Bessie: 4
Woensdagoggend. Dis vroeg, sommer nog donker en Bessie lê wakker. Sy hoor die bosduiwe koer, so dit kan meer te lank wees voor die son gaan opkom nie. Sy wonder wat het van die duif geword wat teen die venster vasgevlieg het en of hy seergekry het. Sy lê en dink sommer aan alles en nog wat. Gisteraand, na ete, het juffrou Malherbe na haar toe gekom en vir haar ’n swart boek gegee. Bessie soek na die bedlampie se skakelaar en sit die liggie aan. Sy sit regop. Die swart boek lê op haar bedkassie. Die Bybel. Haar ma het een gehad, maar hulle het nooit daaruit gelees nie. Bessie tel die boek op. Sy wonder hoekom juffrou Malherbe vir haar die boek gegee het. Sy maak dit oop. Voor in, in potlood het juffrou Malherbe iets geskryf: Vir Bessie. Met Liefde, juffrou Malherbe. Bessie maak weer die boek toe en sit dit terug op die bedkassie.
Die maatskaplike tannie het gistermiddag gebel oom te laat weet haar ma se begrafnis is Vrydag. Dit is oormôre. Haar pa gaan ook daar wees. Hy het ingestem om te kom sodat hulle kan reëlings tref oor haar, Bessie se toekoms. Toe juffrou Malherbe vir Bessie hiervan vertel het, het alles so hoog en professioneel geklink, amper soos ’n saketransaksie. Dit is seker maar wat sy vir hom is. Bessie wonder of hy met haar gaan praat, of hy haar wíl sien. Moet sy vir hom pa sê of oom? Sy ken hom nie, sy weet hoegenaamd niks van hom af nie, want vir die veertien jaar van haar lewe op aarde is al wat sy geken het, haar ma en dit wat haar ma haar vertel het van hom.
Haar ma was jonk, pas klaar met skool en hy het vir ’n naweek saam met vriende hier op die dorp gekuier. Sy het hom ontmoet in die restaurant waar sy as kelnerin gewerk het en is later die aand saam met hom en sy vriende daar weg. Die presiese besonderhede het haar ma haar nooit vertel nie, maar ’n paar weke ná sy besoek aan die dorpie en hulle aandjie uit, het haar ma uitgevind dat sy swanger is.
Volgens haar ma, het sy die jong man laat weet wat haar situasie is, maar hy het gestry dat hy nie die pa kan wees nie en hy wou niks met haar of Bessie te doen hê nie. Bessie se ma het dikwels gekla hoe erg dit is dat sy as enkelouer haar bes probeer om vir Bessie te moet sorg. Nou moet sy hoor dat haar pa nog al die jare wel deel was van haar en haar ma se lewe. Hy het haar skoolfonds betaal en vir haar ma maandeliks geld gestuur om na Bessie om te sien. Bessie wonder hoekom haar ma hierdie feite vir haar weggesteek het. Hoekom sou sy wou hê Bessie moes nooit enige iets oor haar pa weet nie? Bessie gooi die komberse van haar af en klim uit die bed. Sy gaan staan voor die venster en loer deur die gordyne. Stadig maar seker is dit besig om lig te word.
Later die dag, tydens tweede pouse, bevind Bessie haarself voor die kunsklas se deur. Versigtig kyk sy rond of iemand haar sien en toe sy seker is niemand is in die omtrek nie, maak sy die deur versigtig oop en glip in. Kinders mag nie tydens pouses in die klaskamers wees nie. ’n Skoolreël wat ingestel is om diefstal tydens pouses te voorkom, maar Bessie is nie hier om te steel nie, sy kom kyk. Sy wil kyk presies wat daar alles in die klas is. Sy het weer gedink oor die kunseisteddfod en besluit om aan ’n projek te begin werk. Sy sal dit aanpak en voltooi, maar dit is nie te sê sy gaan dit instuur nie. Daaroor sal sy eers baie mooi dink, maar sy sal solank werk aan iets. Bessie loop deur die klas, maak kaste oop en toe. Daar is baie kwasse, verskillende verwe en papier. Daar is wye verskeidenheid van blou waarmee sy ’n water tema portert kan verf. Die opgewondenheid bruis weer in haar lyf. Nou moet sy net besluit wat presies sy gaan verf.
In die laaste periode van die dag, kry Bessie ’n idee vir die kuns eisteddfod. Sy wil ’n stormsee skilder. Met branders in blougroen en wit skuim wat die prentjie afrond. Die agtergrond sal donkergrys wolke wees. As iemand vebry haar prent stap, moet hulle die storm kan voel, die see kan ruik. Bessie glimlag. Sy kan nie wag vir detensie periode om aan te breek nie en toe die huistoegaan klok lui, loop sy so vinnig as wat haar bene haar kan dra na die kunsklas toe. Sy loop stroomop teen die groot groep kinders wat in die teenoorgestelde rigting loop om huis toe te gaan. Hulle gaan na huise toe waar liefdevolle ouers hulle inwag om aan hulle aandag te gee en te gesels oor die dag se gebeure.
Sy het nie ’n huis nie. Sy het nie ’n ouer nie, maar op hierdie oomblik steur Bessie haar nie daaraan nie. Sy het die kunsklas vir haarself en sy het ’n goeie idee waaraan sy so gou moontlik wil begin werk.
Teen vyfuur daardie middag laat ’n klop aan die deur Bessie skrik en opkyk. Sy het nie besef hoe vinnig die tyd verbygegaan het nie. Die skool se opsigter staan voor die deur en kyk na haar. Bessie kyk op die klas se horlosie teen die muur en besef hoe laat dit is. Die opsigter is besig om die klaskamers toe te sluit. Sy sal moet oppak, maar sy is nou so lekker aan die gang. Sy het glad nie lus om op te pak en huis toe te gaan nie. Sy sien die opsigter omdraai en hoor hom met iemand praat. Sekondes later maak juffrou Malherbe die klasdeur oop. Die opsigter staan agter haar. “Bessie! Genade kind, wat maak jy nog hier?” vra juffrou Malherbe. Bessie kry snaaks vir die verbaasde uitdrukking op die juffrou se gesig. “Ek het begin verf aan iets, Juffrou. Ek het nie besef dit is al so laat nie, jammer.” sê Bessie. Juffrou Malherbe loop nader na Bessie toe.
Bessie sluk hard. Sy voel bietjie senuagtig, want sy wonder wat juffrou Malherbe se reaksie gaan wees. Sy kyk af na die projek waarmee sy die afgelope drie ure besig was. Die stormsee toneel wat sy ingedagte gehad het lê oopgesprei op ’n groot stuk papier en word omring met potjies verf wat oopstaan, kwasse en verfspatsels. Juffrou Malherbe kom staan langs haar. “Goeie genade! Bessie, het jy dit alles vandag gedoen?” vra sy verbaas. “Ja, Juffrou.” antwoord Bessie. “Sjoe, dis pragtig. Wat gaan jy daarmee doen?” wil juffrou Malherbe weet. Die opsigter by die deur maak sy keel skoon. “O ja, jammer Alfred.” sê sy vir die man. “Alfred wil die klaskamer sluit, Bessie. Is die verf al droog?” Bessie knik. “Meeste daarvan, ja.” antwoord sy. “Nou toe,” sê juffrou Malherbe. “Pak gou hier weg en maak skoon. Ek wag vir jou en dan help ek jou om die prent huis toe dra.”
Bessie pak die verf weg en maak die kwasse skoon. Versigtig loop sy en juffrou Malherbe met die halfdroog skildery tussen hulle huis toe. “Kom ons sit dit eers hier op die kombuistafel sodat dit behoorlik droog kan word.” sê Juffrou Malherbe toe hulle met die prent by juffrou Malherbe se huis inloop. Toe hulle dit op die tafel neergesit het, staan juffrou Malherbe terug en kyk daarna. “Bessie, ek kan nie glo jy het in ’n kwessie van ’n paar uur hierdie pragstuk voltooi nie.
Waar het jy geleer om so te skilder?” Bessie trek haar skouers op. “Niemand het my geleer nie, juffrou. Ek teken maar so wat in my kop opkom.” sê Bessie.
“Dit is ongelooflik, Bessie. Ek dink nie jyself besef watter groot gawe jy het nie. Sjoe, maar Bessie, beteken hierdie dat jy tog aan die eisteddfod gaan deelneem?” vra die juffrou. “Ek weet nie Juffrou, ek sal nog daaroor besluit.” antwoord Bessie.
“Kan ek nou maar na my kamer toe gaan?” vra sy.
“Natuurlik.” antwoord juffrou Malherbe. Bessie is dankbaar om uit die kombuis weg te kom. Sy sien nie nou kans vir ’n gesprek oor die eisteddfod nie.
’n Rukkie later is daar ’n klop aan Bessie se kamerdeur. “Kom maar binne.” sê Bessie. Juffrou Malherbe loer om die deur.
“Pla ek?” vra sy.
“Nee, glad nie.” sê Bessie en maak die swart boek op haar skoot toe. Juffrou Malherbe sien dit. “Ek het nie geweet of jy reeds ’n Bybel het nie.” sê juffrou Malherbe. “Toe ek jou Maandag by die woonstel gehelp het om in te pak, het ek opgemerk dat daar nie een tussen jou bagasie was nie.” Bessie kyk na die boek.
“My ma het een gehad, maar ons het nooit daaruit gelees nie en ek weet nie waar sy dit gebêre het nie.” Juffrou Malherbe kom sit langs Bessie op die bed.
“Het jy al in dié een begin lees?” vra sy vir Bessie. Bessie skud haar kop.
“Ek weet nie waar om te begin nie.” antwoord sy.
“Begin by die begin.” sê die juffrou en glimlag. Bessie kyk na haar.
“Sal Juffrou Vrydag saamgaan na my ma se begrafnis toe?” vra sy.
“Maar natuurlik.” antwoord juffrou Malherbe.
“En as ons na die tyd met my pa praat, sal Juffrou ook bywees, asseblief. Ek hou nie rêrig van mevrou van Eyk nie.” Juffrou Malherbe begin lag. “Ja, sy is nogal ’n vreemde skepsel. As jy wil hê ek moet bywees en mevrou Van Eyk het nie daarmee ’n probleem nie, sal ek bywees as jy met jou pa praat.” sê juffrou Malherbe. Bessie sit die boek langs haar op die bed neer en gooi haar arms om die juffrou se lyf. “Dankie, Juffrou.” sê Bessie.
Vrydag kom baie vinniger as wat Bessie gedink het. Sy staan voor die spieël in haar kamer. Sy moet klaarmaak vir haar ma se begrafnis, maar sy weet nie wat om aan te trek nie. Wat trek mense aan na begrafnisse toe, wonder Bessie.
Sy krap vir ’n rukkie in die klerekas en besluit dan op ’n ligblou rokkie. Sy kam haar blonde krulle uit en bind dit vas in ’n lang dik vlegsel wat oor haar skouer hang. Toe sy klaar is, gaan staan sy weer voor die spieël. Dit sal doen, dink Bessie terwyl sy na haarself kyk. Bessie pers haar lippe op mekaar. Sy was nog nooit by ’n begrafnis nie en sy weet nie wat om te verwag nie. Sy is net baie dankbaar dat juffrou Malherbe saamgaan.
“Ek is gereed, Juffrou.” sê Bessie toe sy die kombuis inloop. Juffrou Malherbe staan en drink koffie terwyl sy boodskappe op haar selfoon nagaan. Sy het ’n lang swart rok aan met swart hakskoene wat daarby pas. Vir Bessie lyk sy beeldskoon, soos ’n prinses in ’n feëverhaal. Juffrou Malherbe kyk na Bessie.
“Jy lyk pragtig, Bessie.” sê sy en sit haar koffie neer. “Ons kan maar ry.”
Sy volg juffrou Malherbe by die huis uit en na die motorhuis toe. Hulle ry in stilte kerk toe. Toe hulle voor die kerk stilhou, vat juffrou Malherbe Bessie se hand. “Dit is vandag ’n baie hartseer dag, Bessie. Maak nie saak wat gebeur nie, ek is hier vir jou.”
Bessie en juffrou Malherbe loop die kerk binne. Dit is net sy, juffrou Malherbe, die dominee en nog twee mense; mevrou van Eyk en ’n vreemde man wat Bessie nog nie van te vore gesien het nie. Bessie wonder of dit haar pa is. Hulle sit in die tweede ry van voor. Juffrou Malherbe fluister vir Bessie en vra of sy by hulle wil gaan sit, maar Bessie skud haar kop. Sy en juffrou Malherbe skuif ’n paar banke agter mevrou van Eyk en die vreemde man in.
Die diens duur nie baie lank nie. Binne ’n halfuur is alles verby. Die vreemde man voor Bessie het heeltyd voor hom gekyk. In die tyd wat die dominee gepraat het, het sy aanmekaar probeer loer hoe hy lyk, maar tevergeefs. Toe die dominee amen sê en die kerkorrel ’n baie stadige lied begin speel, staan almal op en beweeg by die kerkgebou uit. Bessie bly sit vir ’n rukkie. Sy wil sien hoe die man lyk. Hy staan op en draai om. Bessie frons. Hy lyk nie naastenby soos sy hom voorgestel het nie. Sy het gedink hy sal min of meer soos sy lyk, blonde hare of bruin oë, maar die donkerkop man se oë is blou en hy lyk ook heelwat ouer as wat Bessie gedink het hy gaan wees. Sy wag tot die man en mevrou Van Eyk by die deur uitloop voor sy oopstaan en hulle volg.
Bessie soek met haar oë na die vreemde man toe sy buite kom. Sy sien hom en mevrou Van Eyk gesels. Juffrou Malherbe is besig met ’n selfoonoproep ’n entjie weg van hulle. Mevrou van Eyk gewaar vir Bessie en wink vir haar om nader te kom. Bessie se hart begin vinniger klop. Is dit die oomblik waar sy haar pa vir die eerste keer gaan ontmoet? Haar bene voel swaar toe sy na mevrou Van Eyk en die vreemde man toe loop. Bessie kyk na die man wat vir haar glimalg. “Goeiemôre Bessie.”groet mevrou van Eyk. “Hierdie is meneer Hans Meyer, die begrafnisondernemer.”
Dit voel vir Bessie of iemand haar in die maag skop. Die vreemde man is toe nie haar pa nie. Sy het aangeneem dit is haar pa wat nog die heeltyd saam met mevrou van Eyk is. Daar was niemand anders in die kerk waarvan Bessie weet nie, dit beteken dus haar pa het nie opgedaag nie. Meskien het hy uiteindelik besluit hy wil haar nie sien nie. Die teleurstelling groei groter binne Bessie en die hardloop krap weer aan haar bene. Mevrou van Eyk praat en praat. Die Hans-oom luister aandagtig, juffrou Malherbe is steeds op haar selfoon besig en Bessie wil nie langer hier wees nie. Sy draai om en sien die kerk se deur staan nog oop. Daar binne in ’n houtkis, lê haar ma. Bessie voel hoe haar bene haar terugvat in die kerkgebou in, reguit na die houtkis toe, maar Bessie gaan skielik staan. By die houtkis staan ’n man, sy rug is na Bessie gedraai. Toe hy hoor dat daar iemand agter hom is, kyk hy oor sy skouer na Bessie. Bessie trek haar asem skerp in. Die blonde man wat na haar kyk het presies dieselfde bruin oë as sy!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.