
Bessie: 3
Dinsdagoggend. Gisteroggend dié tyd her haar ma nog geleef, dink Bessie. Dit is die periode net voor eerste pouse, Sy het nou Engels. Die juffrou praat aan en aan, maar Bessie hoor nie ‘n enkele woord nie. Sy dink aan gister en al sy gebeure, haar ma en die gesprek gisteraand met juffrou Malherbe. Toe sy vanoggend wakker word, was die huis stil. Oom Wouter was reeds weg werk toe en juffrou Malherbe was al by die skool. Toe sy opstaan en haar kamerdeur oopmaak was daar ’n nota aan die buitekant opgeplak; Goeiemôre Bessie. Hoop jy’t lekker geslaap. Jou ontbyt is in die microgolfoond, maak dit net warm. Jou pouse kos is op die tafel in die kombuis. Sien jou later. Xxx Juffrou Malherbe.
Die ontbyt was spek en eiers. Die kos wat vir pouse ingepak is, was macaroni en kaas. Ontbyt was nog nooit rêrig ’n prioriteit in die woonstel langs die rooidakhuis nie. Daar was Bessie maar tevrede soggens met die oorskiet van wat ook al die vorige aand geëet is. Pouse kos is ook vir haar ’n onbekende ding. Bessie kan nie onthou dat haar ma al ooit vir haar ’n kosblik vir pouse gepak het nie. Soms, as Bessie op kleingeld van haar ma afgekom het, het sy dit gegaps en die volgende dag by die skool se snoepie gebruik. Sy weet mens moet nie eintlik iemand anders se goed vat sonder om te vra nie, maar dis nie asof haar ma dit ooit agtergekom het nie. Nou dink Bessie aan ’n ander ding; as dit wat juffrou Malherbe oor die onderhoudgeld gesê het, waar is, dan het sy tegnies nie haar ma se geld gevat nie, maar hùlle geld, geld wat haar pa vir hùlle gestuur het. Haar pa. Sy wonder hoe hy lyk. Sy wonder of sy na hom lyk, want sy lyk nie soos haar ma nie. Haar ma het rooi hare gehad en groen oë. Sy wat Bessie is, het blonde krulhare en bruin oë.
Toe die klok lui en almal hul boeke wegpak om te gaan pouse hou, kom staan die skoolhoof in die klas se deur. Bessie sien haar dadelik. Juffrou Malherbe beduie vir Bessie dat sy na haar kantoor toe moet kom. Bessie knik. Sy pak haar boeke ekstra stadig weg. Waaroor sal sy nou weer kantoor toe moet gaan? Is dit omdat sy gisteraand so onbeskof kamer toe gestorm het? Bessie tel haar rugsak op haar rug en stap na die skoolhoof se kantoor toe.
Om haar loop die kinders in verskillende rigtings en vorm groepies wat saamdrom op die grasperk of bal skop op die rugbyveld. Sal sy ooit ook deel kan wees van so ’n groep, wonder Bessie. Sal sy ooit êrens behoort?
Bessie loop by die sekretaresse se kantoor in. Sy sit agter die lessenaar, besig met ’n telefoonoproep. Juffrou Malherbe staan en gesels met ’n vrou. Die maatskaplike tannie. Bessie onthou haar van gister. “Ah, hier’s sy nou.” sê juffrou Malherbe. “Bessie, jy onthou nog vir mevrou Van Eyk?” Bessie knik. “Hallo Bessie.” groet die tannie. “Hallo.” groet Bessie terug. “Sal ons deurgaan na my kantoor?” vra juffrou Malherbe en beduie dat hulle haar moet volg. Bessie loop voor en die maatskaplike tannie agter haar. Toe hulle binne die hoof se kantoor is, druk juffrou Malherbe die deur agter hulle toe. “Sit gerus.” sê juffrou Malherbe. Bessie haal haar rugsak af en gaan sit. Dit is nogal dieselfde stoel waarin sy gister ook gesit het. Mevrou Van Eyk gaan sit op die ander oop stoel en juffrou Malherbe neem haar plek in in haar stoel oorkant Bessie en die maatskaplike werker.
“Kan ek vir julle tee of koffie aanbied?” vra juffrou Malherbe. Bessie frons. Sy het nog nooit gehoor van ’n skoolkind wat in die skoolhoof se kantoor sit en tee drink nie. “Tee sal lekker wees, dankie.” sê die maatskaplike tannie langs haar. Juffrou Malherbe knik en kyk na Bessie. “Niks vir my nie, dankie Juffrou.” sê Bessie. Die skoolhoof tel die foon op en vra vir die sekretaresse vir twee koppies tee. Bessie wonder waar dié tee gemaak word, want binne sekondes kom die sekretaresse die kantoor binne met ’n skinkbord en twee koppies tee. Toe sy weer by die kantoor uit is en die deur agter haar toemaak, begin juffrou Malherbe praat.“Bessie, mevrou Van Eyk is hier om ’n paar goedjies met jou te bespreek. Wil jy hê ek moet by wees of sal jy gemakliker voel as julle alleen praat?” Bessie dink bietjie oor die vraag. Sy voel effens ongemaklik met die vreemde tannie. “Juffrou kan maar bly.” sê Bessie. Juffrou Malherbe knik en sit terug in haar stoel. “Nou maar goed dan.” begin mevrou van Eyk. “Eerstens Bessie, hoe ondervind jy die blyery by mevrou Malherbe en haar man? Is jy gelukkig by hulle?” Bessie wonder hoekom die tannie dit vra. Lyk sy ongelukkig? “Hulle is goed vir my, Tannie. Daar is nie probleme nie.” antwoord Bessie. Dis die waarheid. Juffrou Malherbe en haar man is rêgtig goed vir haar en al het sy gister eers by hulle aangekom, was daar nog geen probleme nie.
Behalwe gisteraand. Toe sy so onsteld geword het toe sy en juffrou Malherbe oor haar pa gepraat het.
“Dis goed om te verneem,” sê die maatskaplike tannie. “want jy gaan heel moontlik nog vir ’n paar dae by hulle moet tuisgaan tot ons alternatiewe reëlings getref het.” Bessie hou nie van al die hoë woorde wat die vrou gebruik nie. Sy verstaan alles wat sy sê, maar die tannie het nie nodig om so koud en saaklik te laat klink nie. Bessie kyk na mevrou Van Eyk. Sy wonder of die vrou kinders van haar eie het. Haar gitswart hare is in ’n stywwe bolla op haar kop gestapel en sy dra ’n vaalgrys broekpak. Sy lyk kwaai. Sy lyk nie soos ’n ma nie. Maar dan nou weer, juffrou Malherbe lyk soos ’n ma en sy is baie goed met kinders en sy het nie kinders nie. Bessie sal nogal graag wil weet hoekom die Malherbes nie kinders het nie. Meskien kan hulle nie kinders kry nie.
“Bessie?” onderbreek mevrou van Eyk haar gedagtes. “Sal dit vir jou ’n probleem wees om vir nog ’n paar dae by mevrou Malherbe en haar man tuis te gaan?”
Bessie skud haar kop. “Glad nie, Tannie. Dis baie lekker by juffrou Malherbe.” antwoord Bessie. Die maatskaplike tannie maak haar keel skoon.
“Mévrou Malherbe, nie jùffrou Malherbe nie. Sy is getroud.” sê die tannie streng.
“Ag, al die kinders by die skool noem my juffrou Malherbe, mevrou van Eyk. Ek is per slot van sake ’n jùffrou van beroep.” sê juffrou Malherbe en knipoog vir Bessie. Die maatskaplike tannie dink nie dit was snaaks nie. Sy gaan op haar bot manier voort; “Bessie, ons het jou vader opgespoor. Hy is wel baie teensinnig om kontak te maak met jou, maar hy het ingestem om jou moeder se begrafnis by te woon. Hy tref die reëlings vir die begrafnis. Ons behoort vandag nog te hoor wanneer die roudiens gehou gaan word en dan sal ek jou in kennis stel. Daarna sal ek, jy en jou vader bymekaarkom en verder gesels.” Die vrou praat te vinnig, dink Bessie.
“Die items in die woonstel waar jy en jou moeder gewoon het, gaan intussen opgepak en verwyder moet word.” gaan sy voort. “As daar iets is wat jy nog benodig, sal mevrou Malherbe jou neem om dit te gaan haal, maar dit sal voor Vrydag moet wees, want die verhuurders van die woonstel wil die plek teen die naweek begin skoonmaak en regkry vir nuwe huurders.”
Nuwe huurders. Items van die woonstel wat opgepak en verwyder moet word. Begrafnis. Haar ma se begrafnis. Weet die vrou wat sy sê? Bessie voel weer hoe die hardloop in haar bene begin kriewel. Sy wil nie verder hoor nie. Asof juffrou Malherbe haar gedagtes kan lees sê sy: “Mevrou Van Eyk. Dit alles gebeur so vinnig. Is dit werklik nodig om nou al alles uit die woonstel te verwyder?”
Die maatskaplike tannie antwoord ongeduldig. “Dit is nie my besluit nie, mevrou Malherbe. Die eienaars van die woonstel wil dit so hê. Jy moet tog verstaan, met niemand wat meer die woonstel bewoon nie, bring dit geen huur in vir die verhuurders nie.” Swak antwoord, dink Bessie, maar wie is sy om te stry? Sy wil tog elk geval niks meer in die huis hê nie, hulle kan dit maar alles oppak en wegvat.
Bessie hoor die skoolklok lui. Pouse is verby en almal gaan nou aangaan met die res van hulle skooldag soos normaal. Die maatskaplike tannie sê nog ’n paar goed waaraan Bessie nie rêrig aandag gee nie. Juffrou Malherbe is die enigste een wat luister. Sy vra ’n vraag of twee. Die twee vroue praat met mekaar en dan word Bessie verskoon. Sy vat haar rugsak en loop uit die hoof se kantoor. Die twee vroue hou aan met praat toe sy die deur agter haar toemaak. Bessie voel niks lus vir teruggaan klas toe nie. Haar gedagtes is te deurmekaar. Toe sy buite kom, is die kindes besig om te verdaag na hul klaskamers. Sy loop in die rigting van haar volgende klas. Biologie, as sy reg onthou. Iewers agter haar begin ’n paar meisies giggel. “En nou is ou Bessie mos ’n wesie.” hoor Bessie ’n stem sê. Rentia. Bessie maak of sy dit nie hoor nie en loop aan. “Hulle sê die tannie was poepdronk toe sy verongeluk het.” hoor Bessie ’n ander meisie sê. Sy pers haar lippe op mekaar en loop aan. “Ja, shame. Die tannie was nie lekker in haar kop nie.” sê nog een. Bessie gaan staan stil en draai om. Rentia en die drie meisies langs haar gaan ook staan. Bessie gluur vir Rentia aan. “Wat nou, hu?” tart Rentia haar. “Gaan jy nou ons al vier se rompies aftrek?” Rentia vou haar arms selfvoldaan voor haar bors en tuit haar lippe. “Vlieg in julle dinges in!” skree Bessie en draai om. Sy begin hardloop. Vinniger en vinniger. Agter haar giggel die vier meisies en sy hoor hulle nog lelike dinge sê, maar sy luister nie. Sy hardloop, verby die Biologie klas en weg van die skoolgebou af. Toe sy weer sien, staan sy op die grasperk voor juffrou Malherbe se huis.
Die houtdeur is toe. Niemand is by die huis nie, dit weet Bessie. Sy loop by die stoep op en reguit na die stoepswaai toe. Sy laat gly haar rugsak stadig van haar skouer af tot dit op die grond val en toe gaan sit sy op die swaai. Voorentoe en agtertoe wieg sy. Die hardloop in haar voete bedaar en sy vergeet van Rentia en haar vriendinne. Bessie sit gemaklik terug in die swaai en haal diep asem. Mevrou Van Eyk se gesig doem voor haar op. As sy ’n kind moes hê, sou dit seker iemand soos Rentia wees, dink Bessie. Hulle twee is darem baie dieselfde. Bessie wil nie meer aan hulle dink nie. Sy wil aan niks dink nie, sy wil net hier sit en swaai. Sy voel rustig hier. Sy voel veilig hier.
Verbeel sy haar of het sy iemand deur die sitkamervenster sien loer deur die gordyne? Dit kan nie wees nie. Oom Wouter is nog by die werk en juffrou Malherbe by die skool. Dit moet haar verbeelding wees. Toe hoor Bessie dit. Die geluid van ’n sleutel in die die houtdeur se slot en toe gaan die swaar houtdeur stadig oop. Bessie skrik. Iemand is by die huis en sy is nie veronderstel om hier te sit nie. ’n Bruin vrouegesig met ’n geel kopdoek loer by die deur uit. “En as djy hier sit? Wag djy vir die mevrou?” vra die bruin vrou. “Nee, ek sit sommer net.” antwoord Bessie.
“O okay.” sê die bruin vrou. “Mevrou hou nie daarvan as die skoolkinders hier by die huis rondhang nie. Djy moet teruggaan skool toe.” Bessie roer nie. Die vrou in die deur ook nie. “Ek bly nou soortvan hier.” sê Bessie uiteindelik.
Die bruin vrou se wenkbroue lig. “O so. Dan is djy die Bessie-kind waarvan Mevrou my vertel het.” Hierdie keer is dit Bessie se wenkbroue wat lig.
“Wat het sy jou vertel?” vra Bessie.
“Nee, net dat djy hier gat bly vir ’n rukkie en so. Maar hoeko is djy hier op die stoep? Het djy nie nou klas nie?” Bessie pers haar lippe op mekaar en laat sak haar kop. Die bruin vrou kom nader en gaan staan voor Bessie. “En nou, kind?” Bessie skud haar kop. “Ek het nie nou lus vir klas nie.” Sy lig haar kop stadig op en kyk in die bruin gesig. Die vrou frons al weer. Haar bruin oë kyk sag na Bessie. “Eintlik het ek nie nou lus vir tussen mense wees nie. Ek het gedink ek kan net ’n rukkie hier kom sit waar dit stil is, jy weet?” Die vrou knik, draai om en loop weer by die huis in. Bessie wonder of sy die vrou moet volg, bly sit of terug skool toe gaan. Sê nou sy het vir juffrou Malherbe gaan bel om te laat weet hier sit ’n skoolkind op haar stoep? Meskien moet sy maar terugstap. Sy kan in die badkamer gaan wag tot die periode verby is en dan net weer met die volgende periode by die res van haar klas inval.
Net toe Bessie wil opstaan, kom die bruin vrou met die geel kopdoek weer by die deur uit. In haar hand is ’n glas koeldrank wat sy na Bessie toe uithou. “Hierso. Drink op en dan gaan djy terug. Ek sal nie vir Mevrou sê djy was hier nie.” Bessie vat die glas by haar. “Dankie.” sê sy effens verward.
“Plesier.” sê die bruin vrou. “Los maar die glas op die tafeltjie as djy klaar is. Ek salit later kom kry. Het werk om klaar te maak.” Sy draai om en loop na die houtdeur toe. Net voor sy ingaan kyk sy oor haar skouer na Bessie. “Goed om djou te ontmoet, Bessie. My naam is Sylvie. Kom drink gou weer koeldrank.” En toe maak sy die houtdeur agter haar toe.
Vir die res van die dag bly Sylvie in Bessie se gedagtes. Sy kan nie wag vir die skool om uit te kom nie. Sy wonder of Sylvie nog by juffrou Malherbe se huis sal wees as sy vanmiddag daar kom. En dan onthou Bessie van die detensie. Haar straf was dat sy elke dag van die week ’n uur na skool moet bly tot die Wiskunde opdrag klaar is, maar die opdrag is mos nou klaar en sy wonder of sy nog steeds na skool moet bly. Toe die huistoegaan klok lui, loop Bessie by juffrou Visser se klas in. Sy sal vir veiligheid net seker maak oor die hele detensie-ding. Toe sy by die klas inloop, staan Rentia langs juffrou Visser se tafel. “En kyk wat dra die kat hier in.” sê Rentia en lig haar wenkbroue. “Waar is juffrou Visser?” vra Bessie en probeer kalm bly.
“Vir my om te weet en vir jou om uit te vind.” antwoord Rentia snipperig.
Bessie voel hoe dit binne haar begin warm word. “Rentia, asseblief. Ek het nie nou tyd vir jou sarkasme nie. Waar is juffrou Visser?”
Rentia kom stadig en tartend nader geloop. “Hoekom? Wil jy haar weer leuens vertel oor jou klaswerk?” Bessie kners hard op haar tande en bal haar vuiste langs haar sye. Rentia sien dit. “Ek dare jou.” sê sy.
“Rentia Retief, kry end!” Rentia skrik haar spierwit en tree terug van Bessie af. Juffrou Malherbe staan in die deur agter hulle. “Dit was nie ek nie juffrou, Bessie het eerste…” stammel Rentia, maar juffrou Malherbe maak haar stil; “Dit is genoeg. Wat doen julle twee hier in juffrou Visser se klas?”
Rentia is nie meer wit in haar gesig nie en sy stammel ook nie meer nie.
“Juffrou Visser het gesê ek moet na skool ’n handboek by haar kom haal, Juffrou.” sê sy in ’n soet stemmetjie. Juffrou Malherbe knik en kyk dan na Bessie vir ’n antwoord. “Ek uhm…ek wil maar net seker maak oor my detensie, Juffrou.” sê Bessie. Sy het nie nou lus om hierdie gesprek voor Rentia te hê nie.
“Rentia, juffrou Visser is in die personeelkamer. Jy kan haar daar gaan vra vir die handboek.” sê juffrou Malherbe.
“Goed, Juffrou.” sê Rentia en tel haar tas op. Sy gluur oor haar skouer na Bessie toe sy by die klaskamer uitloop.
“Wat wou jy weet oor jou detensie, Bessie?” vra juffrou Malherbe toe Rentia weg is. Dankie, tog, dink Bessie en sug amper van verligting. “Juffrou, my Wiskunde opdrag van verlede week is klaar. Moet ek dan nog steeds elke dag ’n uur na skool bly?” vra sy en sy moet haarself mooi inhou om nie voor juffrou Malherbe duim vas te hou nie. “Is die hele opdrag klaar, Bessie?” vra die skoolhoof.
“Ja, Juffrou. Ek het dit gister al alles klaargemaak.” antwoord Bessie.
“Mmm, ek sien.” sê juffrou Malherbe. “As jy dit dan alles in een dag voltooi het, hoekom kon jy dit dan nie net saam met die res van die klas verlede week al klaargemaak het nie?” Die vraag vang Bessie ontkant. Sy weet nie wat om te antwoord nie. “Ek is jammer, Bessie, maar ’n straf moet sy doel dien. Jy was ongehoorsaam en oneerlik en daarvoor is jy gestraf. Die Wiskunde opdrag moes in elk geval gedoen word, of jy dit nou in een dag of oor ’n week gedoen het. Die straf was ’n hele week se detensie en jy moet ongelukkig die res van die week ook ’n uur na skool bly.” sê juffrou Malherbe en Bessie se moed sak in haar skoene.
“En ek het net die regte ding waarmee jy jou kan besig hou gedurende die oorblywende detensie-periodes!” sê juffrou Malherbe amper opgewonde. Bessie frons. Wat kan dit tog wees, wonder sy. “Volg my.” antwoord juffrou Malherbe Bessie se gedagtes en Bessie loop saam met die juffrou by die klas uit.
Toe juffrou Malherbe die klas se deur oopmaak, trek Bessie se maag saam. Sy loop agter die juffrou aan die klaskamer binne. Die reuk trek in haar neus in soos die reuk van reën en natgrond. Bessie voel ’n krieweling deur haar lyf hardloop. Die kunsklas.
Sy ruik verf, papier, kwas en geleentheid. Bessie staan langs juffrou Malherbe in die ingang van die kunsklas. Bessie kan nie help om te wonder wat haar straf met die kunsklas te doen het nie. “Juffrou?” sê-vra sy. Bessie kyk op in juffrou Malherbe se oë. Die groen vlekkies dans in die blou oë. Op juffrou Malherbe se gesig is ’n glimlag. “Bessie, jy gaan van vandag af begin werk aan ’n item vir die kunseisteddfod.” Vir Bessie voel dit of die aardbol en sy alles val tot by haar voete.
“Wat is fout, Bessie?” vra juffrou Malherbe toe sy die teleurstelling op Bessie se gesig sien.
“Ek was nie van plan om deel te neem nie, Juffrou.” antwoord Bessie. “Jy het so gesê ja, maar ek verstaan nie hoekom nie.” sê juffrou Malherbe.
“Ek kan nie so goed teken soos die ander wat gaan deelneem nie, Juffrou en meeste van die kinders wat inskryf het kuns as ’n vak. Ek het nie eens kuns nie. My werk staan nie ’n kans nie.” Juffrou Malherbe draai na Bessie toe en vat haar aan die skouers. “Jy twyfel verniet in jouself, Bessie. Jy het talent en die bietjie wat ek al van jou kunswerk gesien het, was vir my baie pragtig. En jy hoef nie kuns as ’n vak hê om te deelneem nie. Toe, wat sê jy?” Bessie laat sak haar kop.
“Ek weet nie so mooi nie, Juffrou.” Juffrou Malherbe haal haar hande van Bessie se skouers af. “Nou maar goed. Dink bietjie daaroor. Die sluitingsdatum is einde Junie. Ons is nou in die middel van April. Jy het dus bietjie meer as twee maande om aan die projek te werk. Die tema is water. Ek sal môre al die inligting by juffrou Knoetse kry. Sy is die kunsonderwyser en sy is inbeheer van die kunseisteddfod se reëlings. Vandag en die res van die week se detensie-uur gaan jy hier in die kunsklas sit. Of jy nou aan iets vir die eisteddfod werk of ander huiswerk wil doen, is jou keuse.”
Bessie knik. “Goed, Juffrou.” Sy sal maar eerder ander huiswerk doen, dink Bessie. “As jy klaar is, kan jy solank na my huis toe gaan. Ek het nog ’n paar goed om te doen in die kantoor. Sien jou later, Bessie.” sê juffrou Malherbe en loop by die klas uit.
Twee ure later lê Bessie op die naat van haar rug op die gras agter juffrou Malherbe se huis. Sy luister na die water wat in die visdammetjie loop. Die laatmiddagson streel oor haar gesig. Juffrou Malherbe is winkel toe en oom Wouter sal seker enige oomblik van die werk afkom. Bessie dink weer aan Sylvie met die geel kopdoek. Sylvie was reeds huistoe toe Bessie van detensie afkom. Sy moet seker haar skoolklere gaan uittrek, dink Bessie. Sy staan traag op en drentel die huis in.
In haar kamer trek sy gemakliker klere aan. Bessie wonder wat sy die res van die middag gaan doen. Die huiswerk wat sy gehad het, is klaargemaak in die detensie-uur. Sy begin deur die huis dwaal en kom tot stilstand in die gang voor ’n groot skildery. Dit is ’n strandtoneel met die blougroen water van branders wat oor die wit seesand uitspoel. Bessie hou baie van die skildery. Sy wens sy kan ook so goed verf. Die kunseisteddfod, dink Bessie. Die tema is mos water en hierdie skildery het water in. Dalk moet sy ook ’n strand- of seetoneel probeer verf en instuur.
’n Bietjie opgewondenheid maak nes in Bessie se binneste en dan besluit sy weer teen die idee. Nee wat, dis net tyd mors.
Die eisteddfod is ’n jaarlikse gebeurtenis waaraan Bessie se skool deelneem. Die eisteddfod word by ’n skool in een van die buurdorpe gehou en daar is ’n paar afdelings. Voordrag, kuns, musiek en dans. Elke keer, ’n week voor die eisteddfod, hou die skool ’n kultuuraand in die skoolsaal. ’n Handjie vol van die kinders wat gaan dans, sing of voordra word gekies op hulle items te doen. Daar is tafels met eetgoedjies en mamma’s, pappa’s, ouma’s, oupa’s en enige een wat wil, word genooi om die kultuuraand by te woon. Almal wat aan die kunseisteddfod deelneem, se werke word dié aand uitgestal en wanneer die kultuuraand verby is, stuur hulle die skilderye weg saam met die kinders wat dans, sing en voordra. ’n Week later stuur die beoordeelaars vir die skool die uitslae en dan eers weet jy of jou skildery goed genoeg was. Daar is supergoud, goud, silwer, brons en blou.
Blou is nie die laagste toekenning nie, Bessie het dit verlede jaar besef. Sy het die kultuuraand bygewoon, nie vir die kinders wat dans, sing of voordra nie en ook nie vir die verniet eetgoedjies na die tyd nie, maar vir die kuns. Sy kom elke jaar om na al die skilderye te kyk. Daar is altyd baie goeie werke en meeste daarvan is geskilder deur die kunsklas leerlinge. Verlede jaar het ’n skildery met ’n leeukop haar aandag getrek. Dit was Bessie se gunsteling. ’n Vaalkop meisie in graad elf het dit geverf. Toe die uitslae ’n week na die eisteddfod by die skool aankom, was Bessie toevallig by. Die kunsjuffrou het almal se sertifikate uitgedeel en toe sy die vaalkop meisie se sertifikaat gee, het die kind in trane uitgebars.
Sy het ’n sertifikaat gekry, maar daar was nie ’n goue, silver, brons of blou plakker op nie. Sy het net erkenning gekry vir haar deelname. Bessie kon dit glad nie verstaan nie, want die leeukop was perfek en pragtig. Sy weet nie wat fout was met die kind se skildery nie en of die beoordeelaars net baie streng is nie, maar Bessie sal nooit die vaalkop kind se hartseer kan vergeet nie. Een ding is seker, sy is nie van plan om so baie werk in ’n ding te sit net sodat iemand gaan besluit dis nie goed genoeg nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Helena hierdie verhaal gaan seker nog n opvolg hê. Die storie is baie goed maar weereens n vriendelike wenk. Probeer om nie al die hoofstukke op een dag te plaas nie. Verhale neem baie tyd in beslag om op die rekenaar te lees en dit veroorsaak dat baie mense nie die moeite wil doen om drie hoofstukke agter mekaar te lees nie. Deur net een hoofstuk op n slag te plaas prikkel jy ook die leser se belangstelling in so n mate dat hy uitsien na die volgende hoofstuk.