán sorg.”
“Nee Bessie, jou ma is nie al familie wat jy gehad het nie, sy is die enigste familie wat jy gekén het. En ja, sy is dalk nie meer met ons nie, maar jy het nog ’n pa.” Bessie trek haar hand uit juffrou Malherbe se warm hand uit.
“Ek dink nie hy wil my pa wees nie, juffrou. En anyway, ek het hom nog nooit eens ontmoet nie, so ek dink nie hy tel as ’n ouer nie.” Juffrou Malherbe sug.
“Ek verstaan wat jy bedoel, Bessie, maar hy bly jy jou wettige ouer en hy het sekere verpligtinge teenoor jou.”
“Maar juffrou, as iemand nie ’n kind wil hê nie, kan niemand daai persoon mos dwing om die sekere verpligtinge na te kom nie.” sê Bessie.
“Seker nie jong, maar, Bessie? Sou jy nie graag jou pa ten minste wil ontmoet nie?” Bessie trek haar skouers op. “Ek weet nie, juffrou. Ek sal nie weet wat om te doen of te sê nie. En hoe daag ek net by hom op en sê ‘hallo pa, ek is die kind wat jy nie geweet het jy het nie.?’”

Bessie staan op en loop ’n entjie weg van die stoepswaai af.
“Hy het van jou geweet, Bessie.” sê juffrou Malherbe agter haar. Bessie staan stil en kyk oor haar skouer na juffrou Malherbe. “My ma het dan gesê hy weet nie van my nie.” Juffrou Malherbe staan op en kom staan langs Bessie. “Bessie, ek weet nie presies wat jou ma jou oor jou pa vertel het nie, maar ek vermoed daar is baie dinge waarvan jy nie geweet het nie. Een van daai dinge is dat jou pa wel geweet het van jou bestaan. Hy betaal jou skoolfonds en ek weet ook dat hy nog al die jare onderhoudsgeld aan jou ma betaal het.” Bessie se kop voel deurmekaar. Sy hoor wat die juffrou sê, maar dit maak nie vir haar sin nie. “Nou vir wat betaal hy geld vir ’n vrou en kind wat hy nooit eens sien nie? En hoekom sal my ma vir my gejok het?” Bessie voel hoe dit binne haar begin warm word.

Juffrou Malherbe sit haar arm om Bessie se skouer. “Ek weet daar is baie dinge wat nie nou vir jou sin maak nie, my kind, en ek het self nie al die antwoorde op jou vrae nie. Tot tyd en wyl gaan jy by ons bly en jy is nié vir ons ’n las nie, hoor jy my?” Bessie pers haar lippe op mekaar en kyk stip voor haar uit. Sy voel hoe trane in haar oë begin brand. “Die maatskaplike werker kom môre skool toe om weer met jou te praat.” gaan juffrou Malherbe voort. “Sy behoort ’n paar van jou vrae te kan beantwoord, maar die eintlike persoon met wie jy moet gesels, is jou pa.” ‘n Traan glip uit haar oog en rol oor haar wang. “Wel, dis bietjie moeilik om met iemand te gesels wat niks met jou te doen wil hê nie.” snik Bessie. “Ai Bessie.” troos die juffrou. “Ek wens ek kon iets doen om dinge vir jou beter te maak.” Bessie ruk los onder juffrou Malherbe se arm uit. “Daar is niks wat Juffrou kan doen nie! Daar is niks wat niemand kan doen nie. Al wat ek nou wil hê, is my ma en niemand kan haar terugbring nie!”
Bessie hardloop by die huis in en reguit na die kamer toe waar haar klere in die vreemde kaste gepak is. Sy gooi die deur toe en val op die bed neer. Die trane hardloop nou onkeerbaar uit haar oë en sink in die kussing in. Sy huil en huil tot haar kop later seer word. Miskien as sy haar oë toemaak en slaap sal sy droom en miskien kan sy droom van haar ma. Bessie gooi die natgehuilde kussing eenkant toe, klim met haar klere en al onder die kombers in en maak haar oë styf toe.




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed