Jongste aktiwiteit:

Bessie (Deel 3)

Bessie se Maandag gaan stadig verby. Niemand praat met haar nie en dis asof die onderwyssers ekstra kwaai is met haar, maar Bessie trap mooi in haar spoor. Sy praat met niemand nie, sorg dat al haar werk gedoen is en sy teken nie een prentjie in haar klaswerkboeke nie. Gedurende haar twee pouses probeer sy soveel moontlik van die vorige week se agterstallige Wiskunde opdrag voltooi. Sy vorder so vinnig met dit dat toe haar eerste dag se detensie aanbreek, sy binne ’n halfuur klaar is met die hele opdrag. Nou lê sy op haar arms en wag dat die laaste halfuur verby moet gaan. Sy wonder of sy nog steeds die res van die week ook elke dag na skool moet bly. Haar werk is mos nou op datum én sy het vir juffrou Visser omverskoning gevra. Tensy die straf ook tel vir wat sy aan Rentia gedoen het, maar juffrou Malherbe het niks eens oor die insident genoem nie. Dalk het Rentia nie daaroor gaan kla nie.

Toe die detensie-uur verby is, kan Bessie nie vinnig genoeg by die huis kom nie. Vandag loop en skop sy nie klippies nie. Sy stap met vinnige treë die entjie huis toe. Tenspyte dat sy so opgesien het na hierdie dag en al die moeilikheid wat sy gedink het sy gaan kry, was dit eintlik nie so sleg nie. Sy hoop haar ma se eerste dag by die nuwe werk het net so goed verloop. As sy maar net hierdie werk langer as ’n maand kan hou, sal Bessie baie trots wees op haar. Bessie raak moedeloos as sy dink aan hoeveel keer haar ma al in die afgelope jaar afgedank is. En dis altyd dieselfde ou rede. Drank. Raak haar ma dan nooit moeg van drink nie? Is sy nie skaam om dronk werk toe te gaan nie? Bessie wens sy kon haar ma help, maar al wat sy kan doen, is praat en preek en Bessie weet haar ma luister nie rêrig na wat sy te sê het nie.

Honderd treë van die rooidakhuis gaan Bessie staan. Die groen Escort is nie in die oprit nie, maar dit het sy verwag, want haar ma is mos by haar nuwe werk. Wat haar wel pla, is die twee vreemde voertuie wat voor die huis geparkeer staan. Die een voertuig ken sy glad nie, die ander een is ’n polisiemotor. By die twee voertuie staan twee vrouens en ’n man. Die man en ’n vrou het polisie uniforms aan. Die ander vrou is juffrou Malherbe, die skoolhoof. Bessie voel ’n krieweling in haar binneste. Die twee vrouens sien haar en kom stadig nader geloop. Op hulle gesigte kan Bessie sien iets is groot fout. Sy wonder of dit met Rentia te doen het en die krieweling in haar lyf word erger.
Die twee vroue kyk na mekaar en knik. Die polisievrou gaan staan. Juffrou Malherbe kom alleen nader tot sy voor Bessie staan. Sy sit haar hand op Bessie se skouer. “Ek is jammer, Bessie.” begin sy. Bessie voel hoe die krieweling bedaar en haar hele lyf lam word. Haar ore suis sodat sy dink sy droom wanneer sy juffrou Malherbe se woorde hoor. “Jou ma was in ’n ongeluk. Sy het dit ongelukkig nie oorleef nie.”




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

5 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Wilma het n geregistreerde lid geword

  • Carlien Lid se profiel foto het verander

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak